My Gesondheid -

Boelies by die skool

Enige vorm van afknouery is skadelik vir ’n kind se groei en ontwikkeling, omdat dit sielkundige gevolge het wat vir jare kan duur en ’n lae selfbeeld tot gevolg kan hê. Sommige kinders kan afknouery beter hanteer, maar vir ander verhoed dit dat hulle ’n normale lewe lei. Dis daarom uiters belangrik om afknouery aan te spreek sodra jy die eerste tekens daarvan bespeur.

 

Tekens dat jou kind afgeknou word:

  • Kry gereeld nagmerries
  • Sukkel om te slaap
  • Verloor belangstelling in stokperdjies of skoolwerk
  • Skoolpunte verswak
  • Is meer gereeld afwesig weens siekte
  • Onverklaarbare beserings
  • Verlies aan eetlus
  • Verloor belangstelling is sosiale aktiwiteite
  • Voel magteloos
  • Veranderings in normale gewoontes
  • Praat oor selfmoord
  • Destruktiewe gedrag
  • Wil nie skool toe gaan nie

 

Soorte afknouery:

Verhoudings-afknouery

 

Die soort afknouery kom voor wanneer byvoorbeeld stories oor iemand versprei word, hulle van die groep of van alledaagse aktiwiteite uitgesluit word, verneder of geteister word, of ander eenvoudig weier om met hulle te praat.

 

Fisieke afknouery

 

Hierdie soort afknouery is net so skadelik soos verhoudings- of verbale afknouery maar toon uiterlike tekens. Dit sluit in om iemand te slaan, skop, stamp, hul besittings te steel of weg te steek, of hulle te dwing om iets te doen wat hulle nie wil nie.

 

Verbale afknouery

 

Verbale afknouery sluit in om iemand sleg te sê, te terg, beledig, uit te tart, of te verkleineer deur harde woorde te gebruik – gewoonlik in die teenwoordigheid van ander in hul portuurgroep.

 

Wat jy as ouer moet doen:

 

  • Vra die regte vrae

Party kinders sal nie wil erken dat hulle afgeknou word nie, en in sulke gevalle moet jy hulle kalm en sonder vooroordeel benader indien jy vermoed dat afknouery plaasvind. Wees geduldig en gee hulle geleentheid om jou in hul vertroue te neem. As hulle nie gemaklik voel om met jou te praat nie, vra iemand wat hulle vertrou om te help.

 

  • Luister kalm

As jou kind teenoor jou erken dat hy of sy afgeknou word, is die beste opsie om objektief na hom of haar te luister. Moet nooit aantygings maak of die skool gaan besoek sonder om eers met jou kind te praat nie – luister kalm na hulle.

 

  • Betrek jou kind

Vra jou kind om met oplossings vir die probleem vorendag te kom. Dit sal jou kind laat voel dat hy of sy in beheer van die situasie is deur rasioneel te besluit om die situasie op ’n volwasse manier te benader.

 

  • Implementeer rolspel

Die beste manier om jou kind vir die volgende afknousessie voor te berei, is deur rolspel – jy kan die rol van die boelie speel en met jou kind oefen wat hy of sy in die situasie sal doen. Dit berei hulle voor en verlig tot ’n mate hul angstigheid.

 

  • Verseker jou kind

Dis altyd belangrik om jou kind te verseker dat dit nie sy of haar skuld is nie. Boelies teiken gewoonlik ander kinders weens jaloesie, om van hul eie probleme te ontsnap, of in ’n poging om self belangrik te voel weens hul eie onsekerhede – dit het hoegenaamd niks met jou kind te doen nie.

 

  • Bou jou kind se selfvertroue

As jou kind geboelie word, is hul selfvertroue gewoonlik die eerste wat ’n knou kry. Bou jou kind se selfvertroue deur hulle in te skryf vir ’n fisieke aktiwiteit waarin hulle kan presteer, ver verwyder van die afknou-omgewing. Sê altyd vir jou kind hoe belangrik hy of sy is en watter waardevolle bydrae hulle tot die samelewing maak.

Lees ook: Wanneer skoolsport nie meer speletjies is nie

 

  • Kry hulp by die skool

Elke skool behoort ’n beleid oor afknouery in plek te hê om te voorkom dat afknouery ’n groot probleem word. Onthou dat onderwysers gewoonlik laaste uitvind van moontlike afknouery, daarom moet jy hulle met respek benader en hulle bewus maak van die probleem. Goeie onderwysers sal nie huiwer om op te tree en afknouery dadelik stop te sit nie.

 

  • Hou ’n rekord by

Dis belangrik om rekord te hou van elke insident wanneer dit gebeur, deur dit in ’n dagboek aan te teken. Dit sal jou nie net help om die omvang van die afknouery te monitor nie, maar sal ook as bewyse dien sou die saak regsgevolge hê.

Lees ook: Speel rég, word slim

  •  
  •  
  •  
cilleste Deur cilleste


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close