Algemeen, Gemeenskappe, Godsdiens -

Dagboek van 'n pleegma – Ons het net Weetbix gehad om te eet

Dit is vandag 30 Junie 2014. Hartjie-mamma het nie sedert 19 Junie kans gehad om dagboek te skryf nie, ons was te besig! Op Donderdag 3 Julie sal ons pleegdogtertjie al 'n volle drie weke by ons bly.

 

Sedert sussie by ons geplaas is, het sy al drie keer gedeeltes van haar storie probeer vertel. Iets in die omgewing of 'n emosie laat haar terug dink aan waar sy vandaan kom, en dan begin sy stukkies van haar verlede vertel. Op 16 Junie was sy sommer huilerig en emosioneel. Toe ons al in haar bedjie lê die aand, het sy gesê sy wil weer by die tannie van die welsyn gaan speel, want die tannie speel lekker. Dis nou natuurlik een van die spelterapeute by die CMR. Daarna het dit uitgekom dat sy bekommerd is oor haar biologiese pappa. Sy was bang hy en haar nuwe pappa baklei. Ons verseker hierdie kindjie gereeld dat sy nou by haar hartjie-pappa en hartjie-mamma bly en dat sy oor niks hoef te bekommer nie, ons sal haar beskerm en veilig hou. Natuurlik bid ons elke dag vir die Here se leiding hiermee. Sy het daardie aand bietjie haar hartseer verwoord en gesê sy mis haar biologiese pappa en gaan vir hom gaan kuier, sy gaan op die bus klim met haar tas en vir hom gaan kuier, sy mis hom baie.

 

Op 17 Junie 2014 is ons dogtertjie vir die eerste keer kleuterskool toe. In haar verslaggie by die CMR staan daar dat sy wel al op 'n stadium na 'n skool gegaan het, maar nie lank nie. Sy het die kleuterskool geniet! Sy het vertel van die trampolien en die maatjies en toe ons die volgende oggend by die skool stop, het sy gesê “mamma hier is baie maatjies”. Daardie aand na haar eerste dag by die kleuterskool, het ons kouse aangetrek. Die kouse het haar herinner aan haar biologiese mamma. Sy het gesê sy kan nie mamma se naam onthou nie, maar haar mamma en pappa was getroud, toe baklei hulle baie. Sy het verder vertel dat mamma toe na 'n ander plek toe is, en dat pappa na haar en haar sussie gekyk het.

 

Ons dogtertjie begin hierdie week, op Woensdag 2 Julie, met spel- en bindingsterapie by die CMR saam met ons. Ons bid dat hierdie terapie haar sal help om haar breintjie te orden en totale vertroue in ons te ontwikkel.

 

Saterdag 28 Junie was haar kleinsussie se partytjie. Haar hartjie-pappa het haar partytjie toe gevat. Dit was nie vir haar baie lekker nie. Ouma en oupa by wie sy sewe maande gebly het nadat pappa haar daar gaan aflaai het, was ook daar. Sy wou niks van hulle weet nie en het aan haar hartjie-pappa geklou soos 'n apie. Die res van die naweek, dis nou nadat sy vir ouma, oupa en sussie gesien het, was ons dogtertjie nie lekker nie. Die emosies het haar deurmekaar gehad.

 

Die nag van 29 Junie was die eerste keer wat sy nie goed geslaap het nie. Ons het

ons dood geskrik. Sussie moes gedroom het, en het hard begin huil. Ek het opgespring en haar gaan optel. Ek het met haar op die bed gesit en wieg en vir haar Praat ek Mense Engeletale gesing. Dit het haar lekker rustig gemaak, maar sy wou toe graag eerder by ons in die bed kom slaap. My man het een handjie vasgehou en ek die ander handjie. Toe begin sy weer praat. Ek tik vir julle van die sinne wat ek kan onthou: “Mamma se huis se dak is nie soos die een nie. Mamma se huis het gebrand, toe koop sy 'n nuwe een. Ek het nie 'n bed gehad by my ander pa nie. Daar was net een bed. Ek moes by sussie slaap. Pappa en sy “girlfriend” het baklei en toe is sy weg en toe kon ek en sussie op die bed slaap by pappa. By my ander pappa was net Weetbix. Niks ander kos nie. En hy het nie geld gehad nie. Ons het net Weetbix geëet. Liewe Jesus praat met my. Hy sê vir my ek moet nie bang wees nie. Hoor jy hom? Die duiwel is ook daar, hy het 'n vurk. Daar was 'n hond, 'n groot hond. Al sy tande was uit. Hulle het dit uitgesny. Daar was katte ook. Toe gebeur daar 'n wonderwerk, die hond se tande was terug en hy het weer 'n klein baba hond geword, hy is weer terug na sy ander babas toe.”

 

Sy het gesukkel om weer aan die slaap te raak – was vreeslik bang. My man het vir haar opgestaan dat sy sien hy gaan kyk dat daar niks is nie, en dat al die vensters toe is. Ons het haar net rustig gemaak, getroos en vir haar gesê ons sal haar beskerm en by ons hoef sy nie bang te wees nie. Ek bid baie vir haar die Onse Vader en ek sing Praat ek Mense Engeletale en dan word sy sommer lekker rustig.

 

Ons bid elke dag die Here se beskerming oor hierdie kindjie. Ons glo hierdie kind gaan herstel. Dit lyk vir ons asof sy bietjie gewig opgetel het, sy het so klein pensie gekry en ons is sommer bly daaroor! Ons harte wil net hierdie kindjie beskerm. Sy verdien net die beste in die lewe.

  • 28
  •  
  •  
Daleen Gouws Deur Daleen Gouws


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close