Die vakbond Solidariteit het vandag 'n video van Jimmy Manyi, voormalige direkteur-generaal van arbeid en huidige regeringswoordvoerder, op YouTube geplaas waarin hy sê daar is 'n ooraanbod van bruin mense in die Wes-Kaap. Volgens Manyi werk die ooraanbod van bruines in die Wes-Kaap nie vir hulle nie. In die video sê hy hulle moet oor die hele land versprei word en hulle moet die oorkonsentrasie stop. Daar moet gekyk word waar in die res van die land 'n vraag na bruin werknemers is.

Lees Die Burger en The Star

Luister Solidariteitradio.

 

Die onderhoud was met Manyi in sy hoedanigheid as direkteur-generaal van arbeid op KykNet se Robinson Regstreeks gevoer en is in Maart 2010 uitgesaai.

 Tensy die regering Manyi se uitlatings repudieer en die voorgestelde wysiging van arbeidswetgewing terugtrek, sal dit as die regering se amptelike standpunt beskou word.

 Die voorgestelde wysiging aan die Wet op Gelyke Indiensneming, waarvolgens die nasionale demografie en nie die streeksdemografie in provinsies in ag geneem moet word, stem ooreen met Manyi se siening. Dit maak voorsiening vir 'n grootskaalse sosiale manipulasieprogram waarvolgens die hele land 'n presiese replika van die nasionale demografie moet wees.

Manyi het luidens Beeld ook op 12 Mei 2010 aan die Suid-Afrikaanse Federasie vir Staal- en Ingenieursbedrywe gesê dat absolute verteenwoordiging die enigste maatstaf vir gelyke indiensneming is.

 Daar is dus géén dubbelsinnigheid in die voorgestelde wysiging aan die Wet op Gelyke Indiensneming nie. Trouens, die wysiging is 'n duidelike weerspieëling van die invloed van Manyi se ideologiese raamwerk van verteenwoordiging. Dit is nie 'n onbewuste fout nie.

Solidariteit het Sondag aangekondig dat indien die voorgestelde wysiging aan die Wet op Gelyke Indiensneming na die letter geïmplementeer word, dit uiteindelik sal beteken dat bykans 80%, oftewel sowat een miljoen, van alle ekonomies aktiewe bruin mense in die Wes-Kaap oorverteenwoordig sal wees. As die wysiging aanvaar word, sal dit ook beteken dat meer as 300 000 Indiërs in KwaZulu-Natal hier oorverteenwoordig sal wees.

“Wat ons gedoen het met die syfers is om 'n spieël op te tel om die absurde gevolge van die ideologie van absolute verteenwoordiging te wys. Die ideologie is nou in 'n voorgestelde wetswysiging vasgevat. Ons stel voor dat die voorgestelde wysiging onmiddellik teruggetrek word,” verduidelik dr. Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit.

Solidariteit beklemtoon intussen ook dat die probleem met die wetsontwerp nie net by die weglating van die streeksdemografieprofiel van die ekonomies aktiewe bevolking lê nie. Ingevolge die huidige wetgewing kan huidige en toekomstige finansiële en ekonomiese faktore in berekening gebring word om te bepaal of 'n werkgewer aan die Wet op Gelyke Indiensneming voldoen. Daarbenewens kan die beskikbaarheid van gekwalifiseerde persone ook in ag geneem word. Hierdie kwessies word geheel en al uit die nuwe wet geskryf.  

 Klik hier om na die onderhoud met Jimmy Manyi op Robinson Regstreeks te kyk en klik hier om na die klankgreep van die onderhoud te luister.

Lees ook: Die Kaap is kwaad.

Kyk na die volledige onderhoud op Robinson Regstreeks.

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Dirk Hermann


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close