Algemeen, Gemeenskappe -

Bevolkingswerklikhede verg nuwe oplossings

'n Hele paar jaar gelede het ek by 'n ekonoomvriend in Duitsland in die stad Mannheim gekuier. Ons het een heerlike somersaand gaan stap; hy en sy vrou met hul twee kleuters aan die hand. Hulle het in 'n reusewoonstelbuurt, wat in 'n groot sirkel rondom 'n pragtige park gebou is, gebly. 'n Kinderspeelpark, met alles waarvan 'n kind kon droom, is in die middel van die buurt geleë. Terwyl ons gesels en na die kleuters sit en kyk, kry ek 'n aardige gevoel dat iets skort in hierdie sorglose prentjie.

 

Komende van Suid-Afrika, dag ek dit is my sesde sintuig wat my waarsku en ek staan op en kyk rondom ons of alles veilig is. Daar was niemand nie en ek gaan verlig sit. Toe spring ek weer op. Nou weet ek wat fout is. Daar is niemand nie! Ons is alleen in 'n reusepark in die hartjie van 'n woongebied met meer woonstelblokke as wat in die hele Sunnyside is. Waar is al die mense dan? Die Duitse somers is juis so kort. 'n Mens sou dink dat die hele speelpark vol spelende kinders sou wees. Dit het skielik vir my gevoel of ons in die middel van 'n leë spookdorp is vanwaar almal gevlug het, 'n toneel byna soos wat 'n mens in die rolprente sien. 'n Rilling het onwillekeurig teen my ruggraat afgetrek.

 

Leë wiegies

Laat ek nou nie oordryf nie – daar was 'n paar oumense wat met hul honde gaan stap het, maar daar was min jonges en nog minder kinders. My vriend kon die vraag in my oë sien en dit is toe dat hy my vertel van die Duitse demografiese krisis. Hy noem dit die “geenkind-” of “eenkind”-sindroom. Duitse paartjies stel al hoe langer uit om kinders te hê en as hulle kinders kry, kry hulle al minder. Loopbane en lewensgehalte is belangriker as gesinne, en jong Duitsers toer die land en die wêreld vol. Selfs die ruim subsidies van die radelose regering help nie.

 

Honde

Ons stap die aand nog ver in die pragtige stad en ek merk op hoe talle ouer mense met honde rondstap. Ek het sedert my Hondeskool-dae nog nooit soveel honde gesien nie – dit is die ene mense met honde, wetsgetrou aan halsbande soos wat jy van Duitsers kan verwag. Die volgende dag ry ons feitlik heeldag lank met die snelweg na die suide van Duitsland toe. Die paaie is baie besig; almal neem verlof gedurende die Somervakansie. Ons stop gereeld by vulstasies en rusplekke langs die pad en ek sien hulle oral – stasiewaens met honde agterin, op pad vir 'n uitstappie, maar ek sien baie min kinders.

 

Gelukkige verhoudings

My vriend verduidelik dat depressie baie algemeen onder die ouer Duitsers voorkom. Dit gebeur veral ná aftrede as die besige werksloopbane verby is. Eensaamheid is 'n groot probleem as daar nie kinders en kleinkinders is nie – vandaar die baie honde vir geselskap. Ek hoor by hom die groot wysheid dat ware geluk nie oor groot prestasie of baie rykdom gaan nie, maar oor gesonde verhoudings. Opnames wys dat die meeste Duitse vroue te laat wens dat hulle 'n kind – of meer as een – gehad het.

 

Demografie

Die aand met my vertrek gee my vriend vir my die beroemde Britse historikus en strateeg, Paul Kennedy, se boek Preparing for the Twenty-first Century. Daarin lees ek dat die bevolkingsínploffing in Eerstewêreldlande net so 'n groot gevaar inhou as die bevolkingóntploffing in Derdewêreldlande. Daar is 'n regstreekse verband tussen Japan se lae aanwas en sy dekade lange flou ekonomie. Die Japanners het net té min kinders – en later werkers – om hul ekonomie aan die gang te hou.

 

Té min kinders in 'n Eerstewêreldland of té veel in 'n Derdewêreldland kan lei tot ekonomiese, politieke, veiligheids- en selfs omgewingskrisisse. Ek verneem ook dat demografiese vraagstukke te min aandag kry omdat dit sensitiewe politieke, kulturele en persoonlike kwessies raak wat maklik kan aanstoot gee. Die probleem is egter dat demografie sulke verreikende gevolge inhou dat hierdie “stilswyende sameswering” juis uiteindelik kinders se lewens hel op aarde kan maak. 'n Mens kan maar net dink aan die Britse ekonoom, Thomas Malthus, se stelling dat hongersnood voorkom as bevolkings vinniger as kosproduksie groei. Ekonome skryf ook die toenemende konflik in talle arm lande grootliks toe aan die verskerpte mededinging om skaars hulpbronne soos werk, landbougrond en water.

 

Suid-Afrika

Ná my terugkeer in Suid-Afrika het ek die politieke demograaf, prof. Jan Sadie, se werk begin lees. Hy skryf onder meer dat armoede ontstaan as arm mense “te veel” kinders en opgeleide mense “te min” kinders het. Hy verduidelik dat hy met “te veel” of “te min” verwys na die vermoë van ouers om vir hul kinders te kan sorg. Sy stellings oor “sorglose ouerskap” het betrekking op mense wat kinders kry sonder om te dink oor of te beplan hoe hulle vir daardie kinders gaan sorg. Hierdie sensitiewe saak moet uiters versigtig hanteer word omdat dit maklik verpolitiseer of misbruik kan word om mense se karakters of kulture af te kraak. Selfs ANC-politici het egter al teenoor my erken dat beleidsrigtings wat arm mense aanspoor om meer kinders te kry as wat hulle kan versorg tot nóg groter armoede kan lei.

 

Oorheersing

Demografie bly egter die rivier waardeur die geskiedenis vloei. Bevolkingswerklikhede soos bevolkingsgroei, -migrasie, -verspreiding en die getalleverhoudings is die “getye” wat die daaglikse “golwe” van gebeure bepaal. Daarom word demografiese ontwikkelings fyn dopgehou deur almal wat in die groter en langertermynprentjie belangstel. Selfs Harvard se bekende Samuel Huntington het gesê dat demografie die dryfkrag van die geskiedenis is.

 

By Solidariteit bestudeer ons al jare lank die demografie. Dit word onder meer gedoen vanweë die ANC se transformasieprojek om die land se demografiese demokrasie te misbruik om dit met rasseformules in 'n demografiese diktatorskap te omskep. As alle instellings die bevolkingsamestelling moet weerspieël en onder swart beheer moet wees om “African hegemony” te bewerkstellig, ís dit inderdaad 'n demografiese diktatorskap. Dan is alle aspekte van minderhede se lewens deur hul beleid van kaderontplooiing ook sommer onder ANC-beheer.

 

Doemprofete

Die afgelope jaar het daar verskeie artikels van demografiese doemprofete verskyn, met bewerings wat onder meer gemaak word dat daar oor 30 jaar byvoorbeeld nie meer wit mense in die land gaan wees nie of dat wit mense net 1% van die bevolking sal uitmaak. Dit is nie waar nie en is gegrond op wilde fopnuusstatistieke van onbekende oorsprong.

 

Afrikaners se bestaansuitdaging is nie ons klein getalle nie, maar ons yl verspreiding oor die land heen. Dit bring mee dat ons byna oral 'n minderheid is met die gepaardgaande probleme van politieke onmag, kulturele druk en kwesbare veiligheid. Demografiese probleme kan nie volhoubaar opgelos word deur politieke kunsgrepe, juridiese uitsprake of slim veiligheidstelsels nie. Demografiese uitdagings verg demografiese oplossings.

 

Prof. Jan Sadie het gesê dat demografie die basiese data van toekomsbeplanning is. Daarom gaan Solidariteit voor die einde van die jaar meer inligting bekendmaak oor die demografiese werklikhede van die land en moeilike maar praktiese oplossings voorstel. Die tyd vir mooiklinkende en maklike kitsoplossings is verby. Regte probleme benodig regte antwoorde.

  •  
  •  
  •  
Flip Buys Deur Flip Buys


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close