Algemeen -

Coligny: Waar is die woede as swart mense mekaar doodmaak?

Die huidige tragedie wat homself in Coligny afspeel skep by baie mense die verkeerde indruk dat wit mense – en veral Afrikaner-boere – uit gewoonte swart mense in Coligny, en elders in die land, vermoor. Dit is die prentjie wat deur die premier van die provinsie, Supra Mahumapelo, geskets is by Matlomola Mosweu se begrafnis Sondag. Wit mense as ʼn groep is verantwoordelik vir Mosweu se dood. Om iemand se begrafnis te gebruik om gemoedere verder op te sweep en rassehaat aan te blaas, is omtrent die laagste wat mens as leier kan daal. Dit is veragtelik en getuig van die laagste vorm van opportunisme.

 

Foto: Maroela Media

Daarmee het hy verder tot die atmosfeer bygedra waarin Pieter Doorewaard en Phillip Schutte reeds deur die gemeenskap en ook die wyer openbare mening skuldig bevind is. Dit is daarom logies dat toe hul borgtogaansoek (deur ʼn swart regter) toegestaan is omdat hulle nie vlugrisiko’s is nie en die saak teen hulle nie werklik sterk staan nie, daar ʼn sterk vermoede van ʼn regsdwaling sou wees en gevolglike geweld. Maar net so onverdedigbaar ʼn moord deur twee blanke boere op ʼn swart kind sou wees, is dit ewe onverdedigbaar dat alle wit mense se eiendom en fisieke sekuriteit in die gedrang kom terwyl die reg besig is om sy gang te loop. Dit gaan nie die kind terugbring nie en bied net dekking vir ander frustrasies om ontlont te word. Die saak gaan uiteraard voort en niemand is al skuldig of onskuldig bevind nie.

 

Maar dit was nie al nie. Behalwe vir die swart gemeenskapslede en die premier wat nou met alle mag die borgtog teenstaan, is dr. Mpho Motlhbane, LUR vir gemeenskapsveiligheid en vervoer, ook nou besig om ʼn appèl teen hul borgtog te bewerkstellig. Twee weke gelede het Supra se kantoor selfs ʼn verklaring hieroor uitgereik wat op die regering se nuusagentskap, SAnews.gov.za, gepubliseer is. Daarin loof hy die werk van die polisie en die gemeenskap om “misdadigheid” uit te roei. En dit terwyl die twee steeds net verdagtes is en hulle, soos enigiemand anders, eers skuldig bevind moet word deur die hof.

 

Dit laat my met een vraag: Hoekom hierdie uitermate woede en hoëvlak-ingryping oor een kind se dood terwyl daar stilte is oor duisende ander swart mense wat elke jaar deur ander swart mense vermoor word? En stilte oor elke ander ras se moordslagoffers? Daar is na raming sowat 18 000 moorde in Suid-Afrika, as die polisie se syfers geglo kan word. Hul syfers is egter uiters twyfelagtig en daarom kan dit selfs veel hoër wees, maar nie veel laer nie. Weens die demografiese en sosio-ekonomiese samestelling van die land, kan dit nie anders nie dat verreweg die meeste van hierdie slagoffers swart is. Dit is ook ʼn voldonge feit (gerugsteun deur heelwat geloofwaardige navorsing) dat die oorgrote meerderheid moordslagoffers in die land deur mense wat aan hulle bekend is, vermoor word. Selfs die EFF het tydens die plaasmoorddebat vroeër vanjaar aangevoer dat wit mense ʼn klein deel van alle moordstatistieke uitmaak.

 

Dit als beteken dat swart mense oorwegend deur ander swart mense vermoor word. As hul moordenaars wit was, sou tientalle of selfs honderde wit reeksmoordenaars ongesiens in townships, plattelandse nedersettings en ander areas wat grootliks of uitsluitlik deur swart mense bewoon word, moes rondsluip en hulle vermoor. Selfs die beste fiksieskrywers sou met iets beters vorendag moet kom om dit aanneemlik te laat klink.

 

Hoekom is daar dan soveel van ʼn mediaherrie, hooggeplaaste verontwaardiging en woede in die swart gemeenskap oor een moord wat dalk rassisties kon wees, terwyl duisende swart mense elke jaar aan die hande van ander swart mense sterf? Hoekom ʼn ophef maak oor een kind se moord terwyl daar stilte is as swart babas weens ondrinkbare munisipale water en nalatigheid deur swart personeel in staatshospitale sterf? Hoekom praat Supra slegs by een moordslagoffer se begrafnis? Hoekom beskryf hy nie ook openlik die slagting van boere en hul werkers ook as “misdadigheid” nie? Waar is die woede oor ander rasse se moordslagoffers wat deur swart moordenaars doodgemaak is?

 

Politieke korrektheid het veroorsaak dat hierdie vrae en hul antwoorde ons ontwyk in sulke situasies en die rassisme-blik dan net verder in die pad afgeskop word. Miskien was Mosweu se dood ʼn rassistiese moord, maar dit kon maklik ook nie gewees het nie en landdros Magaola Foso het juis aangedui dat daar nie ʼn sterk saak teen die verdagtes is nie. Mosweu was ook na bewering skuldig daaraan dat hy sonneblomme gesteel het. Hierdie voorval het net weer die dubbele standaarde rondom geregtigheid en rassisme in die soeklig geplaas en dit is ʼn weerligafleier vir ander ernstige probleme in plekke soos Coligny.

  •  
  •  
  •  
  •  
Dr. Eugene Brink Deur Dr. Eugene Brink


Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close