Algemeen -

Aan my 18 jarige self en die jongmense wat vandag die pandemie trotseer

Deur Reon Janse van Rensburg

Die heel eerste ding wat jy vandag moet weet, is dat jy okei gaan wees. Ek wil ook vir jou vertel dat dit okei is om vandag gefrustreerd met die omstandighede te wees waar jy jou tans in bevind. Ek ken jou vrese en jou onsekerhede en ek kan jou belowe dat hulle nie minder met die ouderdom saam gaan raak nie. Dit is wel moontlik om te leer hoe om meeste van jou vrese te trotseer.

Is ek goed genoeg? Slim genoeg? Sal ek die regte toekoms kies? Sal mense van my hou? Sal ek van mysélf hou? Al hierdie vrae is heeltemal normaal. Jy gaan nog baie vrae hê en ek is nie seker of sommiges daarvan beantwoord sal kan word nie.

Ek het egter goeie nuus vir jou. Op 18 dink jy dalk dat jou lewe nooit gaan uitwerk nie en dat die omstandighede wat jy vandag beleef soos vyftig episodes van Days of Our Lives sal wees – ’n nimmereindigende storie waar die feeks in die sepie altyd ’n manier kry om haarself lewendig te hou en die hoofkarakter meer trane stort as wat sy praat. Die goeie nuus is dat jy nie die feeks of die hoofkarakter in Days of Our Lives is nie: jy is die hoofkarakter in jou eie storie.

Jou storie is nog ongeskryf. ’n Boek met leë bladsye, gereed vir koffiemerke, ’n klomp klein notas aan die kante wat later geensins sin gaan maak nie − dalk was dit nie belangrik genoeg om te onthou nie. Daar is goeie paragrawe, slegte paragrawe, bladsye wat jy dalk oorweeg om uit te skeur, en bladsye wat jy vir seker gaan uitskeur! Kyk net na al die wonderlike kort stories en die lang stories wat jy weer sal wil herleef. Al hierdie paragrawe, bladsye en hoofstukke maak slegs die begin van jou lewensverhaal uit.

Vandag, aan die begin van jou storie, dink ek wel dat jy eers ’n paar besluite sal moet neem wat ’n drastiese impak op jou toekoms kan hê. Dit mag dalk selfs jou lewe ’n ander koers laat inslaan.

Die eerste besluit is om kanse te waag. Jy gaan nooit weet waartoe jy in staat is as jy jou skip net in die hawe laat bly nie. Dink buite daardie veilige hawe-boks, selfs al beteken dit dat jy in storms gaan beland. Die beste plek om iets te leer is buite die gemaksone waarin jy jou hele lewe onnodig wil vasvang. Skryf daardie eerste boek, skryf in vir ’n sangkompetisie; doen wat jy nog altyd wou, maar te bang was om te doen. ’n Mens kan net een keer bang wees om iets te waag, maar vir ewig spyt wees dat jy nie die waagkans aangegryp het nie!

Die tweede besluit is om hard te werk. Altyd. Dit mag dalk nie die aangenaamste gedagte wees nie: dis vir seker nie so lekker soos om om saam met jou tjommies te kuier nie. Jy moet egter besef dat jy harder, slimmer en selfs vinniger as die mense om jou sal moet werk om raakgesien te word. Mense word raakgesien as hulle daardie ekstra myl stap. Dit kan selfs beteken dat jy myle ver sal moet stap om uit te kom waar jy wil wees.

Die derde besluit is om met die bleeksiele, oftewel die “nerds”, uit te hang. Hulle is die goeie ouens wat planne vir die toekoms beraam en verder as Vrydagaand dink. Die kans is goed dat jy later in jou lewe gaan besef dat jy eerder een van hulle moes wees. Die kans is boonop nog beter dat, indien jy nie een van hulle is nie, jy wel vir een van hulle sal moet werk.

Die vierde besluit wat jy moet neem, is om gróót te droom − selfs nog groter as die grootste Afrikaans is Groot-konsert wat nog ooit op die planke was! Hou egter liefs jou voete op die grond en wees realisties. Besluit wat jy met jou lewe wil maak, maar maak tog seker dat daar ’n plek vir jóú is in dit wat jy wil doen. Dit help nie dat ons almal beroemd wil word as daar maar net soveel plek op ons gunstelingkanaal se programlys is nie. Kies ’n loopbaan waar daar geleenthede is, waar die aanvraag groot is en waar al is die werk nie noodwendig die lekkerste is nie. Jy sal soms dinge moet doen waarvan jy nie van hou nie, maar dit sal jou die salaris bied om naweke te doen wat jy graag wíl, en nie slegs wat jy kán of móét nie. Vra jou ouers; hulle sal weet. Jy sal later agterkom dat hulle die lesse ook op ’n kopstampmanier moes leer. Hulle preek dus nie, maar praat uit dure en waardevolle ervaring.

Die laaste besluit wat jy moet neem, of wat jy moet aanhou doen, is om baie te lag. Lag vir jouself. Lag omdat die lewe so kort soos ’n vuurhoutjie is wat uitbrand. Lag omdat ’n mens nie lank kwaad kan bly nie. Wanneer jy die lewe en jouself te ernstig opneem, raak ’n mens vinnig oud. Wees eendag ’n oumens met plooie van te veel lag, maar wees vandag al jouself!

  •  
  •  
  •  
Reon Janse van Rensburg Deur Reon Janse van Rensburg


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close