Algemeen -

Bly kalm en geniet die resessie

Paniek pak Amerika beet. Nie net is inflasie die hoogste in jare nie, maar ekonomiese groei is in die eerste kwartaal van 2022 'n kwart van wat dit in 2021 se vierde kwartaal was. Boonop het die Amerikaanse Federale Reserwebank rentekoerse met 'n halwe persent opgestoot. Dit is ook die grootste koersverhoging in jare, en histories 'n resep vir 'n resessie.

En as Amerika nies kry die wêreld verkoue. Clichés word clichés vir 'n rede, en in dié geval sal dit weer so wees. Toe skurke in Amerikaanse banke die 2008-resessie veroorsaak het, was dit nie net die Amerikaanse banke en hul rekeninghouers wat swaargekry het nie. Dit was die hele wêreld. Dieselfde sal nou weer gebeur. Soos in 2008 sal paniek die wêreld beetpak, en soos in 2008 sal mense hulself finansieel ruïneer.

Jy hoef egter nie een van daardie mense te wees nie. Jy sien die resessie kom. Jy weet dat die ekonomie 'n patroon volg waarvolgens dit vir 'n paar jaar lank groei en dan in duie stort voor dit weer begin groei. Jy weet dat 'n ineenstorting 'n kans is om in die aandelemark in te koop en dat dit die swakste tyd denkbaar is om jou geld uit die aandelemark, of amper enige belegging buiten edelmetale, te onttrek. Jy weet ook dat jy nie direk met die VSA handel dryf nie, en indien jy wel doen, lewer jy 'n onvervangbare en noodsaaklike produk, dus gaan die resessie jou nie raak nie.

Met so 'n uitkyk hoef jy nie bekommerd te wees nie. As jy op hope kontant sit, reg om te belê, behoort jy eintlik jou lippe af te lek vir die komende geleentheid. Nie dat die meeste van ons op hope kontant sit nie, maar as jy doen, kan jy maar weet dat daar in die volgende 12 maande ten minste 'n gedeeltelike ineenstorting van markte sal plaasvind.

'n Resessie is sleg en dit is niemand se skuld nie, maar dit verrig 'n belangrike funksie in die ekonomie. Dit sorg dat meer kontant in produktiewe bateklasse belê word en dit verlaag gewoonlik inflasie op 'n veel beter wyse as wat 'n rentekoersverhoging kan doen, tensy die verhoging natuurlik 'n resessie veroorsaak, soos binnekort die geval sal wees. En dit is tog nie wenslik nie.

Inflasie is sleg, maar 'n resessie is erger. Ten minste kan ons nou kalm bly en die beste daarvan maak. Pyn oor die kort termyn sorg vir groot welvaart oor die lang termyn. Mits jy kalm bly.

  •  
  •  
  •  
Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close