Bruin, Indiër, swart en wit werkers van verskeie vakbonde, hoofsaaklik van die Wes-Kaap, gaan eerskomende Woensdag amptelik vra dat die voorgestelde wysigings aan die Wet op Gelyke Indiensneming teruggetrek word. Vakbondleiers uit Gauteng en KwaZulu-Natal gaan ook die perskonferensie bywoon.

SABC 2 berig oor die standpunt van Mildred Oliphant, die minister van Arbeid oor die verandering in arbeidswetgewing. Kyk deel 1 en deel 2.

 Kyk wat is president Zuma se standpunt.

 

Die groep gaan alternatiewe wysigings aan die huidige Wet aan die parlement, die departement van arbeid en Nedlac oorhandig.

 “Die huidige voorstelle is swak geformuleer en gaan beslis werknemers oor die algemeen en bruin en Indiër werknemers spesifiek benadeel. Die feit dat die departement van arbeid die ware bedoeling van die wysigings moet verduidelik, wys dat die Wet swak geformuleer is. Die enigste manier waarop die vertroue van werknemers herwin gaan word, is nie deur die wysigings te verduidelik en te verdedig nie, maar om dit terug te trek,” sê Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, wat ook deel van die groep gaan uitmaak.

 Die alternatiewe wysigings gaan fokus op die omstrede artikels 42(a)(i) en (ii) van die voorgestelde wysigings aan die Wet op Gelyke Indiensneming. Die artikels bepaal onderskeidelik dat die demografie van die ekonomies aktiewe bevolking (EAB) gebruik moet word by die toepassing van regstellende aksie en dat die poel van beskikbare vaardighede nie meer gebruik mag word nie.

 Solidariteit het in 'n verslag aangetoon dat indien die demografie van die EAB by die toepassing van regstellende aksie gebruik word, sowat 1 miljoen bruin mense in die Wes-Kaap en sowat 300 000 Indiërs in KwaZulu-Natal oorverteenwoordig sal wees.

 Die voorsitter van die kommissie vir gelyke indiensneming, Mpho Nkeli, het op 14 Augutus 2010 die volgende aan joernalis Chris Barron in The Times-Live gesê: “Whites in the workplace, at all levels, should be no more than 12,2% of the economically active population. “Africans” should be no less than 73%, coloureds 11% and Indians 3%.”

Hierdie uitspraak stem ooreen met Solidariteit se interpretasie van die voorgestelde wysigings en strook nie met die verduidelikings van die departement van arbeid nie. Solidariteit se interpretasie is ook gegrond op Jimmy Manyi se stelling aan die Federasie van Staal en Ingenieursbedrywe in die Beeld van 12 Mei 2010 dat “absolute verteenwoordiging die enigste maatstaf vir gelyke indiensneming is”, asook sy stellings oor bruin en Indiër Suid-Afrikaners wat reeds groot debat in Suid-Afrika ontketen het, volgens Hermann.

“Die wetswysigings word nie verkeerd verstaan nie, dit is verkeerd en daarom moet dit teruggetrek en vervang word met beter wysigings. Dít is presies wat hierdie groep vakbonde gaan doen,” voeg Hermann by.

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Dirk Hermann


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close