DA se veranderinge kan kleiner partye laat floreer

Geskryf deur: Eugene Brink


‘n Belangrike les wat die onlangse Amerikaanse verkiesing my net weer geleer het, is dat ondanks al die praatjies oor die politiek in Washington wat by ’n dooiepunt draai, daar nie veel verskille tussen die twee hoofstroompartye is nie.

 

Die establishments in beide partye het as’t ware ’n stewige afjak by ’n groot deel van die kieserskorps gekry en die Republikeine kan ook maar baie bly wees Donald Trump was hul kandidaat, want hulle sou nie anders die verkiesing gewen het nie. Trump se geloofsbriewe as buitestander en sakeman wat sy mond onbeskaamd oor talle kwessies uitgespoel het, teenoor die beroepspolitici in albei partye wat met die gewone kieser op voetsoolvlak voeling verloor het, het uiteindelik die deurslag gegee. Hoe afstootlik sommige van Trump se kaperjolle ook al was, dit het nie meer saak gemaak nie. Baie mense, veral die plattelanders, was siek vir dekades se leë beloftes en verwaarlosing deur ’n elite wat duisende kilometer weg is en waarmee hulle glad nie kan identifiseer nie. Hillary Clinton het amper net so toksies soos Paul Ryan begin raak en prominente Republikeine sit en verknies hulle nou omdat hulle hul by Clinton geskaar en vir Trump in die openbaar verwerp het.

 

Hierdie verkiesing het als wat daar geglo is oor die veranderende demografie van VSA en veranderende waardes van Amerikaners in die geheel op sy kop gekeer. Selfs die Republikeine het gedink hulle moet nou net probeer om die Spaans-Amerikaners se stemme te probeer werf en polities korrek (lees: meer liberaal) optree en dan behoort hulle te wen. Reince Priebus, voorsitter van die Republikeinse Nasionale Kongres, het juis voor die verkiesing opgemerk dat vir die Demokrate om te wen hulle net goed hoef te wees, maar vir die Republikeine om te wen moet hulle volmaak wees. Die onjuistheid van hierdie stelling laat my instinktief aan iemand soos Jeb Bush dink. Hy is die broer en seun van twee voormalige presidente, die voormalige goewerneur van Florida en dus die prototipiese establishment-figuur. Hy het mooi polities korrek opgetree, sy vrou se Mexikaanse herkoms beklemtoon, vir Trump aangeval en gerepudieer en al die boksies wat sy party gedink het hy moet aftik, wel afgemerk. En wat het met hom gebeur? Dit was sommer vroeg klaarpraat met hom in die voorverkiesings.

 

Quo vadis DA?

 

Mmusi Maimane

Mmusi Maimane

Waarheen gaan ek hiermee en watter lesse moet ons as Suid-Afrikaners en Afrikaners, asook ons politieke partye, hieruit leer? Ofskoon ons nie heeltemal Amerika is nie, glo ek daar is ’n paar universeel-toepaslike lesse wat ons hieruit kan leer. Dit is vir my opmerklik dat namate die DA sterker en meer divers word, hoe meer rasbewus word die party. Daar is genoeg bewyse hiervan: Van die ongelyke veroordeling van rasgegronde misdade en haatspraak tot hul steun vir regstellende aksie tot hul nuwe beleid om kwotas op hul werwing en strukture toe te pas. Daar is nie ’n probleem met die DA wat organies meer divers raak nie, maar dis iets totaal anders om dit deur indringende ideologiese aanpassings en die toepassing van kwotas te doen. Dis iets waarvoor die party nie tradisioneel gestaan het nie.

