Algemeen -

(Amper) alle belasting is diefstal

Ons betaal, betaal en betaal, net om die heeltyd, of dit nou hier of elders is, te hoor dat die state hopeloos te min inkomste kry. Hier en in die VSA glo mense, meestal akademici en die regering, dat dit die rykes is wat te min betaal. In beide gevalle is dit 'n reusemisverstand oor hoe mense in die eerste plek ryk word, sowel as oor wie die meeste waarde skep.

Hier by ons word nie net die rykes nie, maar sommer die middelklas ook, teen enorme koerse belas. Ek gesels nou die dag met iemand wat beplan om uit Kalifornië te trek, want sy het haar belastingkoers uitgewerk en dit beloop 26%. Hier by ons is dit 'n intreevlakbelastingbetaler se basiese belasting. Dan kom daar nog BTW, die brandstofheffing, erfbelasting en allerlei ander belastings ook by. En dit alles is diefstal. Elke sent daarvan. Inkomstebelasting is waarskynlik die ergste, want dis nie asof die staat jou help om jou werk te doen nie. Inteendeel. As jy met die staat te doen kry om byvoorbeeld jou bestuurslisensie, nog 'n belasting, te hernu, is die stelsels so oneffektief dat jy soms verlof daarvoor moet insit. Dikwels faal die staat ook tot so 'n mate in sy hoofdoel, die handhawing van wet en orde, dat mense nie by hul werkplekke kan uitkom nie as gevolg van protesaksie of omdat hulle slagoffers van misdaad was. Dan praat 'n mens nie eens van sakeondernemings wat slagoffers van misdaad is nie.

Boonop sê die staat dat ons belastingsgeld goed genoeg is, maar nie ons nie, en gebruik dit dan om swart ekonomiese bemagtiging, ten koste van belastingbetalers en die hele ekonomie, in plek te sit. Of hulle gebruik dit om wette te bevorder wat “Afrikaanse skole sal transformeer,” om Panyaza Lesufi se woorde te gebruik. Op daardie punt is belasting nie meer net diefstal nie. Dit is blatante roof.

Waar belasting nie diefstal is nie, is waar jy dit betaal en duidelik na iets kan wys wat jy daarvoor kry. Soos as jy kan sê: “Kyk! Ek het tolgeld betaal en hierdie pad is die mooiste pad wat ek nog gesien het.” Of: “My maggies! Suid-Afrika is heeltemal sonder misdaad, die ekonomie floreer en niemand sukkel om werk te kry nie. Dis hoe ons belastingsgeld vir ons werk.”

Werk word baie meer effektief deur die gehate “rykes” geskep, maar selfs hulle kan dit nie meer bekostig nie, want Suid-Afrika het van die hoogste maatskappyebelasting ter wêreld. Geld wat gebruik kon word om besighede uit te brei en die wêreld werklik beter te maak, word gebruik om ondernemings in staatsbesit te onderhou, om die swart elite nog ryker te maak en om oneffektiewe staatsamptenare te vergoed. Ek kan nie aan een voorbeeld dink waar ons waarde vir ons belastinggeld kry nie.

 

 

  •  
  •  
  •  
Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close