Algemeen, Gemeenskappe, Nuus, Politiek, SNI -

Dagga-uitspraak: Vra ons die regte vrae?

Die onlangse uitspraak in die konstitusionele hof wat die kweek en gebruik van dagga in private plekke wettig, het my op meer as een manier verras. Die twee grootste verrassings was egter dat ek eerstens onkant gevang is deur die groot mate van media-aandag wat die saak geniet het en deur hoe sterk mense daaroor gevoel het. Tweedens het die konstitusionele hof se beslissing my op sigself verras bloot omdat ek nie daardie uitkoms sou voorspel nie. Dit is om die twee redes dat ek besluit het om 'n artikel te skryf al was die saak, in die lig van al die potensiële eksistensiële krisisse wat ons land beleef, geensins die mees wesenlike nie.

Indien u my skryfwerk volg, selfs al is dit maar vir 'n kort rukkie, dan sal dit geensins vir u 'n verrassing wees dat ek nie die grootste aanhanger van ons konstitusionele hof is nie. Trouens, ek het bitter selde 'n goeie woord oor vir dié instelling wat homself skynbaar die taak toegeëien het om van ideologie wette en van wette versinsels te maak. Dit mag u dus in hierdie geval verbaas om te lees dat ek, wat hierdie betrokke saak betref, die hof inderdaad ondersteun. Toegegee– dagga is sleg ek weet, maar volg asseblief net my argument voordat u die venster op u foon of rekenaarskerm toemaak en my in die kommentare op Facebook kap.

Ek dink dat die meeste mense aan beide kante van hierdie debat ongelukkig die werklike vraag wat hier ter sake was, miskyk. Hulle lewer kommentaar op bysake en vergeet van die kernbeginsels, en moenie hierdie verskynsel geringskat nie, want hoe meer 'n mens jouself daaraan skuldig maak om op die bysaak te konsentreer, hoe groter is die kans dat die ware beginsels verlore gaan.

Die vraag voor die hof was nooit of die gebruik van dagga goed, sleg, of moreel neutraal is nie. 'n Mens kan dus nie nou sê dat die gebruik van dagga goedgekeur moet word, of dat almal dit behoort te aanvaar nie. Wat dit betref, is diegene wat dit onaanvaarbaar ag verkeerd, maar ook diegene wat dink dat almal nou hul gebruik van dagga moet steun. Die kernvrae waarop dié uitspraak antwoord, het te make met privaatheid en vryheid.

As ons dit dus kan herformuleer, was die vraag nie of mense dagga in private plekke behoort te kweek en gebruik nie; die vraag was veel eerder of die regering oor die mag beskik om aan mense voor te skryf wat hulle in private plekke mag en nie mag doen nie met betrekking tot hul eie liggame.

Natuurlik geld verskeie eksternaliteite in hierdie geval. Uit die aard van die saak is dit so dat wanneer 'n mens se gebruik van dwelms inbreuk maak op 'n ander se regte, soos wanneer veiligheid op die spel is as mense onder die invloed bestuur, dan het die regering die volste reg om in te tree en een persoon se regte teen 'n ander se onverantwoordelikheid te beskerm. 'n Mens kan ook aan ander voorbeelde dink, maar om op hierdie aspek te fokus, sou weereens die kernpunt van die saak miskyk.

Vryheid is nie 'n deug wat natuurlik in mense se harte lê nie. Ons is geneig om te sê dat omdat ons nie van 'n bepaalde gedrag hou nie, dit daarom onwettig verklaar moet word. So val ons almal in die lokval dat ons al hoe meer mag aan die staat oorhandig. Mense raak woedend wanneer hulle gedwing word om iets te doen, of om dit nie te mag doen nie en ondersteun vryheid net wanneer dit betrekking het op die sake wat hulle ondersteun. Ongelukkig werk dit nie so nie. Daar is, myns insiens, geen waarde wat hoër geag behoort te word as vryheid nie. Dit beteken egter dat ons ander ook die vryheid moet gun om met hul eie lewe te maak soos wat hulle goeddink. Jy hou dalk van die reëls wanneer hulle met jou waardes strook, maar oppas as daardie reëls eers teen jou draai. En dit sal, want die aard van die staat is nie om sy mag in te perk nie, maar om dit eerder toenemend en voortdurend uit te brei. Dit is dalk lekker as die staat jou werkgewer dwing om van 'n vergunning 'n verpligting te maak en die betrokke vergunning jou pas. Dit is heeltemal iets anders as die staat jou werkgewer dwing om rassekwotas te haal, diskriminerende aandeleskemas saam te stel of om slegs besigheid met sekere verskaffers te doen.

Vryheid is moeilik. 'n Mens se vennote in die bevordering daarvan is dikwels nie mense wie se gedrag jy goedkeur nie. Glo my, dit is vir niemand meer uitdagend om dit te erken as vir my nie, want – en dit grief my om dit te moet sê –in hierdie geveg was die konstitusionele hof vir 'n slag my vennoot.

  • 92
  •  
  •  
  •  
Morne Malan Deur Morne Malan


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close