Algemeen -

Afrikaans

Die taal waarin ek my Skepper leer ken en hy Homself aan my openbaar. Die taal waarin ek dans. Die taal waarin ek my gevoelens van verliefdheid in gedigte verklaar. Die taal waarin ek my hartseer op briewe neerpen. Die taal waarin ek my vreugde uitsing. Die taal waarin ek my gesin liefhet. Die taal waarin ek my studie bemeester. Die taal waarin ek verhoudinge bou. Die taal waarin ek deel in gesprekke oor die lewe. Die taal waarin ek myself ontdek en uitleef. Die taal waarin ek werk. Die taal waarin ek eet. Die taal waarin ek droom.

Afrikaans. My noodlyn waarsonder lewe nie moontlik is nie. Die vuur tot my gebede en die rede waarom “Amen” sin maak. Hoe kan ek “Laat U wil geskied” nié in Afrikaans hardop verklaar nie? Dit is onmoontlik. Ons Almagtige Vader het my geseën met 'n taal wat my lewenswysie laat sin maak en saak maak.

My medestudente sal saamstem, dat wanneer ons nie op 'n dansvloer besig is om te sokkie nie, is ons iewers besig om te braai en in ons taal te lag, te gesels en ons harte met mekaar te deel. Dit is die uitnodiging wat Afrikaans aan die jong mens bied – geselligheid, verhoudingsbou en seker maak jou voete mis nie 'n maatslag nie.

Op 'n ernstiger noot – ek is jonk en Afrikaans, maar wat beteken dit nou eintlik? Ek antwoord graag dié vraag met kragtige woorde soos, “uniekheid”, “identiteit”, “intensionaliteit” en “geloof”. Jy mag moontlik vra: “Dit is net woorde, wat daarvan?”. Wel, Afrikaans beklemtoon my uniekheid as jong mens – ek leef myself graag uit in my taal, hoe dan anders? Afrikaans gee aan my as jong mens identiteit in 'n wêreld wat huil as gevolg van 'n tekort aan identifisering met iets wat rigting bied. Afrikaans lei en rig my as jong mens om intensioneel te kan liefhê, deelneem en leef. Afrikaans versterk my geloof as jong mens in ons God – dit is die taal waarin Hy homself aan my openbaar deur sy woord en waarin ek my trane, my vreugdes en my alledaagse begeertes met Hom deel.

Om dit alles saam te vat, my Skepper het my met Afrikaans as taal geseën en juis daarom sal ek Hom daardeur eer en geen oomblik myself daarvoor skaam in 'n samelewing waar daar soveel ander tale ook heers nie.

Ek is jonk, ek is Afrikaans en ek deel met trots in die kultuur van “lekker”, “ons gaan nou braai”, “Ouma-beskuit”, “biltong, droëwors en rugby”, “koeksisters vir nagereg” én “moerkoffie op 'n Sondagmiddag”.

  •  
  •  
  •  
Deur Zoné Oberholzer


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close