Paul van Deventer – Besturende Direkteur (links) wens Charl geluk. Regs is Philip Minnaar – Waarnemende Hoof van Sol-Tech.

Aanhouer wen: Dowe student én tolk kwalifiseer by Sol-Tech
Dit was 'n groot uitdaging – nie net vir Charl de Beer, Sol-Tech se eerste dowe student nie, maar ook vir Sol-Tech, wat glad nie voorbereid was om vir gehoorgestremdes klas te gee nie. Maar, met die hulp van sy “tutor-tolk”, soos hy sy vriendin Leana van Rensburg noem, het albei verlede jaar as elektrisiëns gekwalifiseer.

Kyk Stube video van toe hul  derdejaar was.

Waarom Elektries?

Volgens Charl se ma, Colleen, was Charl van sy kindertyd af versot op robotte. “Daar was in 'n stadium 'n reeks tydskrifte oor robotte. Elke week het jy nog 'n deel van die robot saam met die tydskrif gekry. Hoewel Charl nie Engels kon lees nie, het hy elke tydskrif gekoop en self uitgepluis waar wat moet kom. Ek het altyd geweet sy kop staan elektronika se kant toe,” verduidelik sy. Volgens Colleen moet 'n mens ook in gedagte hou waar daar tekorte bestaan. 'n Gehoorgestremde se kans om werk te kry, is reeds skraler as 'n normale persoon s’n, daarom moet 'n mens versigtig kies in watter rigting jy wil studeer as jy doof is.
                                                                                                          
Daarbenewens is dowes se woordeskat uiters beperk en daar is talle uitdagings wat oorkom moet word indien jy doof is en verder wil studeer. “Oorsee is dit makliker. Daar het elke dowe student twee klashulpe ‒ een wat tolk en een wat notas neem. By Suid-Afrikaanse universiteite word daar nêrens voorsiening gemaak vir dowes nie,” verduidelik sy. “Daarom moes Charl van rigting verander: van elektronika, na elektries. En só het ons by Sol-Tech uitgekom.”

'n Tutor-tolk

Leana van Rensburg is deur Charl se ouers aangestel om vir Charl te tolk. “Maar Leana was nie net Charl se tolk nie. Sy het self ook vir die kursus ingeskryf en saam met Charl geslaag. Sy het nie net getolk nie. Baie van die studiemateriaal is in Engels, 'n taal wat Charl glad nie kan lees nie. Leana het dus benewens die tolkwerk ook vir Charl notas in Afrikaans gemaak, notas wat ook sy gebrekkige woordeskat in ag neem,” voeg sy by. “Leana se ma was koshuismoeder by die Transoranje Skool vir Dowes en Leana het as’t ware met gebaretaal grootgeword. Daarom het sy die uitdagings waarmee Charl daagliks te doen gekry het, so goed verstaan.

Die pad vorentoe

Charl is baie lief vir reis. Hy was al in Amerika, waar hy twee jaar by die English Language Institute Amerikaanse gebaretaal (ASL) geleer het. Daarbenewens het hy ook al in Australië, Korea, Hong Kong, Taiwan, Spanje en Engeland getoer. “Hy reis altyd alleen. Horende mense verstaan in elk geval dikwels nie die taal in baie van dié lande nie en moet ook met gebaretaal oor die weg kom. Charl is baie goed om hom in gebare uit te druk,” verduidelik Colleen.

Charl beplan om sy studies in 'n elektronika-rigting voort te sit. “Die Sol-Tech-kursus het weer sy liefde vir motors laat opvlam. Nou soek ons 'n plek waar hy dié liefde kan onwikkel,” volgens Colleen.

  •  
  •  
  •  
Deur Moira Kloppers


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close