Algemeen -

Boere se lot 'n wekroep vir alle Afrikaners

Dit lyk seker ironies dat ek wyle Steve Biko, wat 'n swartbewussynsfiguur was, se woorde leen om hierdie blog mee af te skop. Hy het sowat 40 jaar gelede die volgende stelling gemaak: “Swart man, jy is op jou eie.” Selfs as jy “swart man” vandag met “boer” vervang, bly hierdie ikoniese woorde net so treffend, relevant en waar 40 jaar nadat hy dit gesê het – al verskil die kontekste hemelsbreed.

 

Ná vandeesweek se gebeure is dit duidelik dat boere nie op die staat of selfs die media aangewese moet wees in hul stryd teen plaasaanvalle nie.

 

Swart Maandag was egter om verskeie redes 'n reuse-sukses. Dit was nie oral gewild nie en dit moes verwag word, maar selfs uit hierdie ongewildheid het daar talle lesse en boodskappe gespruit waarop ag geslaan moet word. Ons potentate en die media leef in een groot ontkenningswaan oor die probleem en is myns ten minste aandadig aan hierdie vloek. Baie keer is dit meer as net aandadigheid.

 

Eerstens het die polisie se hooggeplaastes omtrent 'n aar gebars, maar nie oor die moorde nie. Die feit dat hulle en die Engelse hoofstroommedia dit als oor die ou vlag wil maak sonder om eers erkenning te gee aan die pandemie van plaasmoorde, is tekenend daarvan dat hul politieke korrektheid en ontkenningsdrang nie genees kan word nie. Daar kan nie op hulle staat gemaak word in hierdie stryd nie. Die wil bestaan in die eerste instansie nie.

 

Die adjunkminister van polisie, Bongani Mkongi, se grammatikafout-besmeerde verklaring oor Afriforum stink van die leuens. Van wat mens daarvan kan uitmaak (dit is régtig swak geskryf en vol klakkelose beweringe), beskuldig hy Afriforum daarvan dat die organisasie vlae verbrand en nes ISIS optree. Sonder om enige voorvalle te noem om hierdie aantygings te staaf, raak die adjunkminister liries oor die grondwet se mandaat oor die polisie en hoe die organisasie daar is om almal te beskerm en hoe die Swart Maandag-optoggangers juis nie dit as doelwit het nie. Terme soos “Hitler facist mafia” en “International stability nemesis” is ook lustig rondgeslinger sonder dat mens weet wat dit als beteken.

 

Buiten dat deurspek is van valshede, het die verklaring daarbenewens 'n paar subtekste. Die hele verklaring se strekking dui daarop dat daar nie eens erkenning aan plaasmoorde gegee word nie. Dis nie die EFF of Black First Land First (BLF) wat dit uitgereik het nie (al lyk dit so), maar die polisie wat almal glo moet beskerm. Die swak skryfwerk dui ook op die vlak van onbevoegdheid wat daar heers in die staat. As mens nie eens meer noukeurig met 'n verklaring kan wees en sulke flagrante foute kan raaksien en regstel nie, hoe moet sulke mense ons nog beskerm? Dit wys ook tot watter mate hulle eintlik Afriforum as 'n rolspeler ag. Hulle moes iemand of iets teiken en hulle het gekies om Afriforum te teiken. Dis 'n reuse-pluimpie.

 

Ook vandeesweek het lt.genl. Lesetja Mothiba, waarnemende (hoe anders?) nasionale polisiekommissaris, jeens die portefeuljekomitee oor polisie gebieg dat landelike areas met nog minder polisielede gaan moet klaarkom omdat die stede 'n groter prioriteit is. Dit is strydig met Fikile Mbalula, minister van polisie, se planne om meer hulpbronne toe te wys aan die platteland en terselfdertyd plaasaanvalle te keer. Mothiba erken dat daar reeds 'n nypende tekort aan polisiebeamptes in landelike areas is en dat baie polisiekantore op die platteland nie eens meer 'n padblokkade kan hou nie. Dit is ten minste eerlik, maar ook ontnugterend.

 

Daarbenewens moet bygevoeg word dat die opleiding, bevoegdheid en moraal van die polisiebeamptes op die platteland veel te wense oorlaat. Die goeie beamptes word boonop na die stede ontplooi (waar meeste mense buitendien wil bly) en diegene wat op die platteland diens doen, het stellig nie oral die vaardighede om gesofistikeerde plaasaanvalle hok te slaan nie.

 

Die argument oor die polisie se rol in die bestryding van plaasmoorde begin en eindig ongelukkig met hierdie feite. Al wou hulle boere beskerm, kán hulle bloot net nie. Dis 'n realiteit wat ons in die gesig moet staar en wat ons beplanning moet rig.

 

Maar soos gesien met die polisie en Cosatu se reaksies op Swart Maandag, bestaan die wil nie waar dit moet nie. Nog 'n teken van hoëvlak-ongevoeligheid het gekom van adj. pres. Cyril Ramaphosa. Die man wat straks die volgende president van die land kan word, het die moorde op boere wel erken maar dit erg onderspeel in die Nasionale Raad vir Provinsies. Hy het met baie groter oorgawe gevra dat boere ophou om hul plaaswerkers aan te rand en dood te maak, berig Landbou.com. Weer eens het hy geen bewyse gelewer dat dit 'n nypende en algemene probleem is nie en toe net 'n strooipop daarmee probeer skep. Volgens hom moet die staat en polisie glo ingryp om sulke gevalle stop te sit (terwyl hy nie dieselfde maatreëls vir boere se moorde gevra het nie).

 

Moet dus nie verwag dat die probleem deur enige ANC-administrasie met oorgawe getakel gaan word nie. Ramaphosa is deel van die probleem deur deel van die regering te wees en sy onkunde en valse nederigheid herinner my aan die Jacob Zuma van tien jaar gelede. Ná 'n paar jaar as president gaan Ramaphosa, nes Zuma, waarskynlik net sy onkunde oorhê en 'n groot maat hubris bykry.

 

Op die koop toe was Zuma self tjoepstil oor als wat vandeesweek gebeur het. Groot dele van die publiek is ook heeltemal ongevoelig teenoor die saak van plaasmoorde.

 

Hierdie minagting en ongevoeligheid sterk ook veel wyer as net plaasboere en is eintlik van toepassing op alle Afrikaners. Die staat en ANC minag almal in die land, maar dit is uiters akuut ten opsigte van die groep wat die land voor 1994 regeer het. Die regering, ANC en misdadigers tref nie 'n onderskeid tussen Afrikaanse boere van die platteland en Afrikaanse stadsjapies nie.

 

Daar is dus 'n paar moeilike lesse wat ons as gemeenskap en boere vandeesweek moes leer en dit sal naïef en betekenisloos wees as ons nié op hierdie lesse ag slaan nie. Boere moet dus grootliks op hulself en mekaar, asook hul geloof en hul organisasies aangewese wees in hierdie stryd want die regering kan en wil nie help nie. Ditto Afrikaners as suksesvolle maar ongewilde minderheidsgroep. Saamstaan is nie 'n opsie nie. Dis 'n noodsaaklikheid. Die waarheid maak helaas seer, maar dit bring bevryding en uiteindelik ook gemoedsrus omdat mens die probleme daadwerklik kan takel sonder om nog te wonder en in 'n idealistiese afhanklikheid te leef.

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Eugene Brink


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close