“Die mense het ook kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak.  Toe die dissipels dit sien, het hulle met die mense daaroor geraas.  Maar Jesus het die kindertjies nader geroep en gesê: ‘Laat die kindertjies na my toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.  Dit verseker Ek julle: Wie die konkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.’ ” Lukas 18:15 – 17

Nie ‘n versie wat ek al baie aandag aan gegee het nie. Dalk sommer net omdat dit ‘n mooi versie is, maar tog nie een waaroor mens aanvanklik veel dink nie. Totdat jy daarmee gekonfronteer word.

Dit is vandag 10 Julie 2014. Sussie is vandag presies vier weke by ons. Na haar groot skrik van verlede Sondag wil sy net by ons in die bed slaap. Ons gee nie om nie, maar weet ook nie mooi hoe om die lyn te trek tussen haar behoeftes en ons eie privaatheid nie. Uiteindelik het ons nou 'n oplossing: In die week werk my man weg en dan slaap sy maar saam met my op ons bed en naweke moet sy in haar eie bedjie slaap. Sy is heel gelukkig daarmee. Dalk ook omdat sy tot nou toe nog nie ‘n band opgebou het met haar hartjie pappa nie. Sy groet hom nie sommer uit haar eie nie en ek moet haar gereeld aanpos om vir hom ‘n drukkie te gee of dankie te sê. My man is geduldig en glo hy sal stadig maar seker haar vertroue wen. Op Saterdag 5 Julie het ons vir die eerste keer by vriende gaan kuier met sussie. Al die vriende in ons vriendekring het nie kinders nie, so ons was 'n bietjie benoud oor hoe dit gaan afloop. Ek het seker gemaak sussie pak genoeg speelgoed in, en haar kombers en kussing is ook saam. Dit het toe wonderlik verloop en ons vriende het haar sommer dadelik aanvaar. Dit het natuurlik gehelp dat sy baie soet was en ons glad nie eers gepla het nie. Op Sondag 6 Julie was ons vir die eerste keer saam met sussie kerk toe. Al die vorige naweke was daar mense by ons huis of ons was weg. Sy sit soet in die kerk en blaai deur haar Kinderbybel. Ek dink nie sy het enige iets verstaan wat die dominee preek nie, maar ek glo God het met haar siel gepraat.

 

Soms is ek haastig en dis bietjie 'n gejaag in die oggend, ek het nou twee “vroue” om mooi aan te trek, en dit vat nogal tyd! In die haas vergeet ek partykeer om te bid, maar glo my, ek het nou 'n sussie wat my herinner dat ons nog nie gebid het nie. En ek dink net vanoggend dis wonderlik want voorheen sou ek net aangehou jaag het. Nou moet ek stop en bid, daar is ‘n klein gesiggie wat nie gaan toelaat dat ek dit vergeet nie.

 

Ons ouer dogter, sy is nou 16, het vir sussie geleer om geroosterde brood te eet. Eers wou sy dit glad nie eet nie, ons kom toe later eers agter dis omdat sy nie iets soos geroosterde brood ken nie. Nadat ons ander dogter haar geleer het wat dit is, is dit nou al wat sussie wil eet, oggend, middag en aand, 'n geroosterde broodjie met konfyt.

 

Dit is soms vir ons 16-jarige moeilik om te verstaan hoekom hierdie nuwe sussie soveel aandag vereis. Ek verduidelik een aand vir haar dat hierdie klein mensie nou eers 5 jaar oud is. Ek vra haar: “Wat sal gebeur as jy as 16-jarige nou van jou gesin, jou ouma’s en oupa’s en jou skool weggeneem word, en jy moet by vreemde mense in ‘n vreemde dorp gaan bly. Hoe sal jou hart voel?”. Dis asof sy nou ‘n nuwe begrip het vir kleinsus.

 

Dit was die tweede keer wat sussie die week gegaan het vir spelterapie. As ons daar is, is sy sommer stout. Sy doen goed wat sy glad nie by die huis doen nie, soos om sommer 'n ding uit die terapeut se hand te gryp. Ek moes vir die terapeut goed identifiseer wat sussie doen wat my irriteer. Ek het dadelik vir haar gesê dat ek nie irritasies het nie, maar dat goedjies wat sy byvoorbeeld doen, is om vir ons te skree, en dan moet ons dadelik aandag gee, anders skree sy oor en oor en oor totdat ons aandag gee. Iets anders wat ek genoem het, is dat sussie sommer in die middel van iets waarmee sy besig is, vir my sal sê: “Ek soek eers 'n drukkie”. Die terapeut het voorgestel dat ek haar dan sommer moet soen ook, wat ek in elk geval doen… Die terapeut het gesê dat hierdie tipe gedrag dui op babatrauma. Waarskynlik het sy vir ure gelê en huil en niemand het haar getroos of gehelp nie. Ek leer haar nou om te sê: “My mamma is lief vir my”. Elke keer wat ek vir haar sê ek is lief vir haar, moet sy herhaal “My mamma is lief vir my”. Dit help haar brein om te herken dat sy nou nie meer in gevaar is nie, dat daar iemand is wat reageer op haar behoeftes.

 

My geloof in God, God-Drie-enig, het die laaste twee weke geweldig versterk. Dis wonderlik om sonder enige twyfel te kan glo dat ek geen beheer het oor wat in hierdie kind se verlede gebeur het nie, en dat God in beheer is. Of sy nou blootgestel is aan satanisme, seksuele misbruik of wat ook al, al wie haar gesond kan maak is ons God. Ek vertrou totaal op God.

  •  
  •  
  •  
Deur Daleen Gouws


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close