Is boere en hul probleme nie belangrik genoeg?

Geskryf deur: Connie Mulder


In 1998 waarsku President Nelson Mandela dat plaasaanvalle ernstige en onmiddellike aksie vereis. Dit is nou 20 jaar en duisende moorde later.

 

Die feit dat ons nou eers ʼn daadwerklike debat in die parlement daaroor het, is ʼn skande. Deur sy versuim om dit aan te spreek is die ANC se hande vol bloed. In antwoord op die vlaag plaasaanvalle het die ANC eerder die kommandostelsel afgeskaf, geweier om die probleem te erken en boere verguis as rassiste. Die boodskap van die ANC-regering af was, en is steeds, duidelik – boere en hulle probleme is nie ʼn prioriteit nie.

 

Dit is ʼn uiters kortsigtige en gebrekkige siening. Daar is ʼn Afrika-idioom wat lui: “ʼn Honger man is ʼn kwaai man.” Ons het genoeg kwaai mense in Suid-Afrika. Die laaste ding wat ons kort is om ʼn voedseltekort by hierdie kruitvat te voeg. Helaas is die ANC te besig met selfverryking om agter te kom die kos op jou tafel kom nie uit die niet uit nie. Retoriek oor grond en boere raak al hoe meer roekeloos, en nog skuld word spesifiek op wit boere se reeds oorlaaide skouers gepak. Dit het reeds tot ʼn massiewe afname in kommersiële boere gelei.

 

Hopelik kan dié debat in die parlement die nood van ons boere uitwys, en ʼn paar ongemaklike feite rondom plaasmoorde aan die groot klok hang. Ek verwag nie daadwerklike aksie van die ANC nie, dit sal behels dat hy sy snoet uit die trog uit haal en regeer. Tog hoop ek dat ons met die debat net een boer se lewe red, hetsy deur bewusmaking, of druk op ʼn oorwerkte polisieman, of selfs ingryping van regeringskant af.

  •  
  •  
  •  
  •  
Deel hierdie:

Leave a Reply

Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close