Algemeen, Gemeenskappe, Godsdiens, Kultuur -

Dagboek van 'n pleegma: Vyf jariges, 'n nuwe baba, en satanisme…

Daar is so baie goed wat ek moet deel. Ek vergeet meer as die helfte.

 

In die pleegoueropleiding is ons gewaarsku dat 'n pleegkind 'n hele gesin se goeie balans kan deurmekaar maak. Nie omdat die kind wil nie, net omdat dit gebeur. Hierdie kinders het soveel emosies en ervaringe, tog het hulle nog nie die kognitiewe vermoë om onderskeid te tref tussen dit wat hul voel en dit wat hul doen nie.

 

Ons moet hulle leer van oorsaak en gevolg, van besluite neem, van onderskeid tref tussen reg en verkeerd. Hierdie kind is vyf en ek, met geen ondervinding, moet haar al hierdie dinge leer? Ken ek ooit die verskil tussen al die goed? Doen ek dit ooit reg?

 

Ek het geleer dit maak nie saak nie. Ek bid en glo.

 

Wanneer sussie moeilik raak, moet ons soms mooi dink voor ons reageer. My man wonder oor hoe hy moet onderskei of die gedrag wat sy toon gewone 5-jarige gedrag is, aandagsoekery, gedrag as gevolg van trauma, as gevolg van 'n sneller (“trigger”) of sommer net stoutigheid is. As ons deurmekaar is, dink hoe voel daardie breintjie! Maar ons kom reg en ons glo dis net uit God se genade. Soos al voorheen genoem is daar niks soos 'n kind om jou nader aan God te bring en jou geloof te versterk nie. Glo my!

 

My suster se seuntjie word op 1 Augustus 2014 gebore en ons vertrek Vanderbijlpark toe vir die gebeurtenis. Ons is vooraf gewaarsku dat kinders onder twaalf nie in die kraamsaal mag ingaan nie en weereens sorg ons dat ons vir sussie lekker baie speelgoed inpak om haar besig te hou. Sy is so soet. Sy sit in die gang in die hospitaal en kleur in, hou haarself besig en steel die harte van menige verpleegster wat verby haar loop. Hulle dra sappies en watertjies aan en almal sê net hoe soet “ons” kind is. Dit was 'n heerlike voorreg! Ons wys klein Rickus vir haar deur die venster, sy sê net “Aah cute, hoekom lag hy nie?”. En verder stel sy nie veel belang nie.

 

Satanisme. Maatskaplike werk het ons al 'n paar keer bewus gemaak dat daar tekens is dat sussie se biologiese mamma en pappa met satanisme betrokke is. Eers maak dit my bang. Ek dink baie daaroor en besluit ons moet ons houding hieroor reg kry. Ek bid al hoe meer vir haar die Onse Vader. God sê tog as jy nie weet wat om te bid nie, bid die Onse Vader. Aanvanklik het ek Praat ek mense engeletale gesing om haar rustig maak, nou sing ek elke aand ook die Onse Vader. Een van my kollegas se mans het eendag genoem dat ek en jy tog geen mag het nie. Ons kan nie bid “Ek sê in die naam van die Here” nie. Wie is “ek”? Dit het my attent gemaak daarop dat ek niks is nie. Dat God slegs déúr my werk. So ons moet bid: “Here, verlos hierdie kind van bose geeste”.

 

Maatskaplike werk laat weet ook dat sussie se biologiese mamma nou begin het om die maatskaplike kantoor in Bloemfontein te besoek en probeer om haar lewe reg te ruk. Pappa was nog nie daar nie en het nog glad nie op oproepe of versoeke van maatskaplike werk gereageer nie. Dit het ook geklink of mamma wil deur kom Pretoria toe vir die hofsaak van die 11de September, maar ons het die week weer gehoor dat sy nie meer kan nie. So ons weet eintlik glad nie wat om te verwag nie.

 

Ons hou kontak met oupa en ouma by wie sussie vir sewe maande gebly het. Sussie bel hulle een keer per week en ek stuur gereeld foto’s deur middel van my foon. Ek neem egter die besluit dat hierdie mense ook mos nou groot is en vir ons kan laat weet as hulle vir sussie wil sien. Hulle is volwassenes. Daarom gaan ons eers nie besoeke van ons kant af reël nie. Hulle het tot nou toe nie versoek om haar te sien of om vir haar te kom kuier nie. Die reaksie wat ek kry op foto’s wat ek stuur is maar kortaf en sê nooit veel nie. Vra nooit om liefde te stuur of 'n drukkie te gee nie. Verlede week het ek vinnig met ouma gesels en selfs genoem dat hulle net moet laat weet as hulle vir sussie wil sien, maar ek het niks weer gehoor nie.

 

Verder is dit net ons. Ek, pappa Philip, Bronwin en sussie. En ons geniet mekaar en gee mekaar liefde en aandag.

  • 30
  •  
  •  
Daleen Gouws Deur Daleen Gouws


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close