Dagboek van ‘n pleegma – week 2

Dit is Donderdag 12 Junie 2014.  Ek het verlof geneem by die werk.  Ons moet 09:00 vir sussie gaan oplaai by ouma en oupa se huisie in Pretoria Wes.

 

Daar aangekom, kyk ek rond maar sien nie dadelik vir sussie nie. Ek gaan sit maar saam die ander om die tafeltjie. Die maatskaplike werker, ouma en oupa, en die mense wat na die dogtertjie se sussie gaan omsien. Die maatskaplike werker het reeds apart met elke party gepraat, maar verduidelik weer vir almal. Die hof het op 11 Junie 2014 beslis dat die twee sussies vir ‘n periode van 90 dae elk in aparte plek van veiligheid geplaas moet word. Na die periode moet ons almal op ‘n spesifieke datum in die hof verskyn, saam met die sussies. Hier gaan die maatskaplike werker haar verslag bekendmaak wat sy saamgestel het tydens die 90-dae-periode-ondersoek.

 

Maar vir nou gaan dit oor die welstand van twee klein mensies. Tussen die gesels deur het sussie ingehardloop gekom en op my skoot kom spring. Ons staan op om haar tasse te gaan pak. My hart krimp ineen. Ek wens ek kan sommer net al hierdie ou goed hier los, haar verlede agter los, net hier in die bedompige huisie wat na ou rook ruik. Maar ek weet ek het in die pleegouerboek gelees dat hierdie mensies baie erg is oor hulle goedjies en ek pak. Twee tasse vol. Ek het net een tas saam gevat, en moet ‘n tas by die ander pleegmamma leen. Tasse gepak sê die maatskaplike werker dis dalk goed as ons nou groet en ry. Ons nuwe dogtertjie groet ouma en oupa en die tannies vriendelik. Ek klim met haar op my skoot in die kar, veiligheidsgordel aan, ry ons. Terwyl ek hierdie week se dagboek tik, reik ‘n klein handjie uit na my om vasgehou te word. Ek tik dus nou met een hand! Een van die vele nuwe dinge wat ek geleer het ek kan doen, sedert ons haar opgelaai het. Ek is nou wel nie ‘n biologiese mamma nie, maar ek is seker baie vaardighede steek kop uit wanneer jy na so klein lyfie moet omsien.

 

Ons is terug by ons huis, sussie se nuwe huis. Ek waarsku dat sy moet wag voor sy uit klim, want die honde gaan so bly wees om haar te ontmoet, dat hulle haar dalk sal omspring. Ons klim dus uit en doen ‘n bekendstelling tussen haar en die honde, laai tasse uit en loop huis se kant toe. Voor die deur, bid ek eers vir my nuwe dogtertjie, seën haar met God se genade en reinheid. Die arme kind weet seker nie wat hierdie tannie doen nie. Ons wys vir sussie haar nuwe kamer. Sy is verstom. Staan in die middel en draai in die rondte. Later kry ons haar weer waar sy net staar na alles in haar nuwe kamer.

 

Ons begin tasse uitpak. Die rook reuk in die kleure oorweldig my. Ek besef ek sal eers al die kleertjies moet was voor ek dit in haar nuwe kas pak. Sussie pak solank haar speelgoed uit. Ek begin met die wasgoed.

 

Later vra ek of sy ietsie wil eet. ‘n Konfytbroodjie en bietjie water asseblief. Ek is baie bly, want iemand het gesê sy wil niks eet nie. In die kombuis ontdek ek ‘n pers kinderglasie met ‘n strooitjie aan wat ek destyds vir een van my neefs se kinders gekoop het. Dit maak haar hartjie bly en is nou haar glasie vir alles. My Yorkshire Terrier hondjie, Coco gaan sit by sussie en word gedoop “my hondjie”.

 

Later laat weet ek die maatskaplike werker: “Wou net laat weet gaan baie goed met sussie. Sy was nog net “happy” gewees. Ons het lekker met die honde gaan stap en sy het dit so geniet en geskaterlag. Na ‘n bad en haartjies bietjie mooi behandel lyk sy soos ‘n ander dogtertjie as wat ons opgelaai het vanoggend. Maklik aan die slaap geraak en nog glad nie hartseer gewees nie. Sy is erg oor haar goedjies, so ek het seker gemaak sy help wegpak en weet waar als is. Sy is baie gemanierd. Sy het baie goed geëet vandag en baie water gedrink. Sy het haar ‘Kleure’ boek vanaand heeltemal klaar gemaak, alles reg omlyn en reg by mekaar gepas, so was baie trots op haar. Lekker aand vir jou!”

 

Maatskaplike werker laat weet terug: ” Ai Daleen jy is ‘n ster! Bly sy eet, hondjies is wonderlik nê! Wat dink sy van haar kamer! Eintlik so ontstellend dat sy nie ‘n traan stort nie – nooit dan seker heeltemal gebind met iemand nie! Dankie vir die terugvoer waardeer baie.”

 

Ek doen moeite om haar vas te hou, gereeld drukkies en soentjies te gee. Ons moet seker maak sy bind met ons. Slaaptyd gaan lê ek by haar in haar bed. Dan lees ons Bybel. Nie een nie, maar drie tot vier stories. Dan bid ons, ek bid, en sy sê agterna. As sy slaap, klim ek uit, sit die lig af, maar los die gang en badkamer se lig aan. Ek is nogal moeg in die aande. Soveel verantwoordelikheid en ek weet niks van kinders nie. Maar ek glo en vertrou dat hierdie liefie oor ons pad gestuur is met ‘n doel.

  • 44
  •  
  •  
Daleen Gouws Deur Daleen Gouws


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close