Algemeen, Gemeenskappe -

Beste mnr. Mabote

Ek reageer selde in die media op ander skrywers se kommentare, maar jou oningeligte stuk, wat na soveel lesers se fone versprei word, laat my geen ander keuse nie as om daarop te reageer.

Ek reageer nie omdat ek 'n rassis is nie, alhoewel dit natuurlik die eerste ding is wat mense sal wil sê in ons rasbehepte Suid-Afrika. Ek reageer as oudonderwyser wat daardie “confused” Helpmekaar-seuns, soos jy hulle noem, op laerskool onderrig het. Wat my dwars in die krop steek, is dat jy soveel feitefoute in jou stuk maak. Dié foute kan nie ongesiens verbygaan nie en moet iewers onder die loep geneem word.

As ek dit nie mis het nie, het Parktown Boys Saterdag rugbywedstryde teen Helpmekaar verloor. As jy hierdie stuk geskryf het oor suurdruiwe, voel ek jammer vir jou, maar ek gaan steeds my skrywe tot jou rig en jou wys op die skrikwekkende en bitter gevaarlike aannames wat jy in die proses maak.

Ek dink die kwessie waarmee talle Suid-Afrikaners worstel, is die verskil tussen ras, taal en kultuur. Dit is vir my kommerwekkend dat 'n persoon van jou statuur, iemand wat spesialiseer in reputasie, nes ek terloops, hierdie konsepte verwar. Soos menige ander oningeligte persoon maak jy die groot fout om wit en Afrikaans aan Afrikanerdom, soos jy dit noem, te koppel en om dan daarmee as 'n atoombom op loop te sit.

Jy noem eerstens dat jy hierdie seuns jammer kry en dan begaan jy jou eerste fout deur te noem dat hulle eendag verward en kwaad gaan wees. Het jy enige statistieke om te staaf dat enige Helpmekaar-seun vandag verward en kwaad is omdat sy ouers hom in een van die beste skole in Johannesburg geplaas het? Dat hulle verward en kwaad is, is allesbehalwe die geval. Ek kan jou trouens na universiteite toe neem waar daardie einste voormalige leerlinge floreer en die beste van geleenthede maak, nie omdat hulle wit is nie, maar omdat hulle goeie onderrig in hul moedertaal ontvang het. Hierdie studente vaar werklik goed op universiteit en dit terloops aan universiteite wat jy met soveel oorgawe beskryf as synde ontslae van “white supremacy.”

Jy raak 'n bitter ernstige kwessie aan wanneer jy sê dat “hierdie” leerlinge dieselfde taal praat en dieselfde lyk. Wat taal betref, het jy gelyk, maar ja – hulle mag dieselfde taal praat. Van wanneer af is dit verkeerd? Jou opmerking, “they are all white and they almost look alike, is 'n veel ernstiger kwessie. Dit is blatant rassisties.” Gesien deur jou rassebril sien jy natuurlik almal as dieselfde gepigmenteerde aliens op 'n rugbyveld. Laat my volstaan deur te sê dat as 'n wit persoon so 'nstelling oor swart mense geuiter het dan was dit teen die tyd al – met reg – by die Menseregtekommissie aangemeld.

Die realiteit is dat hierdie seuns opgevoed word om alle mense te respekteer en geleer word dat almal gelyk is, dat God almal volgens Sy beeld geskape het.

Wat werklik absurd is in jou stuk is die feit dat jy sê dié seuns moet leer om swart kinders te prys vir hul goeie spel. Ek kan jou waarborg dat om erkenning te gee aan jou opponent deel is van die wese van goeie sportmanskap en wanneer dit kom by sportmanskap is hierdie skool geen uitsondering op die reël nie. Dalk het jy hierdie rugbywedstryd met jou rassebril aan gekyk, en dit is toe al wat jy kon sien – nie goeie spel nie, nie goeie sportmanskap nie, net ras.

Wat my wel bekommer is hoe jy jou verlekker in die feit dat 'n minderheidsgroep se regte vertrap word en so verwys jy met genoegdoening na universiteite met 'n tradisionele Afrikaanse agtergrond wat so transformeer het dat selfs die ou UJ nou dood is. Jy verlekker jou in die feit dat hierdie seuns moontlik nie gaan werk kry nie omdat hulle wit is en dat hulle eendag weens SEB nie gaan kan besigheid doen nie. Dit is die realiteit wat hierdie seuns volgens jou in die gesig staar as hulle uit hul kokon van “Afrikanerdom” kom.

Hierdie realiteit van Suid-Afrika se rassebehepte reëls wat op alles toegepas word, het hierdie seuns reeds ervaar. Hulle ervaar dit as dit kom by die kies van provinsiale sportspanne, keuring vir mediese studies, werksaansoeke en selfs pappas wat alles in hul vermoë moet doen om hul sakeondernemings te red wat as gevolg van BEE ondergang in die gesig staar.  As pappa dit nie regkry nie, sal mense hul werk verloor, en dit is 'n realiteit.  Ek dink nie jou seun bekommer hom daaroor nie.  Jou wanpersepsie van BEE en regstellende aksie en jou uitsprake daaromtrent is ook kommerwekkend.

Jy praat in die verbygaan van totaal swart skole en noem dat dit 'n simptoom van die verlede is. Nogtans is dit volgens jou aanvaarbaar om swart skole te hê, maar nie skole soos Helpmekaar nie, want volgens jou is dit 'n wit skool. Ek kan jou waarborg dat Helpmekaar nie 'n wit skool is nie; dit is 'n Afrikaanse skool met talle swart en bruin leerlinge.  Ek het vir hulle ook skool gegee. En hulle is wonderlike kinders. Jou een sin oor moedertaalonderrig laat my verstom. As jy nou 'n goeie argument wou voer, kon ons eerder oor moedertaalonderrig gesels, maar 'n mens kan nie, want vir jou is wit, Afrikaans en Afrikaners een en dieselfde ding.

Wat jy eintlik in hierdie stuk vir ons almal sê, is dat witmense se dae getel is, Afrikaans uit is en die Afrikanerdom taboe is. Jou argumente verdwyn in die niet, want dit hou nie steek nie.

Helpmekaar sal steeds vas bly staan en floreer met enige kinders wat verkies om die beste onderrig in Afrikaans te ontvang. Dalk moet jy eerder kennis maak met die ouers van daardie skool en meer oor die skool uitvind. Jy mag dalk net verbaas wees.

  • 453
  •  
  •  
  •  
Juran van den Heever Deur Juran van den Heever


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close