Solidariteit Blog
Uncategorized @af -

Brugtragedie: “Ek het nie genoeg met my kind gespeel nie” – ouer

Vir die eerste keer in 14 dae is daar stilte. Stilte om te dink en stilte om die skok te verwerk. Die begrafnisse is verby en nou het die ouers van die slagoffers van Hoërskool Driehoek die onmoontlike taak om aan die stilte gewoond te raak – vir vier gesinne is dit ’n permanente stilte. Kamers staan leeg, tandeborsels moet weggegooi word, honde en hoenders moet nuwe eienaars kry.

Die ouerpare van die groep slagoffers wie se lewens tydens die brugtragedie op 1 Februarie 2019 by Hoërskool Driehoek onherroeplik verander is, doen alles in hulle vermoë om kop bo water te hou. Dit is te verstane. Niemand berei jou voor vir die verlies van ’n kind nie. Geen ouer – ongeag ras of ouderdom – is ooit gereed om hul kind te begrawe nie.

Hierdie vier gesinne se huise staan vol ruikers blomme en kleurvolle briefies wat getuig van die propvol lewens wat hul oorlede kinders in so kort tydjie gelei het. Een van die ma’s sê sag terwyl sy na die ruikers vir haar kind kyk: “Ek het geweet my kind is iemand besonders, maar ek dink ons as ouers word gewoond aan ons wonderlike kinders omdat ons hulle elke dag sien. Ons begin amper miskyk hoe spesiaal hulle is. Dit roer my hart om vandag hier te sit en fisies te sien watter impak my kind op ander se lewens gehad het. Ons is so trots op hom en sal dit steeds elke dag vir die res van ons lewens wees,” sê sy saggies terwyl die trane al in ’n gevestigde paadjie teen haar wang afloop.

Ouers is nie veronderstel om hul kinders te begrawe nie en hul emosies is nog baie rou. Dit gaan nog lank so wees. Hoe skryf ’n mens oor ’n seer wat min van ons nog beleef het? Hoe gaan soek ’n mens die woorde wat ontbreek? Hoe beskryf ’n mens die kyk in gesinne se oë en die verlange in hul stemme? Hoe bemoedig ’n mens hulle? Jy doen dit nie. Jy maak net seker dat jy daar is as hulle nie meer kan staan nie. Jy deel in hulle stilte.

Daar is vandag leerlinge wat danksy ’n nietige blompot genadiglik nie die volle mag van die betonblok ervaar het nie. Daar is steeds leerlinge wat in verskeie hospitale aansterk. Hul liggame is in baie gevalle geweldig beseer en die pad vorentoe is onseker. Maar hulle is steeds hier.

“My kind het onder die betonblok gelê. Sy het soveel bene in haar liggaam gebreek. Haar liggaam gaan altyd die storie van die tragedie vertel. ’n Gedagte wat oor en oor in my kop rondmaal is dat ek voor hierdie voorval nie naastenby genoeg met haar gespeel het nie, maar waar moet ’n mens tussen werk en skoolverantwoordelikhede die tyd kry? Waar moes ek die tyd kry? Sy is darem nog met ons en dít gaan verseker van hier af verander,” sê ’n emosionele pa, wie se dogter nog in die Milpark Hospitaal in Johannesburg behandel word.

’n Ander ouer van die skool, Lucille Olivier, sê die tragedie was een wat alles verander het. “Dit kon my kind gewees het. Hy was so naby en het gesien hoe sy bebloede vriende onder die betonblok vasgekeer is. Hy het gehoor hoe hulle hulpeloos om hulp én van pyn skree. My kind was baie na aan die ongeluk. Ek sidder steeds om daaraan te dink,” het sy gesê.

“My foon het om 08:30 die oggend gelui. Dit was Stephan. Ek het eers gedink hy bel omdat hy iets by die huis vergeet het, maar toe kom sy angsbevange stem deur. Daar was ’n ongeluk en kinders het seergekry.” Sonder keer het dit deur haar kop gemaal wie van sy maats seer gekry het en aanvanklik het sy gewonder of ’n ongeluk by die skool werklik só ernstig kan wees.

“Ons as ouers het almal daardie oggend ons kinders by die skool afgelaai. Hulle was okey. Ons het gesoen en gewaai. Die droom van hulle belowende toekoms het helder geskitter. Die dood was die laaste gedagte in ons koppe. Mens dink nie aan jou kind se dood nie, en nog minder aan so ’n grusame dood,” tref die realiteit weer. Sy raak stil.

Die volgende oomblik het haar foon onophoudelik begin lui en almal wou weet of haar seun veilig is. “Stephan is fisies okey, maar emosioneel deur ’n hel wat nie eers ek kan begryp nie. Hulle almal is. Hoe behandel ’n mens wonde wat nie gesien kan word nie en wat nie met steke of ’n operasie reggemaak kan word nie?” Dit is die vraag op baie van die ouers se lippe.

Haar woorde bly by my. “Hierdie tragedie is nie ’n sekere ras se tragedie nie – wit en swart kinders het seergekry. Wit en swart kinders het saam gehuil. Mense van alle rasse het mekaar omhels en mekaar vasgehou. Die kinders van Hoërskool Driehoek is almal óns kinders. Dit is ons álmal se tragedie.”

1 Februarie 2019 is die dag wat alles verander het. Mag ons meer tyd hê om met ons kinders te speel. Mag ons meer tyd máák.

  • 1.8K
  •  
  •  
Mia Slabbert Deur Mia Slabbert


Back to top