Algemeen, Ekonomie, SNI -

Cyril en sy span kameraadkapitaliste: Die klug van die beleggingskonferensie

R363 miljard is vanjaar tydens pres. Cyril Ramaphosa se beleggingskonferensie beloof. Met die eerste oogopslag klink dit na 'n ongelooflike verwikkeling en dit kom as uiters bemoedigend voor dat ondernemings steeds in ons land belê ten spyte van Suid-Afrika se sukkelende ekonomie met 'n werkloosheidskoers van 29,1% en ekonomiese groei wat steeds op 0% vir die jaar staan. Verteenwoordig dit dalk 'n draaipunt vir ons ekonomie? Ongelukkig nie.

Dit is waar dat Suid-Afrika tans 'n reusetekort aan investering beleef. Ná vyf agtereenvolgende kwartale van afname in ons bruto vaste kapitaalvorming het ons vir die eerste keer in 'n baie lang tyd 'n toename in Statistieke Suid-Afrika se nuutste BBP-vrystelling gesien. Ons is egter steeds nie eens waar ons tydens die Zuma-termyn was nie. Enige investering moet gevolglik seker verwelkom word, of hoe? Weereens, die antwoord is ongelukkig nee.

Die rede daarvoor is dat alle beleggings nie gelyk geskape is nie. Dit gaan baie meer oor wáárin daar belê word as bloot net dát daar belê word. Miljarde rande wat in bemagtigingsfondse, staatskuld en ander staatsentiteite gestort word, sal nie dieselfde uitwerking op produktiwiteit, welvaartskepping en die verhoging van lewenstandaarde hê as beleggings in suiwer ekonomies- en finansieel-gemotiveerde projekte nie. Hoewel hierdie beleggings dalk nie vanuit 'n ekonomiese perspektief sin maak nie, maak dit egter wel sin vanuit die onderskeie maatskappye se oogpunt gesien. Baie maatskappye in Suid-Afrika ding nie meer met hul mededingers mee om die beste, goedkoopste produk vir hul kliënte te lewer nie, maar eerder om die meeste guns by die regering te wen. Ons noem dit kameraadkapitalisme (crony capitalism).

Onder 'n suiwer kapitalistiese stelsel is daar net een manier om jou mededingers te klop: wees beter met die bevrediging van verbruikers se behoeftes teen 'n laer koste. Soos wat firmas mekaar dus probeer uitoorlê, wen die verbruiker al hoe meer elke keer wat een onderneming beter as 'n ander een presteer. Onder kameraadkapitalisme, soos wat ons in Suid-Afrika sien, is hierdie strategie egter nie moontlik nie. In Suid-Afrika is die staat so verweef in ons ekonomie en beskik dit oor sulke oorweldigende regulatoriese en wetgewende mag dat dit onmoontlik is om teen enige onderneming wat die guns van die staat geniet, mee te ding.

Ongelukkig maak mense dikwels die aanname dat omdat iemand die vrye mark ondersteun, dit beteken dat hulle ook outomaties enige privaat ondernemings moet verdedig. Dit is egter geensins die geval nie. Die privaat sektor, net soos die staat, bestaan ook uit mense. Hierdie mense gaan altyd dit doen wat hul eie belange bevorder. Daar is niks magies omtrent mense in die privaat sektor wat beteken dat hulle meer bevoeg is as diegene wat in die openbare sektor werk nie.

Die waarde van kapitalisme lê in die aansporings wat in die stelsel ingebou is. Kapitalisme – ware kapitalisme – gaan oor mededinging tussen ondernemings om verbruikers se behoeftes te bevredig. Ons sien weinig daarvan in Suid-Afrika. Weereens, nie as gevolg van die mense in die privaat sektor nie, maar as gevolg van die stelsel waarin hulle werk. Omdat die regering oor sulke mag beskik om alle mededinging deur middel van hindernisse tot toetrede te verbied, is dit meer voordelig vir maatskappye om die regering te paai as om in hul verbruikers se behoefte te voorsien.

Kameraadkapitalisme is, om die waarheid te sê, die teenoorgestelde van ware kapitalisme. Die klug van beleggingskonferensies is juis dit: Hierdie konferensies gaan nie, soos wat dit geadverteer word, oor 'n samekoms van sakelui en die regering om Suid-Afrika te bevorder nie. Dit gaan veel eerder oor sakelui wat hul kamerade in die ANC en pres. Ramaphosa vlei en die knie buig voor die regering in die hoop dat hulle uiteindelik, ná genoeg offerandes en skulderkenning geseën sal word met gunstige behandeling deur die staat.

  • 768
  •  
  •  
Morne Malan Deur Morne Malan


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close