Algemeen, Gemeenskappe, Godsdiens, Kultuur -

Dagboek van ‘n pleegma – ses weke!

Ses weke by die Gouwse

 

Dit is Sondag 20 Julie 2014. Ons is oppad terug Pretoria toe van my ouers se plaas af. Wat ‘n heerlike naweek. Ouma en oupa het hierdie dogtertjie bederf tot in die afgrond in. Baba bergbokkies het meer aandag van sussie af gekry as van hulle eie bok-ma af. Sy was tot by hulle in die hok… Ek het maar gelos, sal later bekommer oor vlooie…

 

Die afgelope week was sussie siek. Ek het ‘n goeie dosis ondervinding gekry saam met al die medisyne. Ek weet nou wat werk vir haar en wat nie. Ons huis het ook nou ‘n “nebuliser” vir toe borsies. Die week het ek een dag by die huis gebly en sussie twee dae saam ons getroue bediende, tannie Jeanette gelos. Van naar word van slym en ‘n deur mekaar magie van medisyne het ek ook nou geleer. Morsige spulletjie. Ek het wel opgelet dat die week se verandering in roetine wat oor die laaste vier weke opgebou is, haar weer deurmekaar het. Roetine is goed vir enige kind, maar vir hierdie dogtertjie is dit uiters goed. Dit help haar om te weet wat volgende gaan gebeur en dit verminder onsekerheid oor omstandighede. Roetine gee haar stabiliteit en gerustheid.

 

Sussie Bronwin het haar die naweek op die plaas leer perdry. Sy was nie eers bang nie en het met selfvertroue aan die perd se maanhare vasgehou. Sy het ook geleer dat saam die lekkerkry van perdry is daar werk, die perde is geborsel en daai klein handjie het presies geleer hoe om dit reg te doen.

 

Die maatskaplike werker het ook die afgelope week die eerste huisbesoek kom doen. Sy vertel dat sussie se biologiese mamma in September Pretoria toe wil kom en die kinders wil sien. Dit is soms moeilik om nie kwaad te raak vir die ma nie, maar wat help dit, ons bied nou vir sussie die beste wat ons kan. Hierdie ma’s het gewoonlik nie die vermoë om in so mate te sorg nie. Soms wonder ons ook of alles suksesvol gaan afloop September en of sussie wel vir twee jaar in ons sorg geplaas gaan word. Alles dui daarop, maar niks is ooit seker nie.

 

Dis Dinsdag 22 Julie. Ek sit by maatskaplike werk. Sussie speel met die tannie terapeut. Sy het opgewonde die foto’s op my foon van die naweek vir almal daar gewys. Die terapeut is verheug oor sussie se vordering en sê sy sien 'n groot verskil in hierdie kind. Wonderlike terugvoer vir ons.

 

Donderdag 24 Julie het ons 'n afspraak met tannie Zelda wat haar klein sussie se nuwe mamma is. Dit is sodat die twee sussies mekaar nie vergeet nie en kontak behou. Ons ontmoet mekaar by Spur. Toe die twee sussies mekaar sien, hou hulle mekaar styf vas vir 'n rukkie. My trane begin sommer dadelik loop. Hierdie twee het mekaar gemis. Toe die groetery klaar is, speel die twee asof hulle nie einde het nie en dis te wonderlik vir ons om te aanskou!

 

  •  
  •  
  •  
Daleen Gouws Deur Daleen Gouws


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close