My geld -

Afgelê – hoe nou gemaak met finansies?

Deur Francois Smit

 

Solidariteit Finansiële Dienste was die afgelope tyd baie betrokke by Solidariteit-lede wat afleggings, hetsy vrywillig of nie, in die gesig staar en kom aanklop het vir advies oor die posisie waarin so ’n proses hulle kan plaas. Die gesprekke met die lede het my laat wonder oor die besigheidbeginsels van sommige van die maatskappye wat met sulke prosesse begin.

 

Die skrywer Jim Collins wy in sy boek Good to Great baie tyd daaraan dat 'n maatskappy wat die beste wil wees in dít wat hy doen, en die beste daarin wil bly, se heil begin by die leierskap van so ’n maatskappy. Dίt, tesame met die leier se vermoë om die regte mense aan te stel (nie af te betaal nie), asook om die regte mense in die regte poste te plaas, is die begin van die suksesresep. Hoe meer interaksie ons met die betrokke lede het oor die voorgestelde prosesse, hoe duideliker word dit hoekom die maatskappye wat die prosesse aanpak lankal nie meer suksesvol is nie. Collins noem ook in sy boek dat 'n maatskappy wat nougeset ’n gesonde kultuur handhaaf, se ‘goeie’ personeel met hul werk kan aangaan en nie bekommerd hoef te wees oor hul werk by die maatskappy nie. Weereens, uit die gesprekke met die personeel is dit duidelik dat hierdie maatskappye skouspelagtig faal.

 

Ek gesels met 'n dame wat 34 jaar diens by een werkgewer het. Haar afdeling werk met 'n derde van die personeel wat vyf jaar gelede daar was. Sy is halfses in die oggend reeds by die werk om die dag se beplanning weer na te gaan en seker te maak niks loop skeef nie. Sy werk baie dae 11 ure per dag met geen oortydvergoeding nie. Sy is 'n opregte, harde werker en ken die afdeling waar sy werk soos die palm van haar hand. Hoekom moet sy onseker wees oor haar pos en uit moedeloosheid dit oorweeg om 'n pakket te neem, wat haar saam met haar pensioenvoordeel 'n derde van haar huidige maandelikse inkomste gaan betaal?

 

Collins noem ook in die boek dat die beste mense geplaas moet word waar die grootste geleenthede binne die maatskappy bestaan. Ek het uit die gesprekke met ons lede agtergekom dat die beste personeel na al die probleemgebiede verplaas word en op die ou einde uitbrand. My vraag is: waarop stuur hierdie maatskappye af?

 

Hoewel Solidariteit Finansiële Dienste graag fondse onder bestuur wil plaas, is dit ons verantwoordelikheid om vir die lid ons beste onpartydige advies te gee. Dit doen ons eerstens deur vir die lid te wys wat die belastingimplikasies van die voorgestelde proses behels. Die aanvanklike enkelbedrae wat genoem word by sulke prosesse klink baie indrukwekkend, maar indien belasting in ag geneem word en daarna 20- tot 25-jaar-kontantvloeibeplannings gedoen word, met inagneming van inflasie, is die prentjie glad nie meer so rooskleurig nie.

 

Die uiteinde is dat SFD deur die hele proses slegs vir een lid, met 44 jaar diens by een werkgewer, die groen lig gegee het om met die proses voort te gaan, sou die lid dit wou oorweeg. Ek is van mening dat hierdie prosesse vir geen maatskappy in 'n beter sakeposisie gaan plaas nie. Eerstens kos die proses baie onnodige geld en tweedens gaan waardevolle vaardighede verlore.

  •  
  •  
  •  
  •  
Francois Smit Deur Francois Smit


Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close