Allister Coetzee moet nou verplig word om te presteer

Geskryf deur: Eugene Brink


Dit was te wagte dat Allister Coetzee as Bok-afrigter behou is. Dit sou hopeloos te duur gewees het vir die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) om hom van sy kontrak vry te stel. R13 miljoen is verskriklik baie geld in ’n tyd wat deur besnoeiing, besuiniging en dalende inkomste op elke vlak gekenmerk word. En hoe verduidelik Saru dit ook nou aan hul grootbaas, Fikile Mbalula, dat hulle sy transformasiedoelwitte gaan teengaan deur vir Coetzee te vervang?

 

Ek kon egter nêrens enige inligting kry oor hoe lank Coetzee nou het om homself te bewys nie en dit bevestig net weer dat hy waarskynlik nog vir ’n wyle die hoofafrigter sal bly – ten minste tot sy aanvanklike kontrak uitloop of verstryk.

 

’n Paar welkome veranderinge is ook gemaak. Die onervare Mzwandile Stick is uitgeplaas na die Junior Bokke en so ook Chean Roux – onderskeidelik as agterlyn- en hoofafigters. Franco Smith vul Stick se plek as agterlynafrigter en Brendan Venter gaan waarskynlik binnekort hom as verdedigingsafrigter by die Bok-afrigtingskorps aansluit na afloop van die Sesnasies-reeks. Venter is tans Italië se lakmeester en te oordeel aan Italië se sukses daarmee, gaan hy heelwat waarde toevoeg by die Bokke.

 

Die vraag is egter watter vereistes daar aan Coetzee en sy span gestel word nadat sy kontrak ná die annus horribilis van 2016 hernieu is. Smith was reeds deel van die Bok-breierskorps tydens die katastrofale jaareind-toer en dit was kennelik te min tyd om werklik ’n verskil te maak aan ’n verwarde span wat ’n laagtepunt in terme van selfvertroue beleef het. Venter sal ook sy stempel gou afdruk en daar behoort redelik vinnig ’n verbetering aan die Bokke se deurmekaarspul-verdediging te wees. Selfs met Smith wat sy tyd tussen die Cheetahs en Bokke moet verdeel, sal hierdie skuiwe waarskynlik tot ’n kwalitatiewe verbetering lei.

 

Maar hulle gaan net Coetzee se hulpafrigters wees en nie hoef pa te staan vir nog ’n jaar se treurmare nie. Hy het dit egter duidelik gemaak dat hy en die Bokke beter voorbereid sal wees vanjaar nadat hy verlede jaar eers in April as breier aangestel is.

 

“We have no excuses for our poor performances of 2016. Even though last year was an extremely challenging season, our below par performances will never be acceptable and we will have to turn it around,” het hy volgens SA Rugby Mag gesê nadat sy kontrak hernieu is.

 

“Since the team’s return from the outgoing tour at the end of last year, my entire focus has been on planning for the 2017 season and onwards, and ensuring we show a marked improvement.

 

“At this time last year I was still to be appointed, but this time I have already been planning, holding meetings, preparation camps and fine-tuning logistics to ensure optimal performance. These plans were shared with the local franchise coaches in December and again on 15 February.”

 

Dit klink als baie positief en ek hoop van harte hy is reg, maar laas jaar se ervaringe moet egter in ag geneem word as hierdie stellings beoordeel word. As die Springbokke nog ’n frats-nederlaag teen Italië of ’n rekordnederlaag teen die All Blacks gely het, het Coetzee die ongehoorsame spelers, beserings, die uittog van gehaltespelers na die buiteland of die Suid-Afrikaanse stelsel blameer – en hierdie aspekte gaan nie vanjaar skielik en wonderbaarlik verander nie. Ons het week na week gehoor hoe die Bokke goed voorberei en hard gewerk het, net om dan weer te verloor. En dan begin die bose kringloop weer met Coetzee wat nie verantwoordelikheid aanvaar nie en weer leë beloftes oor die volgende wedstryd maak.

 

Met Smith wat nog besig is met Superrugby-pligte, Venter se kontrak wat allesbehalwe uitgemaak en gefinaliseer is en die feit dat daar steeds geen spesialis afbreekpunt-afrigter is nie, kan vanjaar se voorbereiding weer lelik skipbreuk ly, nes laas jaar. Die befaamde bloudruk wat in November vir SA rugby ontwikkel is en wat deur die bank deur die Superrugby-spanne toegepas moes word, is ook hopeloos te laat in werking gestel om vanjaar nog ’n noemenswaardige verskil te maak. En dis boonop geen wonderkuur nie.

 

Wie gaan dan die skuld kry as die Bokke se wenrekord weer treurig is? Jammer, Toetie, maar jou woord is net nie meer goed genoeg nie.

 

Saru moet eerder ’n kontraktuele streep in die sand trek en ultimatums stel. Daar moet op ’n stewige wenpersentasie ooreengekom word sodat daar hoog gemik kan word. Indien dit behaal word of net-net gemis word, kan hy aanbly. Maar om geen teikens in terme van seges te stel, ’n afrigter se kontrak onbepaald te verleng ongeag sy prestasies en dan ook rasseteikens na te jaag, is ’n bewese resep vir mislukking. Daar moet wesenlike gevolge vir wanprestasie wees – veral as jy ‘n span soos die Springbokke afrig.

 

Die rede hoekom die stadions leeg loop en die publiek gaandeweg belangstelling verloor en hul beursies toe hou, is omdat rugby en wen ondergeskik gestel is aan politieke doelwitte. Ons as ondersteuners het die hef in die hand en as Saru nie self op beter resultate kan aandring nie, sal ons dit met ons beursies moet afdwing.

 

  •  
  •  
  •  
  •  
Deel hierdie:

Leave a Reply

Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close