Algemeen -

Assistent- en nuut gekwalifiseerde onderwysers – kry vir jou 'n mentor!

Ek sê altyd ek het nie onderwys gekies nie – onderwys het my gekies. As ek mooi terugdink aan my kinderdae het ek dalk bietjie meer as die gewone kind van “Juffrou-Juffrou” gehou. Een van my beste verjaarsdaggeskenke was 'n esel met 'n swartbord op. Ek het ure lank vir ou Wollie, ons gewese Maltese poedeltjie, geleer van wat ook al op daardie stadium vir my interessant was.

Almal droom van 'n glansryke beroep, en ek het nié onderwys as 'n glansryke beroep beskou nie – inteendeel! (Ek wil net hier noem dat ek intussen baie geleer het en dat dit nie meer my siening oor my werk is nie!) Ek het my droom om 'n maatskaplike werker te word, nagejaag en het in my tweede jaar oorgeskakel na 'n graad in Kriminologie en Sielkunde. Omrede ek nie op daardie stadium gekeur was vir Opvoedkundige Sielkunde nie, het ek besluit om my NGOS te gaan doen.

Moet asseblief nie vir een onkundige oomblik dink dat dit 'n afgewaterde kwalifikasie is nie. Ons het dikwels klasgeloop van 07:00 tot 19:00, voltyds. Ten tye van prakties was jy 06:30 in die oggende by die skool en het jy 14:30 teruggekeer kampus toe, en het ons menige male tot na 21:00 in die aand klasgedraf. Ons beroep is een waarop elke Jan Rap en sy maat neersien – ons kan nie bekostig om op mekaar neer te sien as gevolg van die kwalifikasie wat jy agter jou naam het nie! Of dit nou 'n driejaar-onderwyskollegediploma, 'n vierjaargraad of 'n NGOS is – dit is ons almal se roeping!

Ek het tydens my proeftydperk dolverlief geraak op onderwys! Hiér kan ek mos 'n verskil maak! Ek het gevoel ek is presies waar die Here my wil hê. Ek het vir my eerste onderhoud gegaan én die werk gekry! Ek het daardie selfde dag nog begin. My pa het my nog gebel om te hoor hoe my onderhoud gegaan het en my woorde aan hom was: “Ek kan nie praat nie, Pappa, ek werk!”

As blinkoog, pas gekwalifiseerde onderwyser in my eerste jaar van onderwys gee was ek kinderlik opgewonde oor die massiewe verskil wat ek in kinders se lewens sou maak. Ek het immers geswot en weet mos alles wat ek moet weet. Ek is mos lief vir kinders en het ‘n sagte hart. Ek het drome gedroom van soet kinders wat na my gaan luister, en vir wie dit altyd lekker gaan wees om in my klas in te stap. In my droomwêreld sou ons skaterlag, grappies maak en hard werk. Ek sou altyd van hulle hou en hulle sou altyd van my hou, en om skool te gee sou elke dag ‘n absolute fees wees. Hier en daar sal daar dalk ‘n luide applous wees vir die fantastiese lesse wat ek sou aanbied, maar ek doen dit mós vir die kinders… Ja wel, dit is glad nie wat gebeur het nie – om dit sagkens te stel. Met die intrapslag in my heel eerste periode, in my heel eerste klas by my heel eerste werk, was daar ‘n botsing op die rooster en het ek myself voor 84 graad 11-kinders bevind. En ék, met my oulike ysbreker-idees en kwansuise deeglike beplanning, het verstar voor ‘n klas vol kinders gestaan, met ‘n mond vol tande. Hulle het vir my gekyk, ek het vir hulle gekyk en ek het gewéét:  “I’m in over my head”. Die dae wat gevolg het, was … rof, om die minste te sê. Kinders skreeu – baie! Kinders is onvoorspelbaar en het dissipline nodig, en om beheer te neem van jou eie klas is wêrelde verwyder van die beskermde omgewing waar jy as student voor die kinders te staan.

Ek het dikwels gehoor dat ander onderwysers sê dat die eerste jaar van onderwys vir hulle ‘n absolute nagmerrie was. Ek besef nou, ‘n mens weet nie totdat jy weet nie. Ek is uiters dankbaar vir my departementshoof in daardie tyd wat my onder sy vlerk geneem het en jammer was vir die nuwe juffroutjie wat die heeltyd sit en huil het. My doel is glad nie om jou bang te praat nie – lees asseblief verder! Ek kom nog by die “goeie” deel.

Ek het nie geweet hoe om die register in te vul nie of waar om dit in te gee nie. Ek het nie geweet hoe om die tiendag-opname te doen en die kinders te kry om hulle samewerking te gee nie. Ek praat nie eers van dissipline in die klas nie – ek wil nie graag hier vloek nie. Ek was totaal geheel en al oorweldig! Vygotsky en Piaget se mooi idees het my op daai stadium net mooi niks gehelp nie! Ek het gevoel ek weet niks, en die verantwoordelikheid om met jongmense se toekoms te werk, het soos ‘n berg op my skouers gesit.

My departementshoof het een dag na my toe gekom en ek het net daar geleer wat dit beteken om in trane uit te bárs! Dit was 'n morsige en lelike gedoente wat losgeruk het. En my liewe departementshoof, met Job se geduld en Salomo se wysheid, het vir my 'n veelseggende glimlag gegee en vir my gesê: “Haal asem, Juffrou. Jy kan net doen wat jy nou kan doen en jy doen goed.”

Dalk onthou hy nie eers dat hy dit gedoen het nie en ek het dit nie op daardie stadium besef nie, maar ek glo hierdie man het waarskynlik my loopbaan gered en, tot 'n mate, bepaal. In daai oomblik het ek nie nodig gehad om te verduidelik nie, want hy het verstaan – waarskynlik omdat hy self op 'n stadium daardeur gegaan het. In daai oomblik het hy vir my geleer hoe belangrik dit is om vir iemand te sê: “Jy doen goed.” Hy het bevestig dat ek wel op die regte pad is en dat dit mettertyd beter sal raak. Hy het my aangemoedig en in my geglo.

Jy het iemand aan jou kant nodig. Iemand wat sal verstaan sonder dat jy 'n woord hoef te sê. Iemand wat die frustrasie verstaan as 'n kind sy “boek by die huis vergeet het” terwyl julle albei goed weet dat hy eenvoudig net nie sy huiswerk gedoen het nie. Iemand wat saam met jou woedend kan word vir kinders se gedrag, maar net so hard saam met jou kan bid vir hulle. Iemand wat, sonder om te wik of weeg, sy lêer sal deel sodat jy kan sien hoe dit moet lyk. Iemand wat saam met jou kan giggel in personeelvergaderings as iemand bietjie warm onder die kraag raak. Iemand wat jou wil sien wen!

Liewe Jong Werkende – kry iemand aan jou kant wat jou kan touwys maak. Kry vir jou 'n mentor! Daardie persoon by wie jy kan afpak en leer. Iemand wat self daar gestaan het en iemand wat elke dag vir jou sê dit word beter, totdat jy dit self glo!

As jy ‘n studenteonderwyser/-assistent is wat graag by ons Jongwerkendes wil aansluit en ‘n mentor wil hê, stuur ‘n e-pos aan:

As jy daarin belangstel om ‘n mentor te word, stuur ‘n e-pos aan:

  •  
  •  
  •  
Deur Anlia Archer


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close