Godsdiens -

Anker in geloof

Een of ander tyd gebeur dit met ons almal. Seer. Hartseer. Die impak wat die dood op die lewens van dié wat agterbly laat.

Die sirkel van die lewe loop om en om sy draai met ons almal. Sonder vrae. Sonder antwoorde. Koud. Ongenaakbaar. Soos 'n saketransaksie; neem en gee sonder gevoel.

In 'n tyd waar 'n dodelike pandemie die wêreld lamlê, word elkeen van ons daarmee gekonfronteer –  amper daagliks. Dit waarmee ons worstel, vermenigvuldig. Angs. Vrees. Moedeloosheid. En dan daardie snydende seer wat hier binne kom lê en knaag, wat plek maak vir verlange …

Soos Dawid van ouds het ons geen ander keuse nie as om op te kyk en te vra: Waar sal my hulp vandaan kom? En die outomatiese antwoord wat gerusstellend daarop volg: My hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het.

Gerusstellend. Vertroostend. Eg. Iets waaraan ons kan vasklou wanneer die greep van onsekerheid sy wurgposisie inneem en die hart met moeite sy klop moet vind.

Die werklikheid, waarvan ons so graag wegskram, het sy manier om ons tog te stilletjies te bekruip. Ons lewe, haal asem, bou aan 'n toekoms en kom skielik agter hoe nietig ons is … dat daar in hierdie wêreld niks tasbaar is om aan vas te klou nie.

Maar dit is juis dán wanneer ons moet klou deur middel van geloof. Want by God is daar sekerheid. By God is daar standvastigheid. By God is daar krag. Daar kan ons heel word. Daar kan ons dit kry wat ons nodig het om in 'n gebroke wêreld te kan voortbestaan. By Hom ontvang ons die vuur wat van ons die lig op hierdie duister aarde maak. By Hom is dood nie 'n werklikheid nie, net 'n tydelike fase wat ons verder lei na 'n lewe saam met Hom.

Lyding is tydelik. Hartseer is tydelik. Maar die rus en vrede wat Hy vir ons gee, is ewigdurend. Dit is eg. Dit is ons behoud. Hieruit kan ons, met die moed van ons oortuiging, voortbeur. Hieruit kan ons die harde wêreld 'n bietjie sagter maak, vir onsself en ons mense.

Dit laat ons toe om mekaar te ondersteun. Dit laat ons toe om aan te hou werk en aan te hou bou. Dit verswelg moedeloosheid en vervang vrees met dapperheid.

Wanneer die lewe se harde werklikheid aan die deur kom klop en totsiens vir die laaste maal oor ons lippe val, kan ons met sekerheid weet: Genade omvou ons, Liefde dra ons en Geloof is ons lig op die pad.

  •  
  •  
  •  
Johnell Van Vollenhoven Deur Johnell Van Vollenhoven


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close