Algemeen -

Border Hotel is op die grens van hemels wees en die personeel het “ons-sal-self”-vlerke

Jan Kempdorp is dalk 'n klein dorpie, maar daar, so op die grens tussen die Noord-Kaap en Noordwes, staan 'n groot juweel. Hierdie juweel sou ons egter nie ontdek het as dit nie was vir die nuus oor die personeel van die Border Hotel se lofwaardige optrede in moeilike tye nie.

Dit is alombekend dat die Covid-19-pandemie 'n rampspoedige uitwerking op die ekonomie het. Soveel te meer is die impak dan ook op die toerismebedryf, een van Suid-Afrika se bedrywe wat die meeste werk skep. Dit is dus vanselfsprekend dat die impak van die pandemie verreikende gevolge vir hierdie bedryf het. Daarom is dit te verstane dat die regering 'n hulpfonds het om toerisme-ondernemings te help om finansiële verliese wat weens die pandemie gely is, te kan dra. Dit is egter glad nie te verstane dat 'n regering wat oor “gelykheid” praat, hulp kan weerhou van mense omdat hul vel te lig van kleur is nie. Ongelukkig het die regering telkemale bewys dat hulle Suid-Afrikaners vir die verkeerde redes kan verras, en die Toerisme-ekwiteitsfonds (TEF) is nog so 'n geval.

Ongeag wat die demografiese eienskappe van toerisme-ondernemings se personeel is, word hulp geweier as die bestuur van so 'n onderneming nie swart is nie. Dit is dan vanselfsprekend dat baie mense binne die toerismebedryf onder die ras-mal-beleid ly, ongeag wat die pigment van hul vel is. Die Border Hotel het ongelukkig ook weens hierdie beleid gely en die 22 personeellede het hul afleggingsbriewe met swaar harte ontvang. “Dis die seerste seer as jy onwelkom voel in jou eie land,” sê Johanna Jonas, personeelhoof, in reaksie op die feit dat hul aansoek om hulp van die regering te kry, afgekeur is. Wat hierdie hotel anders maak, is egter die feit dat die personeel toe sê dat hul “tweede pa” en mede-eienaar van die hotel, Bennie Liebenberg, hulle geleer het om “nie bakhand by die regering te staan nie”.

Die personeel het besluit om sonder vergoeding aan te hou werk om die hotel te red, want hulle sê, “ons is 'n familie en die hotel is vir ons en ons kinders 'n huis”. Dit is hierdie optrede wat Solidariteit geïnspireer het om na Jan Kempdorp te reis om die Border Hotel te ondersteun en dieper te delf in die noemenswaardige verhaal wat 'n voorbeeld is van 'n gemeenskap wat sê: “Ons sal self.” Ons span kon by hulle iets leer van self-doen, en die mede-eienaar, Bennie, het weer met trane in sy oë by ons verneem van die liedjie wat vir hom hoendervleis gegee het: “Ons sal self”.

'n Mens kan nie anders as om bewoë te raak oor die toewyding en ywer waarmee die hotel se personeel hul take verrig, ondanks die feit dat hulle nie 'n salaris gaan verdien nie. Die lof waarmee hulle oor hul werkgewer, Bennie, praat het egter verklap waarom hulle met soveel passie by die hotel werk. Aan die ander kant het Bennie ook vol sekerheid gesê dat 'n mens nie aldag so 'n span mense bymekaar kry soos sy personeel, of dan sy “kinders”, nie.

Die verhouding is voorwaar spesiaal; die dinamika by die hotel skep regtig 'n unieke, huislike-atmosfeer. Boonop kan besoekers baie luuks kuier, eet, oornag en in die pragtige pekanneutboorde fietsry en stap.

Die storie van die gewillige personeel en die mooi verhouding tussen die werkgewer en werknemers, ondanks die politieke en pandemie-klimaat, skep hoop vir diegene op moedverloor se vlakte. Voorts is daar nog 'n kant van die muntstuk wat hoop skep: Die gemeenskap van Jan Kempdorp het saamgestaan om die hotel, wat 'n gewilde bymekaarkomplek en trekpleister is, te ondersteun. Met die gemeenskap wat dan ook gesê het: “Ons sal self 'n hulpfonds wees vir ons hotel,” het dit moontlik geword om die afleggingsbriewe terug te trek die dag voor ons besoek aan die hotel.

Die nuus is natuurlik met groot vreugde ontvang en ons span deel in die opwinding dat die pragtige hotel, wat reeds sedert 1897 bestaan, se deure en arms/vlerke oopbly.

Geskryf met groot waardering vir elkeen van die Border Hotel se personeellede:

  • Felicia Phillips
  • Patricia Swanepoel
  • Mpho Rebecca Pheko
  • Emily Mongolame
  • Shanty Fisher
  • Bianca Rooi
  • Nadia Oss
  • Ibo Kashanga
  • Johanna Jonas
  • Michelle Pelser
  • Thruline Louw
  • Mary-Ann Kock
  • Beverley Tilling
  • Michelle Fish
  • David Mojaki
  • Lucricia Kgamelo
  • Joseph Madito
  • Rosa Jonas
  • Ruth Mucheri
  • Portia Maleko
  • Kerneels Pholoana
  • Martha Thinta

  •  
  •  
  •  
René Krüger Deur René Krüger


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close