Algemeen -

Beheer jou woede – as jy kan

Mandy-Michelle Thackwray

Ek is 'n ordentlike mens – ek belowe. Hierdie eienskap word wel erg op die proef gestel die oomblik wat ek agter die stuurwiel inklim.

Soos ons die rottewedren elke dag voltooi, is daar druk op elke werkende ma om vroeg genoeg by die huis te kom vir die volgende ronde. Dit is nou die skof waar jy begin met wasgoed, kosmaak, huiswerk nagaan, kinders bad en nog vele meer. Ons is konstant die heeltyd haastig op pad iewers heen, en jaag letterlik en figuurlik van die een punt tot die volgende.

Die gejaag (na wind) ontbloot die lelikste karaktereienskappe in mense. Ons lees in die nuus hoe mense van die pad afgedruk is, hoe ander aangerand of vermoor is in 'n padwoede-onderonsie, en ons sien hoe mense vir mekaar “toet” en onwelvoeglike vingertekens wys.

Hoe is dit dat padwoede normaal en aanvaarbaar geword het?

Die Automobiel-Assosiasie van Suid-Afrika het bevind dat sowat 1 500 mense per jaar ernstige beserings opdoen of sterf weens sinnelose verkeersdispute. Met Suid-Afrika wat die 17de langste padnetwerk ter wêreld het, en meer as 9 miljoen mense in Gauteng alleen, is ons paaie stampvol en in 'n swak toestand. Bydraende faktore tot padwoede is onder meer verkeersopeenhopings, aggressiewe bestuurders, stres en die verontagsaming van verkeersreëls.

Wat presies is padwoede?

Dr. Sally Davies, 'n kliniese sielkundige, beskryf padwoede as 'n sosiale probleem wat toenemend plaasvind as gevolg van interne frustrasie binne die individu. Dit is 'n ekstreme uitbarsting van energie wat as woede manifesteer. (Hier moet ek bieg en erken dat ek self al in my kar gesit en skree het. Niemand kon my hoor nie, en ek moes eenvoudig net uiting gee aan my gevoelens).

Ons weet ons het die vrye wil om te kies hoe ons in enige situasie gaan reageer. Ons interne waardekompas gee reeds vir ons die toerusting om beter padverbruikers te wees:

  • Respek
    Respekteer jouself en ander padverbruikers. Kom die reëls van die pad na, en behou 'n positiewe gesindheid. Almal is op pad iewers heen, en met goeie gedrag sal almal hul bestemmings bereik.
  • Bedagsaamheid
    Partykeer is dit goed om die minste te wees. Wys jou dankbaarheid as iemand jou voorkeur gee of tegemoet kom op die pad.
  • Geduld
    Beplan – dan is daar geen rede vir haas nie. Moenie ander mense se ongeduld persoonlik opneem nie.
  • Veiligheid
    Jou eie veiligheid is jou hoogste prioriteit. Hou by die verkeersreëls en bepaal jou aandag by die pad en ander bestuurders. Bly weg van onverskillige motoriste.

Die lewe is 'n reis, moenie jou te veel haas nie en geniet die uitsig!

  • 16
  •  
  •  
  •  
Algemene Skrywer Deur Algemene Skrywer


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close