Uncategorized @af -

Beleidsekerheid of sekerheid oor skadelike beleid?

Die pas ingelyfde minister van finansies, Malusi Gigaba, het duidelik sy hande vol. Nie net het president Zuma hom in 'n onbenydenswaardige posisie in die skadu van Pravin Gordhan – en al die omstredenheid wat daarmee gepaardgaan – geplaas nie, maar sy eie keuse van raadgewers is besig om is besig om te boemerang.

 

Soos wat verlede week se nuuskommentaar op die Solidariteit Wêreld ook aangedui het, het Gigaba se nuut gekose ekonomiese raadgewer, prof. Chris Malikane, in 'n marxistiese meningstuk van agt bladsye, nasionalisering, onteiening sonder vergoeding (wat in effek op regeringsdiefstal neerkom) en groter staatsbeheer oor die Suid-Afrikaanse ekonomie aangemoedig. Die voorstelle bevat 'n pleidooi vir 'n nuwe staatsbank en die nasionalisering van die Reserwebank. Dit het uiteraard beleggers die skrik op die lyf gejaag.

 

In hierdie stadium waar S&P en Fitch reeds die regering se skuldstatus by wyse van noodafgradering na niebeleggingsgraad verander het, en Gigaba onlangs in Washington DC na Moody’s gaan vry het om nie dieselfde te doen nie, is Malikane se standpunt sekerlik nie bevorderlik vir Gigaba se pogings nie.

 

Gigaba se tesourie was vinnig om hulle in 'n mediaverklaring van Malikane se stellings te distansieer deur te sê dat “prof. Malikane se opvattings nie noodwendig regeringsbeleid is nie” en “dat die nasionalisering van banke nie regeringsbeleid is nie.”

 

Volgens dié verklaring is ons veronderstel om gerusstelling daarin te vind dat die koers van bestaande ANC-beleid steeds die regering se finansiële beleidsaanwyser is – met ander woorde sake sal, ekonomies gesproke, soos gewoonlik voortgaan. Diegene wat met beleidsekerheid gemoeid is, het vir eers 'n sug van verligting geslaak, maar is dit regtig rede om te jubel?

 

Malikane se marxistiese “kernbomopsie” van regeringsdiefstal en nasionalisering is volgens die tesourie vir eers nie ter sprake nie, maar die ANC se “sake soos gewoonlik” is nie te waffers nie.

 

“Sake soos gewoonlik” beteken 'n voortsetting van bestaande ANC-beleid. Maar hoe lyk die omgewing onder die beleid? Daaroor het die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) al baie kommentaar gelewer, maar dit kom basies neer op 'n beleidsomgewing wat geensins met enige redelike opvatting van “nie-inmenging” en “vrye markte” strook nie. Dit is 'n omgewing van omvattende oorregulering, rassewetgewing, herverdeling, hoë en heelwat belasting en sentrale bevel, wat alles reeds hul tol geëis het. Die verlammende uitwerking op die ekonomie is duideliker as ooit.

 

Groei is swakker as in talle eweknie-ekonomieë. In 'n futlose en onsekere ekonomie is dit moeilik om grondvlakbelegging aan te wakker. Inmenging en oorregulering beteken dat privaat kapitaalvorming belemmer word en die ryke plaaslike kundigheid en hulpbronne wat bestaan nie deur kundige ondernemerskap by nuwe globale werklikhede aangepas kan word nie.

 

Hand aan hand met hewige inmenging in die ekonomie, slurp 'n oorgroot regering en openbare sektor met talle staatsondernemings te veel hulpbronne op. Dit verwring die markte verder. Daarmee gepaardgaande word belastinggeld deur netwerke van elite-bevoordeling bykans meedoënloos geplunder.

 

Dit alles belemmer die lewenskragtigheid van die privaat sektor waardeur ekonomiese groei uiteindelik belemmer word. Die spook van Jean-Baptiste Say, 'n ekonoom uit die 1800’s, skree al hoe harder. Volgens Say se wet hang 'n mens se vermoë om te verbruik – jou eintlike rykdom – uiteindelik af van jou vermoë om goedere en dienste wat ander as waardevol beskou, te produseer. Daarvolgens sal 'n regering wat produksie lamlê, 'n land verarm.

 

Suid-Afrikaners is besig om per capita te verarm en werkloosheid is uiters hoog. Die ekonomie presteer ver onder wat moontlik is.

