Algemeen -

5 redes hoekom ek dol is op Desembers

Vir baie mense is Desembers inderdaad moeilike en depressiewe tye.

 

Ek kan onthou as enkellopende was dit een van die moeilikste tye van die jaar gewees. Ek het die einde van die jaar, wanneer al my getroude vriende en familie weggaan, met groot angs en vrees bejeën en moes aan kreatiewe maniere dink om myself minder eensaam en ledig te maak. Ek het selfs partykeer aan my studies gewerk of gewone werk gedoen om net die tyd verby te kry en daarvan te vergeet dat nog ’n ongetroude jaar vir my tot ’n einde gekom het. Baie keer moes ek werk want dit was hoe die skofte ingedeel was en ek weet vir baie mense is dit elke Desember die geval.

 

Maar Desembers hoef nie sleg, neerdrukkend, vervelig en onplesierig te wees nie, selfs vir eensames, werkendes en ongetroudes. Daar is vele redes waarom ons die beste van Desembers, wat by uitstek tye van afwagting en terselfdertyd ook rus is, moet en kan maak. Hier volg my lys van hoekom ek dol is op Desembers en al hul aanhangsels:

 

1. Lees, lees en nogmaals lees!

Een van die dinge waaroor ek konsekwent spyt is aan die einde van elke jaar is dat ek te min gelees het. Nie dat ek dit doelbewus doen of in der waarheid heeltemal te min boeke gadegeslaan het nie, maar ek voel deurlopend dat ek nóg meer moes lees en minder TV kyk of tyd verwyl met dinge wat nie goed is vir my edifikasie nie. As ek nie werk nie, het ek egter nog my driejarige dogter en huishoudelik pligte wat my tyd en energie opneem. Desember, met sy ongeëwenaarde hoeveelheid me-time, is derhalwe perfek daarvoor om ’n nuwe boek, of selfs oueres wat al vir ’n wyle op die boekrak wag, nader te trek en iets wyser te raak of net vermaak te word.

 

2. Waardeer die natuur

Desembers bied ons ook tyd om meer in God se natuur te kom en dit te bewonder. Ons raak so besig en gestres gedurende die res van die jaar dat ons nooit stilstaan om werklik die Here se wonderwerk in detail te betrag nie. Daar is vir my min dinge so genotvol en ontsagwekkend as om Desembers langs die see te sit en net die uitgestrektheid van die oseaan te bewonder nie. Wie het al die visse daarin gemaak en hulle hul regmatige plek gegee? Wie hou als so in stand en in ewewig? Desembers bied weer tyd om filosofies oor sulke vrae te raak. Laat die natuur toe om jou te verkwik, waar jy jou ook al mag bevind.

 

3. Stiltetyd en gesinstyd

Deur die loop van die jaar bestee ek wel heelwat tyd daaraan om Bybel te lees, kerk toe te gaan, stiltetye te hou en te bid maar die gehalte daarvan is nie altyd op peil nie. Die druk van die lewe en verantwoordelikhede lei daartoe dat ons nie altyd werklike diepte in ons verhouding met die Here kan bewerkstellig nie. Desember is daarom ’n gepaste tyd vir my en jou om méér en béter tyd saam met Hom deur te bring. Dink aan al die wonderwerke en noue ontkominge in jou jaar en kom ons gee Hom dank.

 

Terselfdertyd is Desembers ook ideaal om ons gesinslewens weer op koers te kry. Deur die loop van die jaar is dit ’n oorlewingstryd net om als gedoen te kry en baie van ons gesinstyd is “meganies” in die sin dat roetines en pligte ons lewens en verhoudings rig. Desembers laat ons toe om met veel minder struktuur mekaar te “herontdek” en nuwe plesiere saam te geniet.

 

4. Dis Kersfees!

Ons as Christene weet dat Kersfees en 25 Desember as die gekose datum daarvoor, net simbolies is. Ofskoon ek self ontevrede is met hoe verbruiksgerig en verwronge Kersfees geraak het, is dit tog ’n wonderlike tyd vol opwinding, versierings en kanse om eers die sorge van die lewe agter te laat. Die Kersfees-atmosfeer en die viering van Kersfees bly vandag vir my net so genotvol en plesierig soos toe ek ’n kind was. Dit kom net eenkeer per jaar, so kom ons vier dit reg en geniet dit!

 

5. Gesondheid

Laastens bied Desembers my ook ’n fantastiese geleentheid om my fiksheidsdoelwitte op koers te kry. Vir my is oefening, veral gedurende vroeë oggende by die see of in ’n ander asembenemende plek, deel van my holistiese welstand. Vakansie-oefening verlig die stres wat ek gewoonlik in November en Desember opgebou het om spertye te haal en gee my ’n gans nuwe beskouing van die lewe en verfris gelyktydig my emosionele welstand.

 

Geseënde Kersfees en geniet julle Desembers voluit!

 

  •  
  •  
  •  
  •  
Dr. Eugene Brink Deur Dr. Eugene Brink


Leave a Reply

Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close