Algemeen, Uncategorized @af -

ANC-beleidsdokument wil bevelsekonomie verder versterk

Die ANC se 2017-besprekingsdokument oor ekonomiese beleid bevat nie enige groot afwykings van sy bestaande beleid nie. In wese is dit bloot ʼn voortsetting daarvan. Die besprekingsdokument kom natuurlik weer met die ewige veronderstelling dat dinge dié ronde anders sal wees en dat dit uiteindelik vrugte gaan afwerp.

 

Daarmee word natuurlik nie aangevoer dat hierdie selfde ou storie geen gevare inhou nie. Dié idees mag miskien nie nuut wees nie en word al minstens sedert die RPD-program amptelik aangevoer, maar dit is steeds gebaseer op die ANC se ou, kruipende sosialisme onder die dekmantel van ʼn “ontwikkelingstaat”. Die plan druis steeds in teen ekonomiese vryheid en vrye ondernemerskap wat die privaat sektor in die ekonomie voortdurend belemmer.

 

Sentraal tot dié gedagte is die ou ANC-betoog wat aanvoer dat ʼn vrye mark alleen nie voldoende is om die land se probleme op te los nie. Die markekonomie word in vele ANC-uitsprake ten minste sedert die RDP-program as onvanpas verklaar. Ná 23 jaar se beleid wat toenemend teen die vrye mark indruis, kan die ANC mos nie eintlik sê dat ʼn vrye mark naastenby ʼn billike kans gegun is om die teendeel te bewys nie.

 

Die ingrepe waarvoor daar nou weereens beding word, sluit in uitbreidings in grondhervorming, swart ekonomiese bemagtiging (SEB), belastingsubsidies, oordragte, grootskaalse staatsbeleggings en ingrepe om ekonomiese groei aan te moedig. Dit is met ander woorde min of meer dieselfde planne as vantevore. Daarmee gepaardgaande is ʼn meer onlangse klem op kompetisie-ingrepe en die sogenaamde opbreking van monopolistiese praktyke en strukture.

 

Laasgenoemde kon dalk tot voordeel gewees het as dit sou beteken dat die regering by sy eie staatsinstellings, met belastingsubsidies en monopolievoorregte wat deur wetgewing geskep word, sou begin, maar dié instellings is gewoonlik nie grootliks in die visier nie, veral nie met ʼn fokus op ʼn “transformatiewe” lesing van sodanige kompetisiewette nie – ons sal wel sien wie uiteindelik in die visier kom.

 

Die ANC se huidige program berus steeds stewig op bevel oor en verdere ingrepe in die ekonomie; kortom, dit is toenemend ʼn bevelsekonomie. Dat die “ongebonde” vrye mark nie sal werk om dié plaaslike ekonomiese probleme die hoof te bied nie, is ʼn ou strooipop-argument. Daar kan allermins nie gesê word wat die gevolge van ʼn bestendige vryemarkekonomie in Suid-Afrika sou gewees het nie omdat die ANC dit nooit probeer het nie.

 

In dié opsig is die gebruik van die term “ekonomie” eintlik maar ʼn lui manier van dink. Ons almal wat met ekonomiese sake werk, doen dit soms en praat van “die ekonomie” in die geheel, maar waarop berus ʼn ekonomie, en die sogenaamde “strukture”, “stelsels”, “instellings” en “eienaarskappatrone,” waarvan die ANC in sy dokumente praat, uiteindelik? Dit berus uiteindelik op lewendige mense, alledaagse individue in gemeenskappe met hul unieke voorkeure en nie op ʼn amorfe geheel nie.

 

ʼn Bevelsekonomie is dan niks anders nie as ʼn klomp burokrate wat toenemend baasspeel en inmeng by individue en gemeenskappe. Oplaas, soos ʼn merkwaardige ekonoom eens verduidelik het, “sentrale beplanning” berus eintlik op regeringsdwang en uiteindelik op die burokratiese beletting, of dwarsboming, van sekere gedrag wat mense onder normale gesonde omstandighede geoorloof was.

 

ʼn Bevelsekonomie beteken dat vrye ondernemerskap en produksie belet of grootliks verhinder word. Die vraag is dan hoe rykdom vir almal kan vermeerder as private produksie toenemend belemmer word.

 

ANC-burokrate reken dalk hulle kan beter vaar as die vrye mark en dat regeringsdwang beter uitkomste as vryheid op ekonomiese front kan bied. Aan die ander kant verwag ondersteuners van vrye markte juis dat groeiende regeringsinmenging nadelige uitkomste, soos groot ondoeltreffendheid, verdraaide aansporings, wanbesteding, regeringskorrupsie en wanbelegging, sal ontketen. Ironies genoeg is sulke uitkomste selfs strydig met lofwaardige doeleindes, soos die verligting van armoede en werkloosheid, wat in die ANC-besprekingsdokument gestel word.

 

In die lig van die toename in hierdie nadelige uitkomste, wat regdeur die ekonomie gesien kan word, reken ons die tyd het aangebreek om ʼn vryemarkekonomie ’n billiker kans te gee om sy man te staan.

 

  •  
  •  
  •  
  •  
Gerhard van Onselen Deur Gerhard van Onselen


Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close