Algemeen, Politiek, SNI -

Bon Voyage Jacob Zuma

Hierdie is die tipe traumatiese afskeid wat jy slegs by lughawens se vertreksale sien. Jacob Zuma klou aan ons vas en loop dan tranerig deur die hek. Skielik swaai hy om en waai nog een keer. Dan, hopelik, verdwyn hy deur sekuriteit op sy vliegtuig Dubai toe.

Hoe het ons hier gekom? Waarom is ons besig om so lang, morsige afskeid te neem van 'n president wat as 'n natuurramp herklassifiseer behoort te word?

Die antwoord is eenvoudig – Jacob Zuma is 'n goeie kaartspeler. Hy het nou al herhaaldelik laat blyk dat hy vas oortuig is Ramaphosa en die ANC bluf, en hy roep hulle daarop.

Met die uitstel van die staatsrede en gisteraand se NUK-vergadering is ons nou uiteindelik in die posisie waar elke speler hulle hand moet wys.

Hy is glo 48 uur gegee om te bedank. Een van drie scenario’s gaan uitspeel in die volgende tydvak.

  1. Zuma bedank en gaan stil heen.Mens skop nie 'n man wat lê nie, maar dan moet hy stil lê.
    Tans is Zuma nie besig om stil te lê nie.
    Gisteraand het die NUK 'n amptelike versoek van die party af gestuur, wat Zuma vra om in belang van die party te bedank.
    Die hoop is dat Zuma finaal besef sy hand is nie naastenby sterk genoeg nie. Hy kan nog speel vir tyd tot op die laaste, maar daar is geen uitkomkans nie.
    Vanaand of môre-aand kan hy een laaste keer die Engelse taal vir 'n uur lank martel terwyl hy sy afskeidstoespraak lewer. Dan gaan hy sy masjiengeweer inpak en wegry in die sonsondergang in – of Dubai toe.

    Vir die ANC is hierdie ideaal – hoe vinniger hulle van Zuma ontslae kan raak, hoe beter. Die man het 'n lopende verleentheid geword – en dit is al effe te naby aan 2019 se verkiesing vir hulle om al die skade te herstel.
    Sy bondgenote op die NUK en Top Ses het vinnig besef dat die nuwe koning altyd meer geleenthede bied as die ou koning en oorgeslaan van Zuma na Ramaphosa.
    So-ook het Ramaphosa meesterlik dit laat lyk asof hy agteroor gebuig het om 'n eerbare uitgang vir Zuma te orkestreer. Dit maak dit bitter moeilik om aan Zuma se kant te bly as jy jou eie loopbaan wil voortsit in die ANC.

  2. Zuma stry teë en word uitgegooi deur 'n mosie van wantroue. 

    Alhoewel dit gewoonlik oorvleuel, is die president van die land en die president van die ANC nie eintlik dieselfde posisie nie. Tans is Ramaphosa president van die ANC, maar Zuma president van die land. Dit beteken dat Zuma op 'n versoek van die ANC om hom te herroep eenvoudig kan sê: “Nee!”.Die ANC kan hom skors en doen wat hulle wil, hy bly president van die land met vol uitvoerende mag. Daar is 'n ander manier om 'n sittende president te verwyder, dit is 'n mosie van wantroue deur die parlement.
    Logies maak dit net sin, dat indien die regerende party beheer oor 'n president verloor het, hulle parlementêre meerderheid gebruik word om hom te herroep.
    Normaalweg sou Zuma wat hom teëstaan vinnig lei tot 'n mosie van wantroue deur die ANC, en sy verwydering. Hierdie keer is daar 'n kinkel in die kabel.