 

Ek was aan die begin van die jaar by Mmusi Maimane, partyleier van die DA, se toespraak by die Apartheidsmuseum waar hy die Penny Sparrow-herrie probeer bylê en beloof het om rasseteikens te stel vir personeel en ledewerwing. Nou het dit ’n werklikheid geword. Soveel soos wat ek wel wil glo Maimane is ’n intelligente jong man wat, nes sy party, almal se belange op die hart dra, het ek besef hy is ’n kind van die struggle en dit het sy politieke sieninge en dogma grondig gevorm. Hy het dit selfs uitdruklik gestel in daardie toespraak dat sy grootwordjare in Soweto sy karakter ten diepste gevorm het. Hy het vandeesweek ’n foto van drie swart mans met bakstene in hul hande getwiet en daarop gesinspeel dat hulle wraak op die doodskis-verdagtes moet neem. Sy flou en dubbelsinnige verskoning ten spyt beskou ek as jong Afrikaner dit as uiters onvanpas en onaanvaarbaar. Ons het genoeg jong swart politici wat geweld en wraak aanhits en mens verwag beter van hom.

 

Ewenwel, ek is bevrees die DA beweeg al verder weg van sy klassiek liberale wortels. Die mense wat nou in groot getalle by die party aansluit is g’n liberaliste nie en is eintlik net moeg van die ANC se nie-lewering van staatsdienste. Hulle is nie ingeskakel by die ANC se korrupte netwerke nie en soek nou ’n nuwe voertuig om iewers baat te vind. Hulle sal net so afhanklik van ’n DA-beheerde staat wees soos hulle van ’n ANC-beheerde staat is. Helaas gaan die DA noodwendig saam met die samestelling van sy ondersteuners verander en meer sosiaal-demokraties (selfs sosialisties) en politiek korrek (en terselfdertyd rasbewus!) raak.

 

Mens hoef net na die inhoud op die DA se webwerf te kyk om te besef hoe die party homself omvorm het. Ek identifiseer steeds met baie van die party se verklaarde waardes, maar die fokus is sterk op werkskepping en regstelling en weinig op die verligting van die las van die werkendes en middelklas (lees: die mense wat die land dra). Dis tewens gerig op die verskaffing van dienste deur die staat aan die armes (sonder om natuurlik die kostes van hierdie groeiende welsynstaat te bespreek). Dis deurspek met verwysings na regte en onregte en is heeltemal te dun aan verantwoordelikhede en vryhede. Ek glo dis net ’n kwessie van tyd totdat die DA sy wit kiesers, en veral Afrikaners, grootliks gaan vervreem met hierdie benadering. Die party gaan uit voeling raak met die mense wat dit tot dusver nodig gehad het om die grootste opposisieparty te word en in die toekoms steeds nodig gaan hê om aan bewind te kom en bly.

 

Ons as Afrikaners moet ’n party oordeel op wat hy in praktyk doen (en nié doen nie) en nie die inhoud van sy mediaverklarings nie. Dis goed dat hulle allerlei klagtes teen korrupte ANC-ampsdraers lê en vermorsing asook die doodskis-verdagtes se gedrag veroordeel, maar hul gedrag is ook deurspek van dubbele standaarde. Hoekom by Kleinfontein betoog en nie by tradisionele Zoeloe-statte in KwaZulu-Natal nie? Albei het in wese tog dieselfde kulturele oogmerke en word deur die Grondwet daarin gerugsteun. Hoekom by die doodskis-verhoor betoog en dit prominent in mediaverklarings veroordeel, maar nie ook swart-op-wit moorde, die regering se onbillike toepassing van regstellende aksie en Julius Malema se aanhitsing tot geweld asook Tlou Molele se growwe rassisme nie? Hierdie vrae het nog altyd net dubbelsinnige antwoorde (indien enige) by DA-woordvoerders opgelewer en word nie in hul persverklarings uitgebasuin nie.

 

‘n Groot oorwinning in die kleine?

