Foto: Netwerk24
Uncategorized @af -

Afrikaans, die gerieflike slaansak

Foto: Netwerk24

Foto: Netwerk24

Dit is vir my alles maar net te toevallig. Die EFF dreig dat hulle die Universiteit van Pretoria se hoofkampus onregeerbaar gaan maak as Afrikaans as onderrigtaal by die universiteit nie teen 'n sekere datum afgeskaf word nie. Wat gebeur? Die bestuur van die universiteit swig skynbaar voor die brullende groep studente se eise.

 

Ek kan egter nie help om te wonder of die EFF nie dalk iewers gehoor het dat Afrikaans in elk geval by die universiteit afgeskaf sou word en toe die geleentheid aangegryp het om munt daaruit te slaan en dit as hul oorwinning aan te bied nie. Dit is egter ook so dat die UP se bestuur vir die soveelste keer ingegee het om aan betogende studente hul sin te gee.

 

My vraag is dus: Is die afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal by Tuks suiwer die toedoen van anargiste, of was dit in elk geval deel van die bestuur se ideologiese raamwerk? Is dit dalk ’n kombinasie van die twee? Sal ons ooit weet?

 

Hoe dit ook al sy, ek is van mening dat radikale politieke groepe se obsessie met die marginalisering van Afrikaans 'n goedkoop hou is. Afrikaans is ’n sagte teiken; dit is die taal van ’n minderheid wat op elke vlak van die samelewing gemarginaliseer word. Die EFF is al te gretig om op die vernietiging van Afrikaans te kapitaliseer. Die formule is eenvoudig – met elke hou wat Afrikaans toegedien word, kry die EFF nog 'n paar duisend ondersteuners by. Die gevolge van hierdie goedkoop, politieke magspel is dat Afrikaans en Afrikaners voortdurend die sondebok word vir alles wat in Suid-Afrika verkeerd loop. In die proses ly Afrikaans ook daaronder.

 

Dan is daar ook die media se vertolking van die gebeure op kampus wat een deel van die werklikheid weerspieël, maar 'n ander, belangrike deel uitlaat. Mediaberigte wil dit hê dat die geweld op kampus deur groeiende wrywing tussen wit en swart aangevuur word. Wat die berigte egter nie meld nie is dat ’n klein groepie studente by hierdie gevegte betrokke is. Die meerderheid studente – van alle rasse – wens die geweld en oproerigheid wil tot ’n einde kom sodat hulle met hul klasse kan aangaan.

 

Die tyd het aangebreek dat die brullende betogers besef teen watter prys hierdie betogings plaasvind. 'n Mens kan net so lank breek en brand en dan is daar niks meer oor om te breek en te brand nie. In die proses verdiep die gaping tussen wit en swart in die land boonop.

 

Terwyl ‘n klein radikale groepie breek en brand, sal Solidariteit aanhou om sy Afrikaanse universiteit vir diegene wat in vrede wil studeer (en dit in Afrikaans!) te bou.

  •  
  •  
  •  
Deur Inge Strydom


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close