Aan elkeen wat die eerbare ding doen om te werk vir sy familie se onderhoud…

My opregte medelye in hierdie brandende, verwoestende tyd.

Ek is saam met elkeen hewig ontsteld oor die rillertonele wat afspeel in ons land. Ek dink aan elkeen wat nie sy werk kan verrig nie en ons het 'n afsku in die mense wat jou werkplek afbrand, plunder en verwoes. Ek veroordeel die onregverdigheid dat eerlike burgers werk en betaal vir hulle inkopies, terwyl die plunderaars nie uit hongerte kos steel om te eet nie, maar eerder baljaar met gesteelde televisies, yskaste en dies meer.

Hierdie tyd bewys weereens dat AfriForum, en soveel ander organisasies, se stryd om die wysigings aan die wapenwet te verhoed van kardinale belang is. Ek ondersteun die stryd wat hulle voer sodat wetgehoorsame Suid-Afrikaners met wettige vuurwapens hulle familie, hulle eiendom, hulle werkplek, en hulle gemeenskap moet kan beskerm.

Die gebeurtenisse bewys ook dat ons glad nie op die staat kan staatmaak nie. Behalwe vir die ekonomiese verwoesting wat die onluste bring, te midde van 'n tyd waarin die ekonomie krepeer, word die inperkingsmaatreëls wat ander besighede negatief raak, skielik irrelevant. Selfs gesondheidsorg en nooddienste word verhinder terwyl ons in die middel van 'n pandemie staan.

Ons kan, soos president Paul Kruger voorgestel het, wel in hierdie donker tyd die beste uit ons verlede neem en die toekoms daarop bou. Paul Kruger was self as elfjarige seun 'n Voortrekker by die bloedige Slag van Vegkop, en hy het toe later president van die ZAR geword en staan tot vandag toe bekend as “die vader van Afrikaner-nasionalisme”.

Ek dink daarom aan die Geloftekerk wat in Pietermaritzburg staan. Pietermaritzburg – met trots vernoem na die Voortrekkerleiers, Piet Retief en Gerrit Maritz. Ons voorouers se duur stryd was nie sodat ons vandag moet toekyk hoe alles wat hulle opgebou het, verwoes en verbrand word nie.

Ek dink aan die Anglo-Boereoorlog se verskroeide-aarde-beleid wat die Afrikaners met net rook en as gelos het. Ons het al vantevore met niks weer opgestaan.

Ek dink natuurlik ook aan die Groot Depressie (1929-1933) en hoe honger, arm Afrikaners hard gewerk het om 'n toekoms in ons land, Suid-Afrika, te bou.

Ek dink aan die Rebellie (1914) en die grensoorlog (1966-1989) waar Afrikaners getrou geveg het in die geloof dat hulle ons land beskerm.

Die Solidariteit Boufonds gaan dus, met die krag van die gemeenskap, steeds bou.

Ek wil graag hê jy moet jou familie, jou eiendom, jou werkplek en jou gemeenskap kan beskerm in hierdie tyd. AfriForum se beheerkamers en buurtwagte monitor die situasie landwyd en maak planne om die gemeenskappe te beskerm, indien nodig.

AfriForum het provinsiale veiligheidsgroepe op die gratis Telegram-toep, waarop daar elke dag om 08:00, 12:00, 16:0018:00 en 20:00 inligting oor die onluste uitgestuur word. Die publiek is welkom om by dié groepe aan te sluit.

Voltooi bloot die verifiëringsproses by https://t.me/AfriForumBuurtBot

Flip Buys, die voorsitter van die Solidariteit Beweging, en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het vandag 'n mediakonferensie gehou oor die onluste, want ons kan nie stilbly oor die geraas in ons geliefde vaderland nie. Kyk hier.
  •  
  •  
  •  
René Krüger Deur René Krüger


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close