Algemeen, Nuus, Politiek -

Breë Basis Swart Ekonomiese Bemagtiging maak ons rasbehep.

“Ons is jou nommer een keuse; 100% swart vroue-eienaars prokureursfirma in Johannesburg, Pretoria, en Kaapstad.” blêr die advertensie oor die radio.

“Ons is ’n vlak een BBBEE geakkrediteerde maatskappy,” volg ’n ander een hom op.

Wat hierdie advertensies mee spog is dat hulle absoluut geen witmense, of mans in die geval van die eerste advertensie, op hulle bestuur het nie. Die vraag wat smeek om beantwoord te word, is: Wanneer het ons as ’n land, en as ’n kollektief, dit begin aanvaar dat sulke feite gevier moet word?  Wanneer het die rasseprofiel van ’n firma se bestuur meer belangrik geword as die vaardighede, kwalifikasies, of ervaring van daardie firma?

Die praktiese antwoord is sekerlik dat ons wette tans só opgestel is dat dit lonend is om op die hoogste vlak van die Swart Ekonomiese Bemagtigingsleertjie te kom. Hoe meer wit direkteure jy uit kan laat tree, of op vroeë pensioen kan stuur, en hoe meer nuwe direkteure jy kan aanstel wat aan die regte ras en geslagsprofiel voldoen, hoe meer word jy daarvoor beloon deur groot maatskappye, en die staat.

Waar die droom wat Suid-Afrika sou wees na 1994 ’n nie-rassige een was, het ons meer rasbehep as ooit geword. In die naam van transformasie word verdienste by die deur uitgegooi, en aanstelling op iets so arbitrêr as ras nie net aangemoedig nie, dit word beloon; dit word gevier.

Die uiteindelike effek van Swart Ekonomiese Bemagtiging kan nie net statisties gemeet word nie, alhoewel die statistieke saamstem dat dit misluk. Waar 33,5% van alle besigheidseienaars in 2015 swart was, is hierdie syfer in 2017 maar 27,8% gewees. Swart werkloosheid is tans hoër as wat dit was tydens internasionale sanksies op Suid-Afrika, en jeugwerkloosheid klop-klop aan 60% se deur.

Verder as die statistieke sit die realiteit waarmee ons by Solidariteit Jeug daagliks sit. Jong chemiese- en siviele-ingenieurs, wat in meeste gevalle van Graad 4 tot Graad 12 in hul klasse se top 10 was, wat vir vier of vyf jaar ten duurste gaan studeer het om hierdie skaars kwalifikasie op te doen, kry eenvoudig nie werk nie. Juis hierdie afdelings van ingenieurswese word getref, omdat hulle tipies op groot projekte moet werk en deur groot firmas aangestel moet word. Sodra ’n firma ’n omset van meer as 50 miljoen Rand het, geld die strengste Swart Ekonomiese Bemagtigingsvereistes natuurlik.  Hierdie jong ingenieurs gaan gee dan in baie gevalle vir maande of jare lank skool. Daar is natuurlik niks daarmee fout om skool te gee nie, dit is ’n edel en noodsaaklike werk, maar dit is nie waarvoor hierdie jongmense opgelei is nie. Dit is nie hulle roeping of droom nie.

Statisties sal geen navorser optel dat hierdie jongmense uitgedruk is nie, juis omdat hulle statisties baie beter vaar as meeste. Hulle het ’n werk, ’n stabiele inkomste en so te sê meer as genoeg.  Nietemin dryf hierdie onder-indiensname heelparty jongmense landuit, en nie agter ’n droom aan nie, maar eerder weg van ’n mislukking af.

As die rasseklassifikasie wat deur Swart Ekonomiese Bemagtiging veroorsaak word, normaal word, aangespoor word én gevier word, raak dit duidelik vir hulle van die sekondêre klasse dat hulle nie welkom is nie, en raak dit duidelik vir die breë publiek dat prestasie, meriete en vermoëns álles sekondêr staan tot die kleur van jou vel.

  • 56
  •  
  •  
Paul Maritz Deur Paul Maritz


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close