Deur Paul Joubert

SA arbeidsmarksamestelling AFR

Kwartaalliks, wanneer nuwe syfers oor die Suid-Afrikaanse arbeidsmark vrygestel word, is daar 'n vreeslike gedruis oor die kleinste fluktuasies in die syfers. Hierdie fluktuasies is dikwels so klein dat dit nie eens van statistiese artefakte onderskei kan word nie, maar tog word dit in die fynste besonderhede in die media ontleed. Die groter prentjie word egter dikwels gemis – die feit dat die Suid-Afrikaanse arbeidsmark eintlik sedert 2010 besig is om sywaarts te beweeg, te stagneer.

 

In 2008, voor die ekonomiese resessie, het 45,7% van alle Suid-Afrikaners wat 15 tot 64 jaar oud was,  werk gehad. 'n Verdere 35,2% het nie gewerk nie, maar dit was uit eie keuse – dit sluit mense soos studente, tuisteskeppers, afgetredenes en sommige gestremdes in. Die oorblywende 19,1% was sonder werk, maar wou graag werk. (Let daarop dat hierdie 19,1% nie die werkloosheidskoers verteenwoordig nie – die werkloosheidskoers word nie bereken uit die totale groep van 15- tot 64-jarige ouderdom nie, maar slegs uit die totaal van diegene wat werk en diegene wat wil werk.)

 

In 2010 het die totale aantal mense wat gewerk het, 'n laagtepunt bereik. Die persentasies het verander na 41,3% wat werk, 35,3% wat kies om nie te werk nie, en 23,4% wat nie werk nie, maar graag wil.

 

Sedertdien het hierdie persentasies feitlik geen verbetering getoon nie. In die jongste syfers, vir die derde kwartaal van 2014, het 42,6% van alle 15- tot 64-jariges werk gehad. Dit is slegs marginaal meer as die laagtepunt in 2010. Diegene wat nie werk het nie, maar graag wil werk, het gegroei tot 23,8% van die totale aantal 15- tot 64-jariges in Suid-Afrika. Die arbeidsmark het dus eintlik maar net naastenby tred gehou met bevolkingsgroei oor die jare.

 

Tensy daar 'n verandering kom in die totaal onvanpaste neiging om regeringsbeleide in te stel wat 'n wurggreep op enige innovering en ekonomiese vryheid uitoefen, sal hierdie stagnasie in die Suid-Afrikaanse arbeidsmark voortduur.

  •  
  •  
  •  
Deur cilleste


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close