 

In die lig van die penarie en die huidige politieke onstuimigheid wil 'n mens weet hoe Gigaba en die ANC-regering gaan poog om die probleem te hanteer. Volgens Gigaba se onlangse toespraak, wat hy in Kaapstad aan die beleggersgemeenskap gemaak het, wil die regering dit klaarblyklik regkry deur “beleidsekerheid te vergroot” en 'n reeks “groeibevorderende intervensies” soos vervat in die regering se huidige “negepuntplan” te onderneem.

 

In sy toespraak verbind Gigaba die tesourie daartoe om toepaslike regeringsdepartemente aan te moedig om nou spoedig sekerheid oor energie-, minerale-, datatransmissie- en grondhervormingsbeleid te bewerkstellig. Terwyl dit nie uitdruklik gestel word nie, kan die verwydering van politieke onsekerheid, oftewel “Zuma-skokke”, ook in dié verband genoem word.

 

Alles in ag genome is beleid- en politieke sekerheid tog beter as onsekerheid, maar die heel beste opsie bly maar om seker te wees dat 'n gesonde en redelike ekonomiese beleid sal heers. Tans is regeringsbeleid nie gesond nie.

 

Wat van die negepuntplan?

 

Die maatreëls wat in die negepuntplan vervat word, kan hoofsaaklik beskryf word as regeringsubsidies en -aansporings vir sekere sektore van die ekonomie soos landbou, toerisme en die “oseane-ekonomie,” asook pogings tot doeltreffendheidsverbeterings aan die bestaande regulatoriese raamwerk. Daar is geensins sprake van 'n genoegsame afskaling van bestaande wette of regulasies, soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB) of die breër beleid van inmenging nie. Dit is redelik om te sê dat dié ingrepe nie 'n oplossing by vryer markte soek nie.

 

Om dinge te kan subsidieer vereis tog dat belasting gehef word, maar waar moet die belasting dan vandaan kom? Uiteindelik is die vraag ten bate van wie en teen watter koste vir die privaat sektor daardie subsidies aangebied kan word.

 

Lippediens word al 'n geruime tyd aan “beter bestuur” van staarsondernemings betoon. Tog is daar min aanduidings dat die rol van sulke ondernemings werklik in geheel verklein sal word – en dít is volgens die SNI wat nodig is. Dit blyk eerder volgens die ANC se dokumente dat sodanige instellings steeds 'n aansienlike rol in die “ontwikkelingstaat” sal speel.

 

Van 'n wending na groter vryheid op ekonomiese gebied is daar geen teken nie; eerder van 'n neiging na toenemende tegnokratiese en regulatoriese bevel oor die ekonomie. Aspekte soos regstellende aksie (RA) en veral SEB, wat die SNI en die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge as 'n hoofhindernis vir ekonomiese vooruitgang beskou, staan steeds rotsvas.

 

Ongelukkig, so wil dit voorkom, bly die ANC ferm op die koers van ekonomiese agteruitgang. Die “stadige gif” van nadelige beleid wat teen vryheid indruis, is steeds aan die werk. Verdere ingrepe, soos die onteiening van landbougrond, word deur nuwe konsepwetgewing beoog en verskerpte ingrepe op (wit) monopolistiese praktyke, soos die ANC dit sien, word in ANC-dokumente voorgestel.

 

Mooipraatjies deur ministers gaan nie die verlammende gevolge van oorregulering en skadelike beleid uit die weg kan ruim nie. Totdat beleidshervorming in die rigting van markvryheid en deregulering oorweeg word, gaan die ekonomie desondanks negepuntplanne en vermanings oor beleidsekerheid ver onder sy potensiaal presteer.

 

Uiteindelik is dit die ANC se skadelike beleid wat besig is om dinge vir homself warmer te maak. Ironies genoeg sou die ANC met 'n vryer beleid waarskynlik heelwat langer ongestoord aan bewind kon bly, maar soos wat die geskiedenis aantoon, is dit uiteindelik ekonomiese realiteite wat onverantwoordelikheid tot verantwoording roep.

 

Die huidige toedrag van sake bring die ANC se bestuur van die ekonomie, en by uitstek die land, onder groot verdenking. Die ANC se mag word nou uit talle oorde – intern en ekstern – uitgedaag. Onstuimigheid van dié aard is nooit aangenaam nie, veral nie vir 'n minderheid nie, maar dit skep tog ruimte sodat verandering en hervorming ernstiger oorweeg kan word.

 

Ek koester die hoop dat die ANC slim genoeg sal wees om 'n redeliker beleid te oorweeg en skadelike beleid af te skaal, selfs al is dit net uit eie belang.

  •  
  •  
  •  
  •  
Gerhard van Onselen Deur Gerhard van Onselen


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close