Algemeen, Gemeenskappe, Kultuur -

Afrikaans: my moedertaal

Lank, lank gelede was Afrikaans net 'n droom. Gereduseer tot kombuistaal; die simbool van ongeletterdheid en barbaarsheid. Die taal was op 'n plek waar geen opvoeding hom sou kon tuis-maak om denke te vorm en gesofistikeerde leer van die wetenskap te bewerkstellig nie.

 

Maar Afrikaans was die droom van 'n besondere groep mense – hardkoppig, soms eiewys en taai; gevorm deur die elemente van hul omgewing en diegene wat die groep deurgaans wou onderwerp en gepoog het om hul bestaansreg te onderdruk. Met 'n hart vol geloof en 'n lyf vol veg het hierdie groep hulle verset teen onreg en hulle beywer om dít te beskerm waarvoor hulle lief is. En hul taal, Afrikaans, was dit waarvoor hulle die liefste geraak het.

 

Daardie vroeë gemeenskap het die droom van Afrikaans verwesenlik. Die gedrukte woord het gevloei en die praat van mense het hom tussen omslae en op voorblaaie kom vestig. Dit was nie meer 'n vuil taal beperk tot die kombuis of agterplaas nie. Dit het die taal van die geletterde en later die geleerde geword. Dit het die taal van die kerk geword. Dit het die taal geword waarin toekomsdrome en doelwitte verwesenlik is.

 

So het dit ook die taal van onderrig geword – die taal van A, B en C; van plus en minus; van Sus en Daan; en gevolglik die taal van prestasie.

 

Navorsing het telkemale al bewys dat moedertaalonderrig van die grootste voordele vir onderrig en leer inhou. Konsepte wat reeds lank voor skool vasgelê is, kan makliker in 'n abstrakte leerwêreld geïnkorporeer word wat beter begrip van die inhoud van 'n vak bewerkstellig. Lees en verstaan is net soveel makliker as jy nie voortydig met 'n taal gekonfronteer word wat nie jou eie is nie. Die ruimte om 'n dieper kennis op te bou wat die grondslag, nie net vir jou skoolloopbaan nie, maar ook vir jou beroepsloopbaan lê, is soveel groter.

 

Daar is 'n rede waarom Afrikaanse skole so goed presteer. Leerders leer in hul moedertaal. Hulle word reeds van kleins af aangemoedig om hulself in hul eie taal uit te druk. Toegewyde onderwysers en ouers werk saam om dit vir hulle moontlik te maak.

 

Dit is egter vandag 'n werklikheid dat ons taal weereens verskeie aanslae beleef. In wese leef ons in 'n Afrikaans-onvriendelike omgewing. Veral politici hits graag taal-rassisme aan en beeld Afrikaans graag uit as 'n entiteit wat die bose verteenwoordig.

 

Maar 'n taal kan nie boos wees nie. Dit kan wel goed wees. 'n Taal is ryk aan geleentheid. 'n Taal, wat doelbewus deur haar sprekers ontwikkel is, skep 'n ruimte waar kennis en vaardighede van die hoogste gehalte aangeleer kan word. Dit bevorder uitnemendheid.

 

Wat ons vandag met Afrikaans moet doen, is om vorentoe te droom, om die omgewing van Afrikaans te beskerm en om aan te hou om Afrikaans uit te bou sodat ons kinders deurentyd in Afrikaans en deur haar kan leer. Ons moet Afrikaans vry hou en aanhou om 'n veilige omgewing te skep waar ons kinders in hul kleurryke moedertaal kan aanhou leer, aanhou droom en uiteindelik voorspoedig kan wees.

  •  
  •  
  •  
Deur Johnell Van Vollenhoven


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close