Algemeen -

Basizane! (Help mekaar)

Kom ons praat vir ’n slag musiek en nie politiek nie. Ek is ’n groot musiekliefhebber. Trouens, die meeste van my tyd buite die werkplek word aan musiek gewy. Ek is voortdurend op soek na nuwe musiek en ek koppel gebeure en tye in my lewe aan musiek – die tyd toe my eerste groot liefde my hart gebreek het; vakansies op pad see toe agter in my Pa se Volkswagen Jetta terwyl ek wonder  hoe ver die see nog is. Musiek was nog altyd daar.

Verlede week het die nuus oor die musikant en antropoloog Johnny Clegg se dood my hart aangeraak. As Suid-Afrikaner was hy deel van my kinderjare, en selfs vandag as volwassene is hy steeds in die agtergrond. Al het hy lank voor my geboorte reeds musiek gemaak en al het sy politieke sienings nie met dié van baie ander mense in daardie tydperk gestrook nie, ken ons vandag sy musiek. Ek verstaan nie ’n woord Zulu nie, maar is te dankbaar vir Google Translate wat Zulu bygevoeg het. Ek kan saam sing, en teen die Woensdag van elke week sing ons almal Johnny Clegg en Juluka se “Woza Friday”, want die naweek is nog ver en ons wil hom nader roep!

Ons stem nie noodwendig almal saam met Clegg se politieke sienings of persoonlike besluite nie. Ons is divers en mag almal anders dink oor sake, politiek en ander dinge. Dit maak ons uniek. Dit is belangrik dat ons verskil, maar selfs nog belangriker, dat ons saamwerk aan oplossings vir die verskille.

Daar is onlangs ’n paar Suid-Afrikaners oorlede wat almal op hulle eie manier ’n bydrae tot die land en sy suksesse gemaak het. Johnny Clegg staan egter vir my uit. Sy bydrae is sekerlik reusagtig vir talle redes wat miljoene Suid-Afrikaners kan noem. Dink maar net aan ’n braai waar die uitrustings Springbok-rugbytruie is en die rugby nou enige oomblik gaan begin. ’n Zulu-kryger verskyn op die veld met ’n skild en ’n spies en Juluka (Johnny Clegg en Sipho Mchunu se orkes) se “Impi” begin kliphard oor die luidspreker speel. Dit is in dieselfde tyd dat ons ’n reus soos James Small op die TV gesien het, wat sonder vrees vir Jonah Lomu aangevat het. Die meeste Afrikaners en Engelse verstaan nie ’n woord nie, en al wat ons eintlik weet, is dat “Impi” na ’n groep Zulu-krygers verwys, maar ten spyte daarvan voel ons so trots en is ons saam met die Springbokke gereed om die All Blacks, die Rose of die Wallabies ore aan te sit. Johnny Clegg wou en kon dit in ons regkry.

Impi! Wo ‘nans’ impi iyeza

Obani bengathinta amabubhesi?

Vertaling:

“Oorlog! Hier kom oorlog!

Wie kan aan die leeus raak?”

Nogal gepas vir ’n harde rugbywedstryd!

Daar is egter meer aan Johnny Clegg wat my lok. As kind was hy nuuskierig. Sy nuuskierigheid het hom roem besorg. Hy het dit reggekry om die Westerse styl van musiek met dié van Afrika te kombineer en iets nuuts te vorm – ’n eiesoortige Suid-Afrikaanse styl wat geïnspireer is deur Zulu-musiek en die musiek van die Weste. Hy het gesorg dat twee wêrelde wat hemelsbreed verskil, effe nader aanmekaar beweeg het, en dat mense steeds hulself kan vereenselwig met ander kulture, met mense uit ander agtergronde, gelowe en ander taalgroepe, sonder om hul eie identiteit prys te gee.

Dit is juis die les wat Johnny Clegg in my geheue ingedans en gesing het. In ’n wêreld waar jy voortdurend vertel word wie jy was, wie jy is en wie jy moet wees, is dit belangrik om jou eie identiteit te identifiseer en te behou. Ons kort meer unieke mense wat weet wie hulle is, waarvandaan hulle kom en, heel belangrik, waarheen hulle op pad is.

We are the scatterlings of Africa, each and every one

I love the scatterlings of Africa. Each and every one.

Ons is lankal nie meer Europeërs nie. Die vyf skepe wat ons hierheen gebring het en hier gelos het, is iets van die verlede. Ons is hier geplaas om te bou en te werk, tesame aan ’n toekoms vir alle Suid-Afrikaners. Ons is kinders van Afrika – ek en jy! Ons is deel van hierdie Suid-Afrikaanse storie; wees die held en hoofkarakter in joune. Vuka! Staan op en help mekaar!

 

  • 65
  •  
  •  
Reon Janse van Rensburg Deur Reon Janse van Rensburg


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close