Algemeen -

Alles is nog lank nie verlore nie

Dit is maklik om te dink dat alles verlore is. Die ekonomie het nou nog nie van 2020 se verliese herstel nie en nou het Rusland nog marakkas gemaak wat die hele wêreld op sy kop keer. Maar ondanks alles is daar nog baie geleenthede vir ontwikkeling in Suid-Afrika.

Die wêreld se beleggers is altyd op soek na nuwe beleggingsgeleenthede en dit is altyd makliker om die onderontwikkelde dele te ontwikkel as om 'n nuwe mark in 'n reeds ontwikkelde plek te soek. Boonop is bevolkingsgroei relatief laag, of selfs negatief, in die ontwikkelde wêreld. Die ontwikkelende of agtergeblewe wêreld het weer oor die algemeen jong, groeiende bevolkings. Daar is dus nie net 'n groot arbeidsmag nie, maar ook 'n groot aantal potensiële kliënte.

Anders as die meeste ander ontwikkelende plekke het Suid-Afrika uiters ontwikkelde stede. As jy in een van Pretoria se gegoede buurte bly, is jy beter daaraan toe as in bykans enige plek ter wêreld. Boonop het jy reuse-ontwikkelingsgeleenthede op jou voorstoep.

Dit is natuurlik alles in teorie. Die realiteit is dat jy stringe regulasies soos swart bemagtiging en allerhande arbeidswette het om deur te werk, en sodra jy dit agter die rug het en jy begin bou, as jy bou, daag die konstruksiemafia by jou perseel op. Dan moet jy eers 'n interdik kry wat die polisie dwing om hul werk te doen, en daarna moet jy derduisende betaal sodat private sekuriteitswagte permanent sal waghou. 'n Advokaat wat sulke sake behartig, vertel nou die dag dat 'n polisieman verlede jaar in 'n helikopter doodgeskiet is tydens so 'n onderonsie.

Maar tog is daar ontwikkeling. Mense reken al hierdie kostes in voordat hulle begin bou, en die werk word gedoen. As dit onmoontlik was, sou niemand iets hier doen nie. Ons sou nie enige nuwe ontwikkelings sien nie en alles sou tot stilstand kom. Vliegtuie sou vol weggaan en leeg terugkom.

Dit het nog lank nie gebeur nie. En as ons opkyk, vorentoe kyk en bou eerder as om te kerm, sal dit nooit gebeur nie. Die staat kan dit natuurlik baie makliker maak deur bloot uit die pad te tree, en waar hy wel intree, dit effektief en tot voordeel van ons almal te doen. Dit behoort nie nodig te wees vir die hof om die polisie te dwing om by gewelddadige betogings in te tree nie. Dit behoort ook nie nodig te wees om 'n groot deel van elke projek se begroting aan sekuriteit te bestee nie. En dit behoort ook nie nodig te wees om deur nimmereindigende wette en regulasies te grawe om uiteindelik iets op te rig of werk te skep nie. Dit behoort maklik te wees en die staat behoort dankie te sê.

Daarby moet ons onsself opnuut daaraan herinner dat ons Suid-Afrika is. Nie die ANC nie en nie die regering nie. En Suid-Afrika sê dankie vir almal wat bou. So laat 'n mens vooruitgang wen teen die verval.

Foto bron: Igor Starkov from Pexels

  •  
  •  
  •  
Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close