Algemeen -

As Superrugby ʼn aanduiding is, gaan die Bokke weer sukkel

Behalwe vir die Lions en dalk ook die Sharks, is vanjaar weer besig om ʼn droewige een vir Suid-Afrikaanse spanne in die Superreeks te word. Daar was groot verwagtinge van die Stormers ná hul vroeë suksesse, veral op hul tuisveld. Maar die wiele het behoorlik in Nieu-Seeland afgekom en hulle het meer as 50 punte teen beide die Highlanders en Crusaders afgestaan en meer as 40 teen die Hurricanes. Dit is ʼn behoorlike ontnugtering en wys ook dat jy nie ʼn span oor Desember kan regruk nie. Dis ʼn tydsame en moeisame proses.

 

Die Suid-Afrikaanse spanne sukkel nou maar een maal om balans in hul spel te kry. Die Stormers het gesamentlik 17 drieë teen die Crusaders en Highlanders gelek. Toe besluit hulle hulle gaan grootliks net die dodelike Hurricanes lak en vat omkeerbesit af leef. Dit het slegs beperkte suksesse opgelewer en die Hurricanes het sewe drieë teenoor die Stormers se skamele een gedruk. Daar was nooit regtig twyfel oor wie sou wen nie en die Hurricanes het duidelik ook ‘n stadige aan beleef.

 

Ditto die Bulle. Mens kan nie regtig agterkom wat hulle probeer doen nie en hulle is duidelik vasgevang tussen twee spelstyle, waarvan hulle nie een regtig goed doen nie. Hulle kom ook sleg tweede teen die Nieu-Seelandse spanne en selfs Suid-Afrikaanse opposisie.

 

Die Cheetahs en Kings het vriend en vyand die afgelope paar weke verras nadat hulle die voorlopige doodstyding oor hul deelname aan Superrugby gekry het. Maar ofskoon die Cheetahs soms asembenemende rugby speel en veral groot voorspronge teen gedugte spanne in die eerste helfte opbou, val als uitmekaar in die tweede helfte en hul verdediging haper steeds. Kortom, hulle wen steeds nie veel nie en hulle speel met emosie as dryfveer. Dit kan nie as ʼn langtermyn-verbetering gesien word nie.

 

Die Kings het wel die Waratahs en Rebels geklop, maar dit moet in konteks gesien word. Australiese rugby is waarskynlik die laagste wat dit al ooit was. Hul wenpersentasie is ʼn erbarmlike 25% vanjaar en selfs die Waratahs, wat 2014 se Superkampioene was, is duidelik in ʼn diep groef. Die Rebels is nou waarskynlik die swakste span in die reeks. Die swakste Kiwi-span, die Blues, het onlangs met die beste Australiese span, die Brumbies, afgereken. Dis iets om in gedagte te hou en dis ons (skrale) troos dat die Aussie-spanne tans vrotter as ons sʼn is.

 

Die Sharks doen weliswaar goed en in Robert du Preez het hulle ʼn behendige afrigter wat gesag afdwing. Maar hulle speel ook vanjaar slegs teen die Australiese en Suid-Afrikaanse spanne, sowel as die Jaguares en Sunwolves. Hulle het verlede jaar grootliks sleg tweede gekom teen die Nieu-Seelandse spanne gekom – veral in die kwarteindronde teen die Hurricanes nadat hulle hulle vroeër in die poelrondes geklop het.

 

Die Lions is die enigste SA span wat min of meer al die boksies afmerk en is ons Hurricanes. Hulle hardlooplyne is manjifiek en hul vaste fasette is gedug. Hulle het indiwiduele briljantheid, maar is ook gemaklik om die onskouspelagtige dinge goed te doen, soos om vir lang periodes druk deur verdediging te absorbeer. Hulle het ook al die derde meeste drieë vanjaar gedruk, maar speel heeltemal anders as die res van ons spanne.

 

Waar los dit die Springbokke? As Superrugby enige aanduiding van nasionale sukses is – en dit is gewoonlik – gaan vanjaar ten beste effense verbeteringe toon. Daar is nuwe hoop vanjaar dat die toevoeging van Brendan Venter en Franco Smith sekere verbeteringe op die aanval en verdediging sal toon en ek glo dit sal. Maar dit sal steeds beperk wees. Hierdie afrigters moet ʼn uniforme manier van speel in ʼn kort tyd aan spelers uit verskillende Superspanne probeer afdwing. Dit gaan nie sommer gebeur nie en dinge gaan weer taamlik haper vanjaar. Vra maar net vir Robbie Fleck.

 

Daar is ook steeds nie uitsluitsel oor sekere spelers en kombinasies nie. Aan die einde van laas jaar was dit steeds nie duidelik wie die Bokke se senterkombinasie gaan wees nie, of wie die beste skakelpaar of agterste driehoek is nie. Daar is ook groot vraagtekens oor ons lostrio. Hierdie is gewigtige sake waarvoor daar steeds nie regtig antwoorde is nie. Die toevoeging van senior spelers soos Bismarck du Plessis en Frans Steyn moet geloof word, maar of hulle binne ʼn gebrekkige spelpatroon groot verskille sal kan maak sal eers gesien moet word. Ons kort heelwat ander oorsese spelers ook.

 

Eerste op die spyskaart is die Franse in Junie. Hulle is geensins Europa se beste span nie, maar het ook nie sleg in die Sesnasiesreeks vertoon nie. Hulle is al ʼn hegte eenheid (iets wat die Bokke geensins is nie) en is tans baie fisiek en kan dalk net die Bokke verras.

 

Daarna is dit die Rugbykampioenskap. Die Jaguares is vermom as die Pumas en gaan teen dan al baie speeltyd in die Superreeks as ʼn span agter die blad hê. Die Bokke kan hulle en die Wallabies dalk in Suid-Afrika klop, maar dis te betwyfel of dit oorsee gaan gebeur. Die All Blacks gaan vanjaar die beste voorgereg denkbaar vir die Rugbykampioenskap kry deur baie speeltyd teen die Britse en Ierse Leeus (BIL) te kry. Niemand gaan hulle in die Rugbykampioenskap klop na hierdie formidabele toetse nie. Die gaping tussen hulle en almal anders is in elk geval so groot dat die kans op ʼn sege bitter skraal is.

 

Aan die einde van die jaar wag die gedugte Ierland, wat ʼn groot deel van die BIL uitmaak, sowel as Frankryk en Italië. Ons kan onsself maar weer vir ʼn wenpersentasie van minder as 50% gereed maak vanjaar. Maar vir die sewende beste span ter wêreld is dit seker genoeg.

  •  
  •  
  •  
  •  
Dr. Eugene Brink Deur Dr. Eugene Brink


Leave a Reply

Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close