Uncategorized @af -

Belastingtruuks: Regering vat al hoe meer

Dit is duidelik uit die 2017-nasionale begroting dat regeringsbesteding in “reële per capita- terme gehandhaaf sal word.” Die regering se uitgawes sal oor die volgende drie jaar steeds vinniger as huidige VPI-inflasie toeneem.

 

Aangesien die regering se uitgawes steeds sy inkomste oorskry, word 'n gekonsolideerde tekort van ongeveer R150 miljard verwag. In die lig van die huidige skuldvlakke is dit duidelik dat so 'n tekort nie bloot vir ewig gehandhaaf kan word nie.

 

Die vraag is dan hoe die regering beplan om die probleem te hanteer en die antwoord is basies dat die regering nie sy besteding genoegsaam sal sny nie, maar beplan om nóg meer belasting, sowat R28 miljard meer as wat vantevore beplan is, uit die klein getal effektiewe belastingbetalers in Suid-Afrika te pers.

 

Die boodskap is eenvoudig: Staatsbesteding is onaantasbaar, maar nie die belastingbetaler nie.

 

Uit 'n begroting van bykans R1,560 duisend miljard is daar klaarblyklik volgens die regering nêrens enige onnodige uitgawes wat gesny kan word nie. Dié idee is betwyfelbaar, maar die gevolg is dat die gewig van die begroting met onder meer ‘n nuwe belastingkerf en 'n ou belastingtruuk swaarder op die belastingbetaler sal val.

 

Die belastingmaatreëls in die 2017/18-begrotingsjaar is volgens begrotingsdokumente op die “boonste gedeelte van die inkomstespektrum gefokus.” Tog gaan dit bykans almal wat inkomstebelasting betaal, direk raak:

 

  • Sowat R12 miljard van die R28 miljard gaan deur blokkruipings (“bracket creep”) ingevorder word.
  • Die nuwe top- marginale inkomstebelastingskaal sal 'n verdere R4 miljard inbring.
  • 'n Verhoging in die terughoudingsbelasting op dividende sal 'n verdere R6,8 miljard inbring.
  • Verbruikers van brandstof, tabakprodukte en alkohol sal 'n verdere R5,1 miljard moet opdok.

Dit is ooglopend dat beperkte verligting vir blokkruipings die grootste enkele rol in die 2017/18-maatreëls speel. Wat beteken dit eintlik? Dit beteken basies dat die regering jou meer belas bloot omdat jou salaris vir stygende lewenskoste (VPI-inflasie) aangepas word.

 

Die sogenaamde belastingverligting is dan eintlik skynverligting want, soos die SNI in ’n vorige artikel verduidelik het, “… jou inkomste moet styg om by stygende lewenskoste by te bly, maar terwyl dit gebeur, vat die staat ál meer van jou geld.”

 

Die tabel dui die uitwerking van dié effek op 'n salaris, wat geensins aan die bopunt van die belastingskale is nie, aan. Dit toon hoe 'n persoon wat in 2012 R180 000 per jaar (R15 000 per maand) verdien het, en wie se inkomste jaarliks met die gemiddelde VPI-inflasie aangepas is, weens hoër belasting verarm het. Die prominente impak van blokkruipings in 2017/18 is duidelik sigbaar.

 

Wat dopgehou moet word, is die koers waarteen die persoon se nabelaste inkomste teenoor VPI-inflasie groei, sowel as die toenemende proporsie van die salaris wat op belasting bestee moet word. In dié geval hou die groei in nabelaste inkomste nie tred met VPI-inflasie nie en die persoon sal dit al hoe moeiliker vind om tred te hou met stygende lewenskoste.

 

  • 75
  •  
  •  
  •  
Gerhard van Onselen Deur Gerhard van Onselen


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close