Algemeen -

2020: Die jaar is steeds op die kalender

Mede-inperkingstryders

Het jy al in jou spore gestop en vir ’n oomblik gewonder of daar nie dalk iets spesiaals aan hierdie jaar is nie? Ek praat nie van enige spesiale betekenis en voorspellings wat deur doemprofete gemaak word nie, maar iets spesiaals wat jy jou lewe lank al voor wag.

Dis ’n jaar wat ons met groot ongemak aanpak; ’n jaar wat ons pynig en benoud maak. Dis ’n jaar waarin ons soos ’n stuk deeg deur ’n bakker gevat word en met ’n koekroller gerol word en dan in sy hande geknie en gevorm word sodat ons rys terwyl ons geforseer word om te groei. Ons neem nuwe vorm aan en word hernu.

Hierdie jaar het ewe skielik tot ’n stilstand gekom en alhoewel dit ook verwoesting saai is daar ’n stilte wat ons moet aangryp. Tussen die normale gejaag van die lewe kom ons nie by die belangrikste dele van wie ons is uit nie. Stilte beteken vir my dat ek na myself kon luister en dat ek weer kon besin oor wie ek is, wie ek wil wees en waarheen ek op pad is.

Hierdie is dalk ’n eenmalige kans wat ons as mensdom het om te herbesin oor aangeleenthede wat ons op ’n nuwe koers kan plaas. Vra jy ’n jongmens oor tyd, dan is daar nog baie. Vra jy ’n ou afgetrede oom of tannie, dan is die tyd min. Ek kan nie help om te vermoed dat ouer mense sal saamstem dat indien daar een ding is wat ons meer van kort, dit tyd sal wees nie.

Indien ons dit dan eers so laat in ons lewens besef, is vanjaar die ideale tyd om meer daarvan te skep. Ek praat nie van goeie wense en voornemens wat soos wensdenkery na ’n week by die deur uitvlieg nie. Ek praat van ’n radikale stap waar ons met ’n vergrootglas na ons eie lewens kyk. Ons moet kyk waarom en wat ons najaag. Ons moet kyk wat die koste is van al die dinge wat ons daagliks aanpak – ek klink soos ’n omgewingsaktivis wat vir die aarde baklei (moet dit egter nie uitsluit nie) – maar my eintlike bedoeling is die koste wat dit uitmaak aan ons as mense, families en gesinne. Die gejaag en strewe na die volgende bestemming en doel in jou lewe wat jou dalk dan gelukkig sal maak kom met ’n prys. Hoe het dit jou verander? Het dit die mense in jou lewe beïnvloed en indien dit het, is die resultate meer positief of negatief?

Jy sien, ons moet verander. Die normaal wat ons aan gewoond geraak het was ’n ongesonde normaal. ’n Normaal waarin ons vasgevang was in ’n dodelike roetine wat bestaan het uit ’n dolle gejaag. ’n Roetine van opgaar en ’n strewe na kwansuise geluk. Die idee dat die volgende werk, die volgende duur motor of groter huis, die volgende Instagram-foto wat meer hartjies gaan kry, die volgende verhouding of die volgende bestemming jou ’n gelukkiger mens gaan maak. Die egte fopnuus staar ons al só lank in die oë, maar ons is te besig om na gewilde bemarkingsboodskappe te kyk om dit raak te sien.

Hierdie jaar is die belangrikste jaar van almal. Dit is die jaar wat ons as ’n samelewing weer ’n gemeenskap moet word. ’n Gemeenskap van gewone mense wat besef dat ons afhanklik is van mekaar en dat ons vir mekaar moet, kan en mag omgee. ’n Jaar waar jy steeds kan werk, jou loopbaan en jouself kan verbeter, maar waar ons prioriteite verander en die orde van hoe ons dinge doen in lyn is met dit wat vir elke individu belangrik is, maar waar ons ook die mense wat deel van ons gemeenskap vorm, in ag neem.

Ons almal is skuldig daaraan dat ons dinge as vanselfsprekend aanvaar. Ons put nie net die aarde uit in ons pogings om groter, vinniger en makliker te leef nie, maar ons put onsself uit in die proses wat vermom word as vordering.

Is groter, vinniger en makliker werklik wat ons as ’n gemeenskap nodig het of is dit nie juis die teenoorgestelde wat ons benodig om weer onsself te vind en alles in balans te geniet nie?

2020 kan ’n jaar wees waarin ons ’n mikro-stap neem, wat ’n klein tree vir die samelewing is, maar ’n groot stap vir elke gemeenskap kan wees.

Dié jaar is nie gekanselleer nie en hy is steeds op die kalender. Waarheen tree jy en hoe lyk jou 2020-visie?

  •  
  •  
  •  
Reon Janse van Rensburg Deur Reon Janse van Rensburg


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close