Kultuur -

Buitelanders komplimenteer Afrikaners – en jy?

Ek was die afgelope ruk aangenaam verras om verskeie komplimente van buitelanders te kry wat die Afrikanerkultuur bewonder. Dit is wonderlik, maar dit moet ook onder ons eie mense posvat.

'n Nieu-Seelander sê vir my dat hy verras en bly is dat Afrikaners waarde aan hul kultuur heg en aan hul geloof vashou. Hoekom staan 24 September dan onder ons as Braaidag bekend? Dit is Erfenisdag en ons erfenis is veel, veel meer as net braai. Hoekom versuim ons dan om Geloftedag te eerbiedig en vir ons kinders van die wonderwerk te vertel wat op 16 Desember 1838 gebeur het?

'n Sweed sê dit was vir hom wonderlik om tydens sy besoek aan Suid-Afrika te sien dat Afrikaners se geloof 'n kardinale rol gespeel het in die Afrikaner se geskiedenis, maar ook vandag steeds so belangrik is en uitgeleef word. 'n Amerikaner sê weer hy het dadelik opgelet dat geloof die fondament van die Afrikanerkultuur is. Tog bly ons stil wanneer geloof uit skole en universiteite geneem word. Hoekom?

Ek hoor dat “Afrikaners se veggees prysenswaardig is.” 'n Kroaat sê hy was tydens sy besoek aan Suid-Afrika verstom om te sien hoe Afrikaners se veggees selfs vandag nog na vore kom in sakeondernemings wat na onafhanklikheid en self-onderhouding streef te midde van al die politieke, rasgedrewe en ekonomiese druk.

Hoekom stel 'n ander Amerikaner dan die vraag aan my: “Hoekom sit Afrikaners nie veel meer van 'n stryd op teen die taalkwessie by die Universiteit Stellenbosch (US) as dié universiteit juis sy bestaan te danke het aan Jan Marais se £100 000 wat in sy testament (1915) aan die universiteit bemaak is op voorwaarde dat Afrikaans nie 'n mindere plek as Engels daar mag inneem nie?”

Nog 'n Amerikaner sê Afrikaners staan vas by hul waardes soos respek, gasvryheid en hardwerkendheid. Hoekom is daar dan soveel Afrikaners wat nie weet wat dit beteken om aan die Afrikanerkultuurgroep te behoort nie? Hoekom besoek ons nie meer Afrikaner- kultuurbesienswaardighede sodat ons en ons kinders van ons ryk erfenis kan leer nie?

As buitelanders ons veggees, deursettingsvermoë en standvastigheid kan raaksien, hoekom op die aarde is daar Afrikaners wat ontevredeis nadat Solidariteit die rassistiese toerisme-ekwiteitsfonds gestuit het, net omdat hulle na die regering se pype gedans het met die SEB-speletjie in die valse hoop dat hulle 'n kans sou staan om 'n sent van die fonds te ontvang?

'n Sweed noem ook dat hy die Afrikaners se strewe na 'n vreedsame, geordende samelewing en hul hardwerkendheid opgelet het. Hoekom is daar dan Afrikaners wat gal braak oor Orania wat dit regkry om met eie arbeid 'n vry, veilige en voorspoedige toekoms te bou?

Nee liewe Afrikaner, hoor jy nie wat selfs buitelanders in ons raaksien nie? Het jy vergeet van al ons heldedade en prestasies? Hou vas aan jou geloof, kultuur, waardes en strewe om deur hardwerkendheid 'n toekoms te bou. Jy mag trots voel. Ek is beslis trots!

  •  
  •  
  •  
René Krüger Deur René Krüger


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close