 

So wat hou dit vir die land se partypolitiek in? Myns insiens baie interessante verwikkelinge. Ondanks my bedenkinge oor die DA se mistastings wat dit besig om te begaan, glo ek nie die DA gaan heeltemal ’n presiese kloon van die ANC word nie want dit het nie die DNS van ‘n bevrydingsbeweging nie, maar dit toon dieselfde gebreke as die Amerikaanse hoofstroompartye en dieselfde politiek korrekte agenda is ook besig om dit algaande oor te neem. As dit voortduur, gaan daar later nie veel verskil tussen die twee grootste partye wees nie en hulle gaan ook omtrent ewe veel steun onder die swart gemeenskap geniet. Die DA gaan waarskynlik ook op ‘n dag ‘n groot afjak van wit kiesers by die stembus kry nes die establishment en veral Demokratiese Party in Amerika onlangs gekry het.

 

Hoewel die demografiese situasie hier anders as in Amerika is met die wittes wat in Suid-Afrika ’n minderheid vorm en daar ’n meerderheid, is hulle hier steeds ’n groot politieke faktor omdat hulle bloot in groter relatiewe getalle gaan stem as ander rassegroepe. Trump se oorwinning is per slot van sake grootliks teweeggebring danksy blankes se groter steun as wat die Republikeine in 2008 en 2012 by hulle gekry het. Die tipiese wit middelklas-siening is dat ons politieke geskiedenis dikteer dat swartmense getroue kiesers moet wees, maar dis glad nie die geval nie. Die ANC het met die steun van sowat 22% van stemgeregtigde kiesers vanjaar se plaaslike verkiesing gewen. Slegs 42.4% van stemgeregtigde kiesers het wel gaan stem. Politieke apatie is nie slegs ’n kenmerk van die jeug nie. Terwyl slegs 22.2% van mense in hul 20’s in Suid-Afrika in 2016 geregistreer is om te stem (en waarvan nog ’n kleiner hoeveelheid wel oplaas hul kruisies trek), is slegs 15.2% van mense in hul 50’s en 9.3% van mense in hul 60’s geregistreer om te stem. Verreweg die meeste van hierdie nie-geregistreerdes en nie-stemmers is swartmense en die DA moet sy wit kiesers bedank vir sy seges in die groot metro’s en elders in vanjaar se plaaslike verkiesing.

 

As die DA dan voortgaan om meer sosialisties en rasbewus te raak en die ANC toenemend uit voeling met sy kiesers op grondvlak raak, kan ’n paar goed gebeur. Die DA kan eerstens aanhou om ontnugterde en vervreemde swart ANC-kiesers te werf en dienooreenkomstig beleidsrigtings te aanvaar wat met hierdie toevoegings strook.

 

Tweedens kan kleiner partye hierby baat. Die EFF, indien dit nie maar net weer met die ANC ná pres. Jacob Zuma se vertrek saamsmelt nie, kan ook ’n klomp van die swart nie-stemmers vir hulle laat stem en ook jonger ANC-kiesers bykry omdat dié voel die establishments in albei partye ignoreer hulle. Die VF+ het ook sekerlik sy grootste venster van geleentheid sedert sy ontstaan gekry. Baie Afrikaners voel nou maar eenmaal net nie tuis by die DA nie en daardie gevoel kan groei namate die DA homself herskep. Ditto heelwat konserwatiewe wit Engelssprekendes en Afrikaanse bruines. Met ’n nuwe leier aan die stuur van die party is dit moeilik om te voorspel wat die VF+ vorentoe gaan en kan doen, maar hul groei kan aansienlik verstewig as hierdie kanse ontgin word. Soos wat die meerderheid hul steun meer versprei en terselfdertyd ook apaties bly, gaan minderhede en nispartye al hoe belangriker word in koalisiepolitiek.

 

 

  •  
  •  
  •  
  •  
Deel hierdie:

2 responses to “DA se veranderinge kan kleiner partye laat floreer”

  1. Lanklaas so goeie weergawe en uitlegging van politieke omstandighede gelees. Baie dankie Eugene, sien uit na n volgende !!!

  2. Hey very nice blog!

Leave a Reply

Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close