Algemeen, Gemeenskappe -

Alle heil die Afrikaanse skool

My dogter het onlangs met gr. R by ’n Pretoriase laerskool begin en ek en my vrou het die voorreg gehad om daar te wees.

Alles het onberispelik volgens skedule verloop, die kinders het hulself gate uit geniet en maatjies gemaak (wat reeds ’n goeie teken vir die jaar vorentoe is) en die geriewe is so goed soos die beste skole in die Eerste Wêreld. Die kinders se ouers het dit net soveel geniet en daar was ’n soort energie onder die kinders en onderwysers wat bykans tasbaar en heeltemal aansteeklik is. Die ouers en kinders se aspirasies is hemelhoog en daar heers ’n eenheid van gees en poging. Ek kan met niks minder as volslae lof en opwinding oor hierdie ervaring verslag doen nie.

Ek en my vrou het vroeër vanjaar sowat drie Afrikaanse laerskole in die omgewing tydens hul opedae besoek om vas te stel welke een die beste opsie vir my dogter sal wees. Ek moet erken dit was uiteindelik ’n bitter moelike keuse omdat almal uitnemend is. Op die ou einde was dinge soos logistiek die deurslaggewende faktor. Almal se voortreflikheid en gehalte is bo verdenking. My dogter sou andersins oral inpas en gelukkig wees.

My vrou hou toevallig skool by ’n Engelse openbare hoërskool. Daar is dinge aansienlik anders. Eerstens is die ouers nie juis betrokke nie en hulle laat eintlik hul kinders se opvoeding bykans uitsluitlik aan die onderwysers by die skool oor. Die kinders voel op hul beurt hulle is nie teenoor die onderwysers aanspreeklik nie omdat hulle nie hul ouers is nie. “Ek betaal jou salaris!” is die refrein wat menigmaal geopper word deur snuiters wat nog nie eens ’n dag in hul lewe gewerk het nie, waarskynlik later self as volwassenes werkloos gaan wees en wie se ouers self baie keer werkloos is en nie hul kinders se skoolfonds betaal nie.

Die verskil tussen Afrikaanse skole en die meeste ander skole in Suid-Afrika is die verskil wat die gemeenskap maak en die omvattende moeite wat deur almal gedoen word. ’n Kind daag nie sonder konteks by ’n skool op nie. Hulle is reeds tot ’n groot mate deur hul omstandighede en interaksie met hul gesinne, eweknieë, vorige leeromgewings en bowenal hul gemeenskappe gevorm voordat hulle by ’n skool aankom.

My dogter was byvoorbeeld reeds in ’n Afrikaanse kleuterskool en baie van haar maatjies gaan nou saam met haar gr. R toe. By die huis leer sy dissipline, respek vir ander mense en eiendom, om lief te hê en die waarde van werk sowel as speel (omtrent dieselfde waardes wat deur haar laerskool aangehang word en ook deur haar kleuterskool aangehang is). Ons stimuleer haar met speletjies en spoor haar aan om vroeg al aan oplossings vir probleme te werk. Vir al haar Afrikaanse maatjies, niggies en nefies is dit dieselfde en daarom word daar allerweë hoë standaarde gestel.

Haar laerskool (en later hoërskool) gáán haar potensiaal veel verder ontgin en ontsluit. My kind sál suksesvol wees later in die lewe. Ek twyfel nie vir een oomblik daaroor nie. Haar harde en sagte vaardighede sal van hoogstaande gehalte wees en verfyn word terwyl sy in haar moedertaal leer. Ek en haar ma kan die eer daarvoor opeis, maar dit sou oneerlik wees omdat sy so baie tyd weg van ons en in ander mense se sorg en geselskap deurbring. Haar gemeenskap, haar vriende en uiteraard haar skool en onderwysers speel almal ’n deurslaggewende rol. Skole is sekerlik die primêre instelling waar ’n gemeenskap skouers skuur, en Afrikaanse skole is by uitstek instellings wat kohesie en uitnemende leer in die hand werk.

Hierdie siening is nie bloot my mening nie. Dit word in die uitslae weerspieël. Die tien distrikte wat regoor die land as die beste ten opsigte van die matriekuitslae uitgelig is, is swaar gelaai met Afrikaanse skole en hulle het 'n deurslaggewende rol in die meeste van hierdie streke se prestasies gespeel. Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het op Twitter Afrikaanse Hoër Meisieskool se prestasie in die matriekuitslae van 2018 as voorbeeld van Afrikaanse skole se wêreldklas-aard beklemtoon: 77,26% gemiddeld, 100% graadvrystelling, 775 A’s en 3,52 A’s per leerling.    

Daarom verklaar ek onomwonde: Alle heil die Afrikaanse skool!

  •  
  •  
  •  
Dr. Eugene Brink Deur Dr. Eugene Brink


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close