Dagboek van 'n pleegmamma – Week 1

Ek skryf hierdie dagboek as ‘n storie sodat die kindjie in ons sorg dit eendag kan lees en kan weet hoe dit gekom het dat sy in ons sorg geplaas is. Ek sal elke week ‘n blog skryf, sodat julle ook haar storie kan volg. Daar is die nodige toestemming verkry by die CMR om hierdie inligting te publiseer en jul sal verstaan dat sekere inligting nie gepubliseer kan word nie, wat ek dus net uitlaat. Hiermee dus my eerste blog:

 

Die heel eerste week.

 

Vandag is 'n groot dag. Die emosies loop oor. Dalk het ek ma-hormone wat nou iewers uitklim…

 

Sowat twee weke gelede het ek en my man geregistreer vir pleegsorg. Ons dink al geruime tyd daaroor, het al vroeër navraag gedoen, maar dit nooit verder geneem nie. Deur 'n kollega vind ons uit van 'n maatskaplike werker. My man het haar gekontak en ons het 'n afspraak op Vrydag 23 Mei 2014 om 13:00. Wat 'n gemaklike mens en ons kom dadelik oor die weg. Ons moet 'n boek oor pleegsorg lees en in Junie gaan vir opleiding. Ons vul jare se dokumentasie in, kry getuigskrifte en polisieklarings en alles is in.

 

Woensdagoggend 4 Junie skakel die maatskaplike werker. Daar is 'n 5-jarige dogtertjie en sy wil hoor of ons kans sien. Die dogtertjie bly by haar ouma en oupa en die omstandighede is van so aard dat hulle nie meer na haar kan omsien nie. Terwyl die maatskaplike werker praat en praat oor die kindjie se verlede, vermoëns en alles, neem ek net notas. Sê nou ek vergeet iets wat ek vir my man moet oordra? Ek dra die notas nou nog in my handsak, sodat ek die inligting naby het.

 

Dis Vrydag, 6 Junie 2014. Ek en my man moet die dogtertjie gaan ontmoet. Haar ouma en oupa wil ons ontmoet en ook sien hoe ons huis lyk, so ek moes foto’s neem. Ek is bang. My man sê net ons doen dit want ons kan 'n verskil maak in haar lewetjie. Dis al wat ek die hele tyd onthou. Ek bid dat Jesus ons sal krag en leiding gee om wel 'n verskil te maak. Toe die maatskaplike werker gebel het, het sy gesê dat die dogtertjie nie weet wie Liewe Jesus is nie. Wat 'n groot verantwoordelikheid lê op ons en wag om hierdie kindjie al hierdie dinge te leer? Ek dink by myself dat Jesus te groot is, hoe gaan ek haar ooit alles van Hom leer?

 

Ons afspraak is om 15:00. Ek het die adres en my man ook. My man werk in Kroonstad op 'n projek en moet van daar af ry. Ons gaan vandag ons hartjie-dogtertjie ontmoet. Ek weet sy is nie “ons” sin nie. Maar ek weet dat ons haar sal beskerm. En ek weet dat ek vir haar die mamma wil wees wat sy nog nie gehad het nie. Al kom sy nie uit my en my man nie, het God haar oor ons pad gestuur. En watter grote voorreg is dit nie? Ek het 'n kindjie gekry wat God vir my uitgekies het, nie een wat in my ontwikkel het nie, maar 'n spesiaal gekiesde een wat tussen 'n klomp van die lewe se hartseer en deurmekaarspul deur God se hand na ons toe gaan kom. Hoe geseënd.

  • 39
  •  
  •  
Daleen Gouws Deur Daleen Gouws


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close