    Die EFF en DA se duisendste mosie van wantroue is eerste geskeduleer. Die speaker gaan moeilik regverdig dat die ANC se mosie voor die opposisie se mosie aangehoor moet word – veral as dit oor presies dieselfde ding gaan.
    Vir die ANC is dit 'n nagmerriesituasie. Indien Zuma deur 'n opposisiemosie uitgegooi word gaan die opposisie dit as 'n reuse oorwinning vier. Veral die DA kort desperaat 'n wen om die aandag van die Kaapse waterkrisis af te trek, en gaan herhaaldelik uitbasuin dat hulle Jacob Zuma verwyder het.
    Met 2019 se verkiesing in gedagte sal dit bitter sleg wees vir die ANC om 'n opposisiemosie te ondersteun. Wat oorbly is om dan te wag en hom later met 'n mosie van wantroue uit te sorteer.

    Dit sal die een ding vir Zuma gee wat hy soek – tyd.

  1. Zuma gooi anker en word verwyder deur hom in 'n staat van beskuldiging te plaas (Impeachment). 

    Die laaste wettige metode om van 'n sittende halsstarrige president ontslae te raak is 'n mosie om hom in 'n staat van beskuldiging (Impeachment) te plaas deur die parlement.
    Twee-derdes van die parlement moet die mosie steun – maar dit is 'n meer gewigtige saak as eenvoudige wantrouemosies. Indien 'n president so verwyder word verloor hy alle voordele, soos pensioen, en mag hy nooit weer as verkose amptenaar optree nie.
    Dit sal regverdig wees as ons nie hoef op te dok vir Zuma se lewenslange pensioen nie.As ANC is hierdie situasie een wat katastrofies kan wees. So mosie en die proses daarna is 'n uitgerekte besigheid, met Jacob Zuma wat steeds as meulsteen om die ANC se nek gaan wees. Ook sit jy dan met 'n gekweste leeu in Zuma, wat so ver as hy gaan die laaste van sy uitvoerende mag gaan gebruik om landmyne te los vir die inkomende president en sy eie bas te red.
    Die proses word soms gevolg deur strafregtelike klagtes teen die uitgaande president. 'n Lang uitgerekte hofsaak oor die meriete van Zuma se presidentskap is die laaste ding wat die ANC so kort voor 2019 se verkiesing wil hê.

Watter een van die scenario’s uitspeel sal afhang van die onderskeie rolspelers.

Ramaphosa is 'n goeie onderhandelaar, maar hy waag politieke kapitaal so vroeg in sy ampstermyn. Indien Zuma hom effe suksesvol kan teësit sal daar twyfel oor Ramaphosa se magsbasis as president van die ANC wees.
Gevolglik sal Ramaphosa gretig wees om stil van Zuma ontslae te raak, maar daarvoor gaan Zuma 'n paar toegewings eis. Wat presies belowe en bepaal word sal interessant wees, maar daar is groot aansporing om die pleister af te ruk en die pyn vinnig oor te kry.

Indien Zuma besluit om te baklei, kan hy die ANC seermaak. Dit sal 'n streep deur sy lewenswerk en nalatenskap trek, maar desperate mense is gevaarlik. Indien dit duidelik word dat hy vervolg gaan word dan word dit 'n lewe-of-dood geveg vir hom. Zuma is tans 75, 'n skuldigbevinding behoort tot sy afsterwe in aanhouding te lei.
Die een troefkaart wat Zuma het is dat hy steeds groot invloed op die Zoeloes, veral in Natal, uitoefen. Daar is bestaande ongelukkigheid oor die feit dat daar geen Zoeloe in die Top Ses van die ANC is nie, hy kan dit uitbuit en die ANC seermaak in een van sy sterk vestings.

Realisties behoort Zuma alles wat hy kan uit Ramaphosa uit te kry, en dan te bedank. Tog moet ons onthou, Zuma het nog redelik mag, en as hy dink hy het niks om te verloor nie kan hy bitter gevaarlik wees.

Meeste politieke loopbane eindig in trane, soms trane van hartseer – in Jacob Zuma se geval trane van blydskap.

  • 84
  •  
  •  
  •  
Connie Mulder Deur Connie Mulder


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close