Algemeen, Gemeenskappe, Kultuur -

Almal wil mos kwaad wees oor iets

Woede – die kenmerkende karaktereienskap van die internet. Sonder om te veel daaroor na te dink kan ek daardie stelling maak. Voorts kan ek ook aanneem dat almal dit al óf eerstehands ervaar, óf sien afspeel het soos 'n filmtoneel, wat jy voor jou heilige siel weet chaoties gaan eindig, maar jy bloot net nie vanaf kan wegkyk nie. Dikwels gaan dié buitensporige woedeuitbarstings en blatante beswaddering net daaroor om mense uit te lok en 'n gehoor te kry. Snaaks genoeg is dit eintlik só eenvoudig om mense uit te lok, en daarby is daar ook 'n eenvoudige formule daarvoor. Dít is as volg:

  • Eerstens gaan ek met oorgawe en entoesiasme, net genoeg om jou te laat weet ek dink ek is slimmer as jy, praat terwyl my intonasie gaan wissel soos dié van ’n onderwyser wat jou uiteindelik betrap het – jy ken dié tipe.
  • Tweedens gaan ek een of ander bron aanhaal, wat twyfelagtig by die beste van tye is, en daarmee saam gaan ek jou laat verstaan dat dit nie belangrik is om te luister na wat jy sê nie, want ek is uit die aard van die saak áltyd reg.
  • Derdens, wanneer ons kans kry om met mekaar te praat, gaan ek bo-oor jou praat – al harder en harder. Ek gaan jou nie dieselfde kans gun om jou punt te verdedig nie, en wanneer jy jouself daaroor vererg (regverdiglik só), gaan ek jou bewus maak dat jou emosiebelaaide relaas jou aan die verkeerde kant van geskiedenis plaas, en dat dit net uitwys hoe pateties jy en jou “swak nagevorsde” standpunt inderwaarheid is.
  • Laastens sal ek dan seker maak om jou af te sny, bonuspunte as ek dit in die middel van 'n sin regkry, en dan uitbrei oor hoe korrek ek sopas was. Dit alles terwyl jy en kykers briesend, beïndruk en verdeeld agtergelaat word.

Klink bogenoemde bekend? Dit behoort.

Dis 'n formule wat regoor die spektrum gevolg word deur nie net internetgebruikers nie, maar ook deur aanbieders en persone met aansien oraloor. Die probleem hiermee is dat daar nie waardevolle gesprekke kan plaasvind nie. Dis soos om iemand onder sensuur te plaas, en dan woord te versprei oor hoe stil en onaktief hulle is.

Ek dink die deurlopende kenmerk wat ons in uitbarstings sien is woede; kwade gevoelens wat in 'n kamma passie in oorkook. Dit word natuurlik ontvang met dieselfde woede. Want óf my gevoelens het seergekry, óf jy versprei blatante valshede – albei iets wat ’n mens behoort te irriteer. Maar hierdie irrasionele woede, wat ’n mens wyd en syd op elke sosialemediaplatform denkbaar raakloop, gaan my verstand te bowe.

Dit bring my by die vraag en doel van hierdie skrywe: Soek almal net iets om oor kwaad te wees? Waar het ons die verkeerde afdraai geneem? Wanneer het hierdie gemeenskap een geword waar almal alewig kwaad wil wees oor iets? Ek kan seker met relatiewe sekerheid en veiligheid aanneem dat dit een van die onafsienbare gevolge van ons moderne, gedrewe, en aandag-afhanklike samelewing is.

Teoreties gesproke is ek die eerste om te sê dat mense meer moeite moet doen om mekaar te verstaan, om mekaar se standpunte te probeer insien, en mekaar halfpad te ontmoet. In praktyk is ek egter 'n mens; een met emosies, waansinnige oomblikke, maar belangriker as dit alles – hoop.

Ek het hoop dat mense dalk, moontlik en miskien eendag in die toekoms sal bykom; hoop dat mense sal besef dat om harder as iemand anders praat nie jou punt bewys nie. Ek het hoop dat onredelike standpunte inneem net om mense op te sweep nie 'n voorstelling van jou of enige een se werklikheid is nie. En laastens, het ek hoop dat om kwaad te wees tog sal ophou om vir mense só lekker te wees.

  •  
  •  
  •  
Deur Franco van der Berg


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close