Algemeen, Gemeenskappe, My Werk -

Daar ís 'n toekoms vir alle jongmense in SA

Daar is 'n groot toekoms vir alle opgeleide jongmense in Suid-Afrika, ongeag hul velkleur. Die werkloosheidskoers onder jong wittes is byvoorbeeld onder die 5%, wat by verre die laagste onder al die rassegroepe is. Die rede hiervoor is die puik onderwys wat julle nog danksy goeie skole kry. Daarom is dit beslis nie nodig om moedeloos oor die toekoms te wees nie. Te veel hoor mens dat jong wit mense sê: “Wat help dit tog om te studeer, ek sal tog nie werk kry nie?” Dis sommer 'n simpel redenasie. Gewapen met 'n goeie kwalifikasie, is jou kanse baie beter om 'n véél beter werk te kry. Maar sonder kwalifikasies is jou kanse bitter skraal om werk te kry, al is jou vel nou watter kleur ook al. Die harde werklikheid is dat 'n mens sonder goeie opleiding nie in diens geneem gaan word nie.

Suid-Afrika ondervind 'n geweldige tekort aan opgeleide mense – van alle kleure. Hierdie tekort is só groot dat werkgewers dit as een van hul heel grootste probleme beskou. Dis vir baie besighede so 'n groot probleem dat hulle nie kan uitbrei of nuwe projekte begin nie. Daar is net nie genoeg opgeleide mense wat hulle kan aanstel nie! Die gevolg is dat die land se groeikoers 'n plafon bereik het. Ten spyte van die baie (swak opgeleide) werkloses, is daar sowat 500 000 oop poste in die ekonomie. Dit kan nie gevul word nie, want daar is nie genoeg opgeleide mense nie.

Onderwys- en opleidingstelsel

Die rede hiervoor is dat soveel as 80% van die land se openbare skole prakties nie in 'n werkende toestand is nie. Dit beteken dat daardie skole so swak is dat die meeste leerders wat uit die skole kom nie voldoende opgelei is om te kan werk kry nie. Die gehalte van die meeste se onderwys was so swak dat hulle selfs moeilik verder opgelei kan word.

Maar dis nie net sekere skole wat probleme ondervind nie. Naskoolse opleiding in die land het net so 'n knou gekry as gevolg van swak regeringsbesluite wat die stelsel benadeel het. Terwyl dit 'n skande is dat veral swart jongmense so deur die staat in die steek gelaat word, beteken dit dat die toekomspad oop is vir jongmense wat bereid is om op te offer en goeie opleiding te gaan soek.

Gesaghebbende publikasies soos die Britse The Economist sê dat die histories Afrikaanse skole nog wêreldklas is. Volgens hierdie tydskrif het die skole steeds 'n prestasiekultuur, ondersteun deur dissipline en kinders wat hard werk. Dit gee aan die meerderheid Afrikaanse kinders 'n groot voorsprong as dit by werksoek kom – en dit blyk ook uit die statistieke. Volgens wêreldwye opnames beklee die voormalige model C-skole se wiskundestandaard die tiende posisie in die wêreld, en is dit beter as in lande soos Amerika, Australië en Nieu-Seeland! Wiskundestandaarde is gewoonlik 'n aanduiding van die algehele standaard van skole, wat beteken dat ons skole wêreldklas is.

Universiteite

Gelukkig is daar nog talle uitstaande universiteite in die land! Daarom wag daar 'n blink toekoms op jongmense wat 'n goeie kwalifikasie aan 'n goeie universiteit verwerf en bereid is om hard daarvoor te werk. Daar is ongelukkig hopeloos te min wit jongmense wat aan universiteite gaan studeer. Waar 70% van jongmense in Europa aan 'n universiteit studeer, doen minder as 30% van wit jongmense dit in Suid-Afrika! Daarom bied Suid-Afrika sulke goeie geleenthede en is die mededinging vir geleenthede vir uitsoekwerk nie naastenby so sterk soos oorsee nie. Selfs semistaatsinstellings soos Eskom neem deesdae weer groot getalle wit jongmense in diens.

Kurkprop en grafgrawer

Jong gekwalifiseerdes moet net nie bang wees om onder te begin nie. Net 'n grafgrawer begin bo! Sorg dat jy tydens jou studies ondervinding begin opdoen, en begin onder op die leer as dit moet. Dit is moeilik om sonder ondervinding 'n goeie pos by 'n goeie werkgewer te los te slaan, maar as jy jouself bewys, kan jy soos 'n kurkprop boontoe skiet.

Mense praat vandag oor die krisis in swart opleiding en aanvaar dat wit jongmense goeie opleiding kry. Maar die klein getal wit jongmense wat deesdae gaan studeer, is regtig kommerwekkend. Dis onbegryplik hoe iemand dink dat hulle in 'n ingewikkelde ekonomie 'n goeie werk sonder opleiding kan kry. Die statistieke sê dat 'n derde van wit jongmense die skool verlaat voordat hulle matriek geslaag het. Nog 'n derde behaal matriek sonder universiteitstoelating. Die ergste is dat van die derde wat wel universiteit toe kan gaan, net minder as die helfte dit wel doen. Veral jongmans gaan studeer nie verder nie!

Natuurlik is dit so dat dit duur is, of dat mense ver van universiteite af bly, of dat jou ouers miskien nie gestudeer het nie en dat jy dalk dink jy is nie daarvoor uitgeknip nie. Maar niks in die lewe wat die moeite werd is, kom verniet of maklik nie. Die meeste mense wat groot sukses in die lewe behaal het, het groot opofferings gemaak; dit het nie maklik gekom nie. Maar opleiding bly steeds die beste belegging wat jy in jou eie toekoms kan maak. Moet dus nie skaam wees om deeltyds te werk terwyl jy studeer, of deeltyds te studeer terwyl jy werk nie. En moenie ophou as jy afgestudeer het nie. As jy jou werk geniet, word die leer lekker! Maak jou gereed vir lewenslange leer, want kennis verouder deesdae blitsvinnig.

Moet ook nie net mik vir 'n goeie werk by 'n goeie werkgewer nie. Hoekom kan jy nie self eendag 'n goeie werkgewer word nie? Daar is baie rigtings wat dit vir jou moontlik gaan maak om self 'n besigheid te begin, as jy regtig wil. Jy hoef nie 'n tien onderskeidingskandidaat hiervoor te wees nie. Ja, 'n mediese dokter kan sy eie praktyk hê, maar net so kan 'n haarkapper, sweiser of rekenmeester ook hul eie besigheid hê.

Tweede beste

Ons voorouers het 'n leidende rol gespeel om Suid-Afrika die voorste staat op die

vasteland te maak. Dis nou ons beurt. Maar om sukses te behaal, moet jy nooit met tweede beste tevrede wees nie – veral nie van jouself nie! Jy studeer lankal nie meer vir 'n onderwyser of vir jou ouers nie. Jy werk aan jou eie toekoms. As jy nie die beste vir jouself gee en gun nie, gaan niemand anders dit doen nie. Pak daarom die bul by die horings, moenie verskonings van jouself aanvaar nie, al is dit geldige redes soos armoede, moeilike huislike omstandighede of ander krisisse. Jy is dit aan jouself verskuldig om die beste van jou talente en jou kanse in die lewe te maak. Daarom, gebruik jou talente, leer vir jou 'n kwalifikasie los, en vervul jou roeping – dan lê die toekoms vir jou oop, veral in Suid-Afrika!

  • Miskien besef jy vandag vir die eerste keer dat min mense werklik bo begin! Hoe voel jy oor die feit dat jy nie 'n grafgrawer gaan wees nie?

Harder werk is dus deel van jou toekoms, maar ook jou kans om iets van jouself te maak.

  • Maar wat van die huidige situasie in Suid-Afrika, mag jy dalk nou wonder. Wat as jy nie 'n kans gegee word nie? Dirk Hermann sê dan: “Skep 'n kans vir jouself.”
  • 6
  •  
  •  
Flip Buys Deur Flip Buys


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close