Algemeen, Godsdiens -

Bid elke dag

“Lees jou Bybel, bid elke dag” is ‘n kinderliedjie wat baie waarheid inhou.

Daardeur word ons versterk. Daardeur kry ons krag om voort te gaan ten spyte van teëspoed. Daardeur word ons verseker van dinge wat ons nie kan sien nie. Daardeur groei ons in geloof.

Gebed werk nie in die sfeer van die moontlike nie. Daar is geen verheerliking van God in die dinge wat ‘n mens sou kon doen nie. Geloof begin waar menslike vermoëns ophou – George Muller.

Geloof is ‘n gawe van Bo.

Niks voor nie, niks agter nie; die voetstappe van geloof val oënskynlik in ‘n lugleegte en vind tog ‘n rots daaronder – John Whittier.

Ek hou baie van die Griekwa Psalm deur Hans du Plessis: In die skuilte van die Jirre. Dit is gegrond is op Psalm 121.

Ek slat my twee oge op,
my kyk vang die verste kop:
waarvanaf sal my hulp nou kom?
My hulp is vannie Jirre, van Hom:
Hy’t nou die jimmel en Prieska gekom maak.
Sonner lat jou voet klipperse raak,
is Hy skoene agterrie skaap.
Hy dink nooit nie eers oor slaap.
Sontyd is Hy hoed op jou kop,
innie nag hou Hy gevaarlikeit dop.
Hy’s mos nou da om jou op te pas:
jou siel hou Hy tissen jou ribbes vas.
Gan jy nou in of gan jy nou yt:
Hy’s oor jou vir ewig en vi altyd.

Mag ons ook altyd in egtheid bid. Sonder ‘n ydele herhaling van woorde. In afhanklikheid die Here se naam aanroep, elke dag van ons lewens. In volle vertroue op God alleen.

Here, gee my die krag om alles te doen wat U vra. Vra dan van my wat U wil – Augustinus.

  •  
  •  
  •  
Deur Carina Bester


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close