Deur Paul Joubert

 

Statistieke Suid-Afrika het pas sy Kwartaallikse Arbeidsmagopname (QLFS) vir die tweede kwartaal van 2015 vrygestel. Talle analiste is verras daardeur dat die syfers 'n laer werkloosheidskoers en 'n styging in die getal werkende mense getoon het. Met die eerste oogopslag lyk dit verrassend weens die swak ekonomie, hoewel dit normaal is dat hierdie statistieke 'n verbetering toon in die tweede kwartaal van elke jaar.

 

Wanneer daar in ietwat meer besonderhede na die syfers gekyk word, word dit duideliker wat aan die gang is. Volgens die QLFS het die getal werkende mense met 198 000 gegroei in die afgelope kwartaal. Van daardie groei was 177 000 in die informele sektor en 67 000 was in die “community and social services”-sektor, wat hoofsaaklik die regering is. Word die private formele sektor in oënskou geneem, het indiensname in der waarheid met ongeveer 28 000 gedaal. Dit is nie 'n goeie prentjie nie, aangesien indiensname in die private formele sektor juis die soort indiensname is waar ons groei wil hê.

 

Die veelbesproke Nasionale Ontwikkelingsplan teiken 14% werkloosheid teen 2020. Dit impliseer dat, met die arbeidsdeelnamekoers op 60%, daar 20,3 miljoen werkende mense in Suid-Afrika sou moes wees in 2020. Dit is 'n styging van 4,6 miljoen in vyf jaar. Dit beteken meer as 230 000 addisionele werke elke enkele kwartaal, of 920 000 per jaar. Dit gemiddelde getal addisionele werke per jaar sedert die herstel vanuit die resessie was nie eers 400 000 gewees nie.

 

Hierdie syfer van 920 000 meer werke per jaar is nie haalbaar sonder dat die ekonomie reusagtige groei toon oor die volgende vyf jaar nie. Dit sal nie gebeur terwyl die regering aanhou om meer en meer beperkende en inmengende wetgewing en regulasies te implementeer soos dit tans gedoen word nie.

  •  
  •  
  •  
Deur cilleste


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close