Gemeenskappe, Godsdiens, Kultuur, Politiek -

Afrikaners is altyd een treetjie vooruit

Op 14 Oktober 2021 het Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, en Joost Strydom, uitvoerende hoof van die Orania Beweging, 'n debat oor die reg van Orania se bestaan gevoer. Dit het gekom nadat Lesufi op Twitter goedkoop “politieke punte” voor die plaaslike verkiesings wou aanteken toe hy 'n opmerking gemaak het dat Orania nie mag bestaan nie.

 

Lesufi se grootste struikelblok is dat hy nie-rassigheid voorstaan. Hy sê dat alle kinders van Suid-Afrika saam moet skoolgaan, speel en dans. As dit so rooskleurig was in die kamstige “nie-rassige” Suid-Afrika sou Afrikaners nie die moeilike taak aangepak het om op verskeie maniere vir kulturele bestaansreg te veg nie. Nee, as Suid-Afrika 'n nie-rassige land was sou Afrikaners gelyke geleenthede gehad het en nie gevoel het of hulle kulturele bestaansreg op elke front bedreig word nie.

 

Dit is hartseer dat Afrikaners, na soveel bloedsweet in hulle vryheidstryd sedert 1652, weer 'n keer moet bloedsweet om vry, veilig en voorspoedig in hulle vaderland te kan wees. Dan hoor ek Lesufi sê dat hy “een treetjie voor is” met allerhande snaakse idees om Afrikaners se strewe na 'n beter toekoms in die wiele te ry. Wat egter so verblydend is dat my hart uit my bors wil klop, is die feit dat Afrikaners diegene is wat werklik verstaan wat dit beteken om “een treetjie vooruit te wees.”

 

Weet jy hoe dit gevoel het om by die bekendstellingsfunksie van Akademia se nuwe verblyf te wees? Ek kry hoendervleis, maar my hart is terselfdertyd vuurwarm van trots. Ek hoor hoe Akademia groei, hoe hulle stewig in ons Christelike geloof gewortel is, en hoe hulle toekomshoop vir die Afrikanerjeug skep wat elders uitgeskop word. Ja, die woord “transformasie” is in die hedendaagse Suid-Afrika sinoniem vir diskriminasie teen witmense. Maar, moenie moed verloor nie. Afrikaners is inderdaad een treetjie vooruit! Nog voor elkeen van die ander universiteite Afrikaans totaal uitgeskop het, het Akademia ontstaan en is nou gereed om 'n akademiese tuiste, met 'n gesonde studentelewe, te wees.

 

En Sol-Tech staan tereg as 'n monument van hoop bekend. Laat dit insink: Die einste Lesufi se departement het tydens die Desember vakansie, R431 miljoen vermors om leë skole as gevolg van “Covid-19 te ontsmet”. Die Solidariteit Beweging, met die ondersteuning van die Afrikanergemeenskap, het R300 miljoen aangewend om 'n wêreldklas tegniese kollege te bou. Afrikaners is een treetjie vooruit.

 

Terwyl die minister van sport, kuns en kultuur, mnr. Nathi Mthethwa, op Erfenisdag 2020 gesê het dat die Afrikaner se kultuurerfenis in 'n “temapark van skande” geplaas moet word, neem die Afrikaner selfeienaarskap van ons erfenis. Besoek https://vtm.org.za/geloftefees/ vir slegs een voorbeeld wat jou hart sal laat klop vir die opnuut-aangevuurde trots waarmee Afrikaners hulle kultuur bewaar en bevorder. Ja, Afrikaners is een treetjie vooruit.

 

Alles verengels en Afrikaners voel soos vreemdelinge in hul eie land. Maar dan kom nuwe Afrikaanse instellings tot stand. Dink maar aan Virseker, waar jy versekering in jou moedertaal kan kry, of die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) wat die visie het om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te verseker deur te help om gehalte onderrig in stand te hou, en nuut te bou. Afrikaners is een treetjie vooruit.

 

Afrikaners behoort nie oor hulle kulturele bestaansreg in hulle vaderland te twyfel, wat hulle al vir 369 jaar lank help bou nie. Afrikaners is baie meer as een treetjie vooruit en daarom glo ek dat ons nog baie treetjies vorentoe ook ons voetspore in Suid-Afrika gaan los.

  •  
  •  
  •  
Deur René Krüger